Metodiste: Skeiding dreig in VSA

Die United Methodist Church (UMC) in die VSA dreig om te skeur oor LGBTIQ+-regte. Dié aankondiging is op 4 Januarie deur die leierskap van die UMC gemaak. Die UMC het byna 7 miljoen lidmate en is die grootste hoofstroom Protestantse denominasie en derde grootste Christelike denominasie in die VSA.
Fox News berig, die UMC se dreigende skeuring gaan oor die verskillende standpunte oor selfdegeslaghuwelike en die insluit van gay predikante. “Die nuwe konserwatiewe ‘Tradisionele Metodiste’ denominasie wil nie selfdegeslaghuwelike en gay predikante in die kerk toelaat nie,” luidens ʼn aanhaling in die berig.
Dr. Dan DeWitt, direkteur van die Sentrum vir Bybelse Apologetiek en Publieke Christenskap aan die Cedarville Universiteit in Cedarville, Ohio het aan CBN News gesê dat daar spanning in die kerk heers tussen die tradisionele en meer liberale siening oor LGBTIQ+-regte. “Dit gaan hoofsaaklik oor Skrifgesag en die Bybelse verstaan van menslike seksualiteit. Die outoriteit en interpretasie van die Bybel as God se Woord is een van die grootste fundamentele verskille,” het DeWitt gesê.
Biskop Karen Oliveto, die UMC se eerste amptelike gay biskop het aan Fox News gesê sy is regtig hartseer dat die UMC nie ʼn brug van eenheid te midde van diversiteit en verskille kon bou om ʼn getuienis vir die wêreld te wees nie. – Jacobie M Helena

Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Metodiste: Skeiding dreig in VSA

  1. Charmain says:

    Dit is die LGBT aktiviste wat verantwoordelik is vir die skeuring in die UMC.

Comments are closed.