Vergeet van kerkkantóór, nou moet dominee ’n ateljee bedryf

Hierdie is ’n “hands up”-oomblik vir die mensdom, meen die Christenskrywer en meningsvormer Leonard Sweet.

“Kyk ’n bietjie hoe die vroeë Christene gebid het … hande na bowe: ‘Hands up!’

“Dit was hulle manier om te sê: ‘Ons gee onsself oor aan God se hulp,’” het die Amerikaner onlangs in ’n boodskap wat regstreeks op Facebook uitgesaai is, gesê.

Meer as 12 700 mense is reeds dood aan die Koronavirus, volgens statistiek wat op 21 Maart deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bekendgestel is. En vele van Sweet se volgelinge wou sy insette kry oor hoe verskynsels soos “social distancing” die kerk se werksaamhede raak.

Stap 1, meen Sweet, is die aanvaarding dat “normaal” iets van die verlede is en ons nie daarheen gaan terugkeer nie. In ’n 23 minuut-lange uitsending sê Sweet die “era waartydens mense opgewonde was oor globalisasie” is verby. “Ons leef in ’n pandemiese wêreld … As ons nou die woord konneksie hoor, is daar vrees. So ons sal globaliseer op nuwe maniere – virtuele maniere. Die krag is nou in huddles, mense gaan laer trek.”

Sweet meen die vraag wat die gesondheidspandemie tans aan ons stel, is nie of dinge goed of sleg is nie. Die punt is eerder aanvaarding dat dit nou die werklikheid is wat ons in die gesig staar. “En wat ’n geleentheid is dit nie vir die plaaslike kerk om werklik plaaslik te wees nie,” meen Sweet.

Om deel te wees van hierdie tendens moet kerkleiers volgens hom ’n kopskuif maak waarvan hy al ’n geruime ’n voorstander is en wat stellig ’n paar hoë eise sal stel aan diegene wat nie hou van verandering nie. Sy advies is ’n kopskuif weg van ’n Sondagoggend-preekstoelgesentreerde bediening. Pleks daarvan om aan sy/haar werkplek as kantoor te dink – waar mense jou kom sien – moet ’n dominee aan sy/haar werkplek as “studio” dink, meen Sweet. Dit wil sê as ’n ateljeespasie waar (ten minste in Engels!) drie c’s gedy: collaboration, creativity, communication.

“Bevry jouself van die preekstoel … die rekenaar is die nuwe preekstoel.” Hy stel dit in konteks dat dit nie ’n eenvoudige gevry na nuwe tegnologie is nie. “Jesus stoot ons altyd na die voorste linies,” sê Sweet. In sy Amerikaanse aksent daag die gryskop luisteraars vanuit ’n diep leunstoel uit: “We serve the greatest storyteller who lived – I want the Jesus story, not just any story.”

Op eie bodem meen dr Nico Simpson dat Sweet handige perspektief bied op die omvang van die oomblik waarin ons tans is. “Sweet meen daar was nog nooit, buiten miskien in die twee wêreldoorloë, so ’n grootskaalse samewerking wêreldwyd tussen mense nie. Maar,” dan voeg hy by, “dat ons as gelowiges, met die hulp van God, dit kan hanteer.”

Simpson, ’n kunstenaar en werknemer van Bybel-Media, het die kernidees van Sweet se videoboodskap “vertaal” na illustrasies sodat dit makliker gekommunikeer kan word deur gemeenteleiers.

Lees ook pres Ramaphosa se toespraak oor die Koronavirus op Dinsdag, 23 Maart.