“Nous sommes en guerre” (“Ons is in oorlog”), was die dramatiese woorde van pres Emmanuel Macron van Frankryk in sy onlangse televisietoespraak. Inderdaad, waar jy in Europa kyk – op die St Pietersplein in Rome, die Place de la Concorde in Parys, die Gendarmenmarkt in Berlyn of die Dam in Amsterdam – dit is feitlik oral verlate.
Regoor Europa moet mense in mindere of meerdere mate binne bly. Byeenkomste is verbied. Dit geld ook vir kerklike eredienste.
Lees ook: www.KiesKerk help jou preke vind
Maar mense is vindingryk, en gelukkig bied die moderne tegnologie uitkoms. Meestal het die kerke hulle blitsvinnig by die nuwe situasie aangepas en maak maksimaal van die internet en aanverwante tegnologieë gebruik.
Eredienste word aanlyn aangebied. Die dominee sal óf tuis in die pastorie óf in ’n leë kerk preek, maar dit word deur die internet of ander elektroniese verbindings tot in elke huiskamer gehoor. Soms gaan dit gepaard met livestreaming, sodat die gelowiges nie slegs die prediker hóór nie, maar ook sién.
Die televisie word ook maksimaal benut.
Onlangs het die scriba van die algemene sinode van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN), die NG Kerk se susterskerk, ’n diens vanuit die kerk se hoofkantoor in Utrecht aangebied. Sy tema was “Lig in die duisternis”, en hy het verduidelik hoe God selfs – en dalk veral – in tye van krisis soos dié troos en uitkoms deur sy liefde bied, en hoe dit mense moet inspireer om dié liefde prakties teenoor mekaar uit te dra.
In sý boodskap het die moderator van die Evangelische Kirche Deutschlands (EKD, oftewel die Lutherse kerk), prof Heinrich Bedford-Strohm, klem gelê op Paulus se boodskap dat die liefde ons dring om rekening te hou met ’n ander, eerder as om jou eie begeertes na te jaag.
Met trooswoorde is op sigself niks verkeerd nie, maar dit moet ook in die praktyk gebring word. In Nederland het die kerke dus gesamentlik oor alle kerkgrense heen hande gevat om hulp te gee aan die kwesbare groepe – oues van dae en siekes.
“Ons laat mense nie alleen nie!” is die leuse van die inisiatief. ’n Spesiale webwerf is geskep waar organisasies en vrywilligers hulle hulp kan aanbied of behoeftes kan stel. Op dié manier kan die beskikbare potensiaal met die vraag gekoördineer word.
Oues van dae se medisyne moet byvoorbeeld by die apteek gehaal en by die mense afgelewer word. As hulle ’n hond het, moet iemand daarmee gaan stap. Nou kan vrywilligers by sulke sake help.
Natuurlik het mense behoefte aan onderlinge kontak. Dus word video-byeenkomste georganiseer waar mense ’n gesellige koffiedrinkery aanlyn met mekaar kan meemaak.
Huisbesoek word, behalwe in uiters dringende gevalle, met kontak per telefoon, Skype of ander elektroniese maniere vervang.
“Baie ouer mense is bang,” sê ds Jurjen de Groot, hoofsekretaris van die PKN se dienste-organisasie, aan die Reformatorisch Dagblad. “Dan kan dit verligting bied as iemand beskikbaar is om ’n praatjie te maak. Mense wat nie aan ’n kerk behoort nie en eensaam is, bring ons in kontak met ’n predikant wat tyd aan hulle bestee. Net soos in die normale pastoraat is daar grense aan die hulp; ons hou ons streng aan die staat se riglyne, en by ernstiger klagte verwys ons mense na dokters of ander hulpverleners.”
Die EKD het met daaglikse gebedsbyeenkomste op Twitter begin. Elke oggend om 07:00 en saans om 19:00 kan enigeen deelneem, en elke oggend word ’n Morgengebet op Facebook en Instagram versorg.
Op die internet is ’n aanlyn-gebedsgroep gestig waarop 24 uur per dag vir minstens een persoon gebid word – siekes, hulpeloses, dakloses, vlugtelinge; almal wat hulp nodig het. Daarby het die EKD ’n permanente telefoonlyn waar hulpbehoewendes met hulpverleners kan praat wat hulle kan bemoedig of na deskundiges kan verwys.
In sowel Duitsland as Nederland is daar deesdae apps met troostende stukke uit die Bybel.
’n Kragtige simboliese aksie van die kerke in Nederland is dat alle kerkklokke op Dinsdagaande om 19:00 tien minute lank gelui word (in Frankryk gebeur dit op Woensdae om 19:30). Die doel is om die verbondenheid van die kerk met die mensdom en veral met almal wat swaar kry te beklemtoon.
Die Franse biskoppekonferensie het verduidelik die doel “is nie om gelowiges na die kerk te roep nie, maar om ons broederskap en gemeenskaplike hoop te demonstreer”.
Tog bly daar kwaai praktiese probleme. Behalwe vir eredienste wat aanlyn moet plaasvind, word ook huwelike en begrafnisse ernstig geraak.
In Brittanje het die Anglikaanse Kerk besluit om slegs vyf gaste by huwelike toe te laat. Die bruid en bruidegom mag wel langs mekaar staan, maar die ander moet minstens anderhalwe meter afstand van mekaar handhaaf.
Eweneens mag by doopplegtighede slegs die baba, die ouers, peetouers en dominee teenwoordig wees. Mense ouer as 70 of diegene met onderliggende gesondheidsprobleme word ten sterkste afgeraai om sulke byeenkomste by te woon.
Dit is duidelik dat die Koronakrisis groot eise aan die kerk in Europa stel.