‘Ons hart lê in die platteland’

“Die ou tannie van Piketberg het my die oggend na haar man se dood gebel en gesê: ‘Vanoggend het ek niemand. Ek het ’n kluisenaarsbestaan gevoer om my man te versorg. Maar vandag het ek darem nog Radio Kaapse Kansel.’”

Vir Kosie Burger, bestuurshoof van Radio Kaapse Kansel 729AM maak stories soos dié alles die moeite werd.

“My hart lê in die platteland. Daarom is dit vir my so lekker dat Radio Kaapse Kansel 729AM dorpe soos Malmesbury en Langebaan bereik wat nie deur ander Christen-radiostasies bereik kan word nie.”

Burger vertel dis juis wat hulle “uniek” maak – hoewel hulle ’n gemeenskapsradiostasie is, bereik hulle daagliks sowat 60 000 luisteraars in die Wes-Kaap volgens onlangse navorsing deur Freshly Ground Insights Global.

Maar, sê Burger, om in ’n 200 km-radius te kan uitsaai kos geld. Hiervoor het hulle ’n AM-sender nodig wat hulle maandeliks R160 000 uit die sak jaag.

“Die sender is op die Klipheuwelpad opgerig en maak dit vir ons moontlik om van Vredenburg tot in Hermanus uit te saai. En van Worcester tot Kaappunt,” vertel Burger.

Volgens Burger het ander gemeenskapsradiostasies dikwels FM-sen­ders wat ’n heelwat kleiner gebied se uitsaai moontlik maak.

Burger meen hulle resep is hoofsaaklik drieledig – die uitdra van die boodskap van die Bybel, om luiste­raars toe te rus met aktuele en insiggewende inligting en om gemeenskappe te bedien met projekte wat ’n impak maak.

“Ons Mosambiekprojek laasjaar het enorme aftrek onder die publiek gekry. Ons het drie vrag­vliegtuie met produkte vanaf Pretoria aan hulle gestuur,” aldus Burger.

“NG gemeentes is ons ook baie goedgesind en hiervoor is ons baie dankbaar. In 2019 het ek sowat 80 uitnodigings vanaf NG gemeentes ontvang waar ek dan meer van ons radiostasie gaan vertel het. Die gemeentes gee dan dikwels hulle kollek­te wat hulle tydens dié ere­diens ontvang het aan Radio Kaapse Kansel.”

Dié programme kry die meeste aftrek op Kaapse Kansel:

  • Getuienisse
  • Nuus
  • Perspektief op nuus
  • Opvoeding
  • Kunste
  • Sport