Skietongeluk: Jan Woest oorlede

Dr Jan Woest, ’n bekende in NG Kerkkringe, is ná ’n skietongeluk op sy plaas in Namibië oorlede.

Die ongeluk het Maandag (27 April) omstreeks 15:30 gebeur toe Woest glo sy geweer (’n 30.06) in sy voertuig wou sit. ’n Skoot het afgegaan en die koeël het van agter deur sy bekken gegaan, volgens ds Thijs van der Merwe, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië.

Woest is na die Katolieke hospitaal in Windhoek gehaas. Sy toestand was Dinsdag nog kritiek. Van der Merwe het vandag per e-pos laat weet dat Woest oorlede is: “Dis met hartseer dat ek skryf: ’n Groot boom het geval. Ons dank die Here wat ons as NG kerk en as mense deur Jan se gawes geseën het. Mag die Here sy nagedagtenis eer,” het Van der Merwe geskryf.

Woest was lank predikant in sinodale diens in Namibië vir die Renovaré-proses en het ook op algemene sinodale vlak enorme bydrae gelewer, aldus Van der Merwe.

‘Jan se hantering op terugslae was stilte met die Here’

“Jan het ’n navolgenswaardige voorbeeld gestel in sy hantering van terugslae – soos met die droogte wat hom laat klippe kou het op sy plaas. Sy antwoord was om meer tyd in stilte met die Here deur te bring en hy het ’n sterker gelowige aan die ander kant uitgekom. Sy ideaal om ’n retraitesentrum op die plaas te vestig sal nou nooit vergestalt word nie,” het ds Thijs van der Merwe van die Namibiese sinode na Woest se afsterwe gesê.

Daarom uiters gepas dat dié “diep gelowige mens” op die vraag hoe dit gaan glo altyd geantwoord het: “Deur die genade vorentoe!”

Woest, “’n nederige, innemende en eerbare mens” was ’n gebore Namibiër wat in ’n spoorweghuis grootgeword het, aldus Van der Merwe. Hy het op Keetmanshoop gematrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer. Tydens sy studentejare het hy op die spoorweë gewerk om sy studies te help befonds.

Verder, vertel Van der Merwe, is Woest in 1988 in die NG gemeente Bothasig in die Wes-Kaap georden waarna hy ’n beroep terug na sy geboorteland aanvaar het.

Vanaf 1993 tot 2004 bedien hy die Leonard-gemeente en word daarna as predikant in sinodale diens: gemeente- en bedieningsvernuwing (Renovaré) deur die NG Kerk Namibië aangestel. Hy het die pos vir 15 jaar beklee.

Volgens Van der Merwe het Woest insig in die uitdagings van die gemeentes en predikante gehad. “Hy kon met fyn aanvoeling peil hoe dit gaan in die verhoudings tussen gemeente en leraar en sy toetrede het dikwels situasies wat kompleks was goed laat ontknoop,” vertel Van der Merwe.

Behalwe sy vrou Nicolene laat hy sy seuns Pieter-Jan, Fredrich en Nico agter.