Sy gee haar hart vir Hillbrow

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Op ’n dag het ek só verlang na die Kaap, maar toe voel ek of die Here vir my sê, maak die geboue jou berge, embrace wat voor jou en by jou is en leef in die nou,” vertel Leona Pienaar.

Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om dit vir die wêreld te gee nie en Leona het besluit om haar lewe te gee vir ’n stad. Sy gee haar hart vir Hillbrow. Letterlik.

Haar pa was ’n skoolhoof op ’n klein dorpie in die Kaap en haar ouers het dikwels mense in nood probeer help. Nog iets wat Leona geïnspireer het was ’n oom wat stories oor Hillbrow vertel het toe hulle as gesin met vakansie was. Sy het vir haar pa gesê sy wil ook mense help en besluit sy wil eendag ’n maatskaplike werker word.

Pas na die voltooiing van haar studies op Stellenbosch, ry Leona met ’n stokou rooi Mini Hillbrow binne.

Die mense van MES, die organisasie saam met wie sy sou werk, het vergeet sy kom daardie dag, haar slaapplek was nog nie gereël nie en daar was geen bed vir haar nie. “Maar dit was nogal simbolies, want die meeste mense wat na Hillbrow toe kom weet nie waar hulle die aand gaan slaap nie.”

Dit is vandag ses en twintig jaar later en Leona is onlangs aangestel as die nuwe uitvoerende hoof van MES.

MES is ’n merkwaardige organisasie. Hulle het meer as 160 voltydse werknemers. Die doel van die maatskappy is om hoop te bring in ’n stukkende wêreld. Om donker plekke op te soek en juis daar ’n lig te wees. “To change the heart of the city,” is hulle motto. Van MES se grootste projekte is in Hillbrow, maar daar is ook projekte in Kemptonpark, Port Elizabeth en in Kaapstad. Hulle het skuilings vir haweloses waar ongeveer 280 mense gehuisves word, voedingskemas, opleidingsprogramme, ’n verskeidenheid van dienste waar meer as ’n 1 000 gesinne maandeliks hulp kry … ’n Mens sou bladsye kon skryf oor alles wat hulle doen.

“Raak jy ooit moedeloos?” vra ek.

“As ek sien hoe mense ongelooflike geleenthede deur hulle vingers laat glip, maak dit my soms moedeloos,” sê Leona, “en mense van die publiek wat soms geweldig veroordelend is, en dan ook die corporate sponsors en die regering wat sekere uitkomste op papier verwag, maar nie ’n idee het van ons realiteit op die grond nie.”

LUISTER:

Ons gesels oor hoe ingewikkeld dit dikwels raak om met die nood in ’n gemeenskap te werk onder die druk van korporatiewe donateurs wat voortdurend statistieke van suksesse verwag. Dit is moeilik om sukses met korporatiewe meetinstrumente te meet wanneer dit oor die kompleksiteit van mense in nood in ’n stad gaan. Hoop beteken vir ’n ou op straat heeltemal iets anders as vir ’n besigheidsman in sy kantoor.

“Dit is vir my ’n groot ding om brûe te bou tussen gemeenskappe,” sê Leona. “Om mense te help om mekaar se wêreld te verstaan.”

Daar is ook ’n klomp positiewe goed wat Leona inspireer. Sy vertel van die oop harte van mense, besighede wat moeite doen om te help en op verskillende maniere betrokke is, gewone mense wat dikwels kom hulp aanbied nadat hulle gehoor het daar is nood.

Hulle beleef dit ook nou met die Covid-19-pandemie. Een van die mooi stories is van ’n groep sjefs van luukse restaurante en hotelle wat kom hulp aanbied het. Hulle het gesê hulle kan in elk geval nie nou werk nie, hulle sal graag help kosmaak vir die massas haweloses in die nuwe skuilings vir wie MES skielik verantwoordelik is as gevolg van die grendeltyd.

Leona vertel dat daar al baie lesse geleer is tydens vorige krisisse. Verlede jaar moes hulle byvoorbeeld skuiling en kos organiseer vir ’n klomp mense in nood met die uitbreek van die xenofobie-geweld. Van daai lesse kon hulle nou weer toepas.

Hulle het met die nuwe uitdagings van die Covid-19-epidemie besef dat hulle dinge moet implementeer wat op die langtermyn ’n effek sal hê. Dit is nie ’n honderd meter wedloop nie, eerder ’n maraton. Wie weet watse uitdagings lê nog voor?

’n Mens kry die idee dat Leona en die mense saam met haar die heeltyd besig is om nuwe planne te maak, om nuwe probleme op te los. Moeilikheid is hulle besigheid and business is booming!

Een ding is seker mense soos Leona is nooit verveeld nie. Dit val my keer op keer op hoe passievol sy is, dit is asof die stad wat haar moeg en soms moedeloos maak, haar ook energie gee en inspireer.

Toe ek haar vra wat sy doen om nuwe energie te kry, sê sy: “Ek hou daarvan om kreatief besig te wees.” Sy laat my dink aan die ou wat eenkeer gesê het hy is nou so besig met dinge wat vir hom sin maak, hy weet nie waar hy tyd gaan kry vir ’n midlife-crisis nie.

Leona vertel hoe belangrik tyd saam met haar gesin vir haar is. Sy is mal oor die see en die berge en om in die aand in die natuur by ’n kampvuur te sit en gesels. Sy vertel hoe moeilik dit in tye soos hierdie raak om alles te probeer balanseer. Krisisse hou nie by ’n skedule in ’n dagboek nie.