Is die Bybel ’n gevaarlike boek?

Prof Thomas Römer is ’n Duitse Ou Testamentikus wat verbonde is aan die Universiteit van Lausanne in Switserland, en rektor is van die Collége de France, ’n prestigeryke navorsingsentrum in Parys. Hy is ook ’n gasdosent by die Universiteit van Pretoria waar hy onlangs op uitnodiging van die rektor ’n openbare lesing gelewer het oor die vraag of die Bybel ’n gevaarlike boek is. Neels Jackson doen verslag.

Die Bybel is nie bo tyd verhewe nie. ’n Mens moet die omstandighede waarbinne dit ontstaan het, sowel as die omstandighede waarin ons leef in ag neem by die lees daarvan. Doen jy dit nie, word die Bybel gevaarlik, het Römer gesê.

Hy het verskeie voorbeelde genoem van hoe die Bybel in die verlede op skadelike wyse gebruik is. So is die verhaal van Adam en Eva en die verbode vrug gebruik om manlike baasskap oor vroue te regverdig. Die vloek oor Gam se nageslag in die Noagverhaal is gebruik om slawerny te regverdig. En die skeiding tussen God se uitverkore volk en ander volke in Deuteronomium is gebruik om apartheid te regverdig.

Volgens Römer is die beste manier om moeilike tekste in die Ou Testament te hanteer, nie om dit te ignoreer of om die Nuwe Testament te gebruik om dit te troef nie. Die God van die Nuwe Testament is dieselfde God as die God van die Ou Testament.

’n Mens moet die moeilike teskte ernstig opneem en hulle probeer verstaan.

As voorbeeld het hy na die verhaal van Kaïn en Abel in Genesis 4 gekyk om die oorsprong van geweld in die Ou Testament te verstaan. Hy het gesê die teks gee geen aanduiding waarom God Kaïn se offer nie aanvaar het nie. Hy konfronteer Kaïn egter met die ervaring dat die lewe nie altyd regverdig is nie. Dit is iets wat elke dag met mense gebeur. Dit begin al in die kleuterskool.

God verwerp egter nie vir Kaïn nie. Hy maan hom om hom nie deur sonde te laat beheer nie.

Nadat Kaïn vir Abel vermoor het, besef hy dat hy ’n spiraal van geweld begin het. God doen egter twee dinge om dié spiraal te verbreek. Hy belowe dat enigeen wat Kaïn vermoor, sewe maal gestraf sal word en hy gee vir Kaïn ’n teken dat niemand hom sal vermoor nie.

Römer wys daarop dat Kaïn ’n stad gebou het en dat beskawing by hom begin het. Sy nageslag het hierop voortgebou en musikante en metaalwerkers opgelewer. Dis eers sewe geslagte later dat Lameg weer die spiraal van geweld laat herleef.

Volgens Römer is geweld volgens Genesis 4 deel van menswees. Dit is nie vir God iets vreemds nie. God wil, egter hê dat mense moet leer om dit te hanteer pleks daarvan om dit te laat eskaleer.

Nog moeilike tekste is die wraakpsalms, soos Psalm 137 wat eindig met die uitspraak: “Gelukkig is hy wat jou babatjies gryp en teen ’n klip verbrysel.”

In die Joodse en Christelike tradisies is daar groepe wat hierdie gedeelte eenvoudig weglaat as hulle die psalm lees. Römer het dit egter nie as ’n goeie opsie beskou nie.

Hy het gesê ’n mens moet verstaan dat dit in die antieke tyd deel van oorlogsprakyk was om die vyand se kinders uit te wis.

Daarby moet ’n mens die psalm lees as ’n uitdrukking van intense ontwrigting. Dit kom van Jode in ballingskap wat geen manier het om in opstand te kom nie. Dit kan nie verstaan word as ’n politiek gebalanseerde of eties korrekte uitroep nie.

Dis ’n uiting van hoop dat die onderdrukking sal verdwyn. Dit kan egter misbruik word.

Römer het gesê ’n mens het die reg en die plig om soms te verskil van Bybelse tekste. Dit gebeur ook dat verskillende Bybelse tekste soms teenoorgestelde dinge sê. So skryf Paulus op een plek dat ’n vrou moet stilbly in die samekomste van gelowiges, maar op ’n ander plek skryf hy dat daar in Christus geen verskil is tussen man en vrou nie.

Hy het daarop gewys dat daar ook Bybeltekste is wat wraak ontmoedig. Een daarvan is die opdrag in Levitikus 19:18: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teen ’n volksgenoot nie.”

Daarby het Römer na die Noagverhaal verwys en gesê God het aanvanklik op die geweld van die mense gereageer met die geweld van die vloed. Maar dan neem God self die moontlikheid weg dat Hy dit ooit weer sal doen. Hy belowe dat Hy nooit weer so ’n ramp sal laat plaasvind nie.

Hierdie teks beklemtoon die voorrang wat deernis bo geweld moet geniet. Dit relativeer alle ander tekste wat God gewelddadig en wraaksugtig laat lyk.

Römer het ook na die verhaal oor Israel se inname van Kanaän en na tekste oor geslagsongelykheid gekyk om aan te toon hoe ’n goeie interpretasie van hierdie tekste ’n mens kan help om nie van die Bybvel ’n gevaarlike boek te maak nie.

One thought on “Is die Bybel ’n gevaarlike boek?

  1. W. Herholdt says:

    Wie is ‘n Volksgenoot?

Comments are closed.