‘’n Groot geskenk maar ook pyn, skaamte en ontnugtering’

Dr Gideon van der Watt, voormalige uitvoerende amptenaar van Bediening: Vennote in Getuienis van die NG Kerk Vrystaat, kyk terug oor sy bediening van 40 jaar in die NG Kerkfamilie.

My 40-jaar-bedieningstyd in die NG Kerkfamilie was ’n groot geskenk, vol ryke er­varings en momente om jou aan te ver­wonder, maar dikwels ook pyn, skaamte en ontnugtering. Sedert my legitimasie in 1980 het die wêreld verander, al hoe vinniger. Die kerk was toe nog invloed­ryk, patriargaal en uitsluitend, bewaker van die “uitverkore volk” se vaste seker­hede teen die donker vrese in. By die Stellenbosch Kweekskool was ons teo­lo­giese klasse nog groot, tot 120 studente per jaargroep: Afrikaans, spierwit, man­lik, met vaste sekerhede as sjibbolet, met ’n handtekening (quia) bevestig. Jonk, naïef, optimisties en afgerig vir die bediening in ’n Afrikaanse, landelike of voorstedelike gemeente het ons die bediening betree. In die gemeenskap en gemeentes was leraars nog magtige manne (mighty men).

Maar in dié tyd het die roetwolke in die lokasies al hoe meer na rubber begin ruik … die gewaande sekerhede en mag het begin verkrummel. Reeds op Stellenbosch het profete ons gehelp om vrae te begin vra en ons oë vir siste­miese onreg oop te maak; hulle het ons geleer om met onsekerhede te leef – mense soos proff Willie Jonker, Jaap Durand, Nico Smith, Willie Ester­hui­zen, Johannes Degenaar, die jonger Dirkie Smit, Russel Botman en ander. “Onwettige” gesprekke met teologiese studente van die UWK het verder ge­help aan ’n ongemaklike afskeid van die onskuld.

Na ’n tyd as weermag-kapelaan (’n tyd waaroor ons geslag wit mans nou nog, 40 jaar later, sukkel om te praat en heel te word) was ek sendeling in Lesotho – die oord van waar MK en APLA terreur Vrystaat toe uitgevoer het (ek moes in die klein Vanstadensrus-gemeente in die vroeë tagtigerjare vier vermoorde boere begrawe). Dit was spannings­volle tye: Sonder selfoon het ek dae lank op ’n keer in Lesotho gewerk, op koue konsistorievloere geslaap terwyl my liewe vrou met ons twee dogtertjies alleen moes bly, aan die rand van Vansta­densrus se township, in ’n huis toe nog sonder diefwering. Maar op ’n manier was ons nie bang nie; die plaaslike swart mense en comrades in Lesotho het van die moruti geweet, en oog gehou in ’n tyd toe alles begin brand het. Jong vigilante het by ons aan huis kom tee drink en praat, my selfs ere-president van hulle sokkerspan gemaak (eintlik ter wille van die “transport” wat ek Sater­dagmiddae moes verskaf, het ek gou daarna uitgevind!), tot ontsteltenis van die veiligheidspolisie. Ek moes meer kere beëdigde verklarings aflê. Weer­loosheid was ook ’n soort besker­ming, het ons geleer.

In dié tyd het ek my DTh-tesis oor prof GBA Gerdener en die wording van die NG Kerk se sendingbeleid voltooi. Ek het dit nog met potlode, wat ek as troosryke ritueel met ’n knipmes skerp gehou het, oor en oor geskryf. Dit was die tyd voor rekenaars. Maar die teolo­giese wete het gegroei: Die kerk is die liggaam van Christus, die gemeenskap van begenadigdes; dit moet die merk­tekens (stigmata) van Christus in die wêreld dra. “Heil” is om deel van dié gemeenskap te kan wees en ander binne te kan nooi. Alleen as vreemdelinge in en priesters vir die wêreld sou die kerk se getuienis geloofwaardig kon wees. Magtig, selfversekerd en uitsluitend was die kerk nooit bedoel om te wees nie. Daar was baie gewaande sekerhede waar­van ons eers bevry moes word voor­dat die kerk soos ’n deernisvolle moeder kon word, priesterlik bewoë en profeties dapper.

Ek was diep dankbaar toe Kerk en Samelewing in 1986 jammer sê: Apart­heid was sonde, ’n dwaling. Saam met geesgenote het ons Belhar tóé al entoe­siasties onderteken. Dit was bevrydend! Ons kon hard begin werk aan die her­eniging van die NG Kerkfamilie, teen weerstand (van die APK en beswaardes binne die gemeente) in. Ons moes tel­kens verduidelik dat die kerk nou “oop” is, dat almal wat glo welkom is. In die proses het ons baie lidmate verloor (in Paul Roux amper 50%); dit was hart­seer, maar dit kon nie anders nie. En dit was ook wonderlik dat vroue – al het dit stadig gegaan – ook hulle regmatige plek in die kerk begin inneem het. Ek was bevoorreg om onlangs vir liewe tannie Elsie Pienaar te kon gaan be­grawe. In die vroeë negentigerjare het Paul Roux se kerkraad haar as eerste vroue-ouderling saam met die jong dominee na die Vrystaatse Sinode af­gevaardig! Ook dít was ’n mylpaal! En dit was net so ’n voorreg toe ek destyds vir dr Carin van Schalkwyk in Philip­polis as leraar kon gaan bevestig – ter­wyl sy ook dominee van die bruin woon­buurt gebly het. Dit was ’n aan­doenlike moment om rond­om die eeu-wenteling, toe sovele land­uit wou vlug, saam met ander in die Alge­mene Sinode te kon opstaan en letter­lik in trane te kon bely: “Ons is hier, ons het ’n Here, ons is sy kerk!” Dié roepingsverklaring het kort daarna neer­slag gevind in die ver­rui­ming van die Vrystaatse kerk se leuse met: “Lig in die duisternis – hier, vir God, mekaar en die wêreld”. Ek was ver­heug oor die besluite van 2013 oor missionaliteit en verras oor 2015 se gay-besluite. ’n Besonderse hoogtepunt was verlede jaar toe ver­teen­woordigers van die 15 kerke in die breër NG Kerk­familie elk ’n Kaapse Geel­houtboom by die Andrew Murray Sentrum vir Spiri­tualiteit in Wellington kon plant, as tas­bare simbool van die groot dade wat God deur ons kerk ge­doen het, tot diep in Afrika in. Daar was vele sulke mo­mente – die NG Kerk het die laaste klom­pie jare inderdaad baie verander, teologies en in die praktyk van die be­diening, beslis ook ten goede. Selfs die kerk kan verander, het Jonker mos geskryf!

Maar, daar is ook baie waaroor my geslag leraars skaam en teleurgesteld is (of dan behoort te wees), dinge waaroor ons, ook ekself, mea culpa moet uitroep. In die dralende proses om die Ander in liefde te leer omhels het ons soveel mense diep seergemaak! Ons sukkel vandag steeds om regtig inklusief, eg gasvry, te wees, om veilige ruimtes vir diverse mense te skep. Ons bly ten diep­ste maar Afrikaner-volkskerk, wit, vol vooroordele en vrese. Ons kon nie keer dat die Belhar-belydenis in 2015 verbete verwerp word nie, en dat daarmee saam ook die ou gereformeerde beginsel van sola gratia (as begenadigde sondaars is ons rondom die nagmaalstafel gelyk en één) wéér, soos in 1857, laat val word nie. Die herenigingsproses het van toe af onder ons oë tot ’n allerlaagtepunt gedaal, soos water in die sand verdwyn. Ons mooi praatjies oor missionale trans­formasie het meer dikwels tot verbloem­de selfgerigtheid vervlak. Ons kon nie regtig daarin slaag om van ou bagasie ontslae te raak nie, trouens, ons laai telkens weer nuwes op wat ons moeë, mank moeder al hoe meer bloot­stel aan die spot en afkeur van baie. Ons geslag het nie genoeg gedoen om ons­self en die kerk voor te berei om rele­vant (gehoorsaam) kerk te wees in, aan die een kant die modernistiese, globale, sekulêre en digitale wêreld wat tans soos ’n tsoenami oor ons spoel, maar aan die ander kant ook te laat tuiskom in die Afrika-bodem en -landskap, tussen medebroeders en -susters van hierdie wye kontinent nie. Ons bly meestal vas­ge­vang in ’n lande­like of voorstedelike, materialistiese kul­tuur van ontvlug­ting, binne verbeel­de, veilige ruimtes agter devil’s fork.

Hoor ons die gesug van die aarde wat al hoe harder en onrusbarender onder ons voete opklink en weerklank in die lugruim vind, of is ons nog te onlos­maaklik deel van die droom van ver­bruik, vooruitgang en voortdurende groei? Ek waag dit om te vra: Het ons nie dalk Jesus Christus uit die oog verloor in ons diens aan eie oorlewing, van godsdienstige gewoontes, van ons eie koninkrykies en die handhawing van ons eie bevoorregting nie? Hoor ons agter die groeiende woede in ons land die dreigende getik van die tydbom van armoede, werkloosheid, ongelykheid, die versugting na leefruimtes, die vasge­vang-wees in kriminaliteit en geweld, en die voortslepende onreg? Doen ons ooit genoeg om ons land te help heel? Ons profetiese stem het inderdaad stil geraak. Oral sien ons al hoe meer ouer­wordende, kwynende gemeentes, wat toemaak. Ons het soveel van ons jong­mense verloor! Intussen veg ons voort om elkeen ons eie teologiese “seker­hede” ten alle koste te bevestig, sonder ruimte vir die paradokse in die Skrif of verwondering oor die misterie van God.

My bede is dat die Here Jesus, Hy wat tussen die kandelare beweeg en hulle op hulle plek vashou, ons geliefde kerk “haar’s ondanks” (JH Bavinck) sal vorm tot groter gehoorsaamheid, ryklik sal seën en sal bly gebruik, hier, in hierdie ge­broke provinsie, in ons stukkende land en tot diep ons droewe kontinent in.

Ek is diep dankbaar teenoor die NG Kerkfamilie wat, geknak en gekneus tot inniger kleur, immer my geliefde moe­der bly.