Wat skrop en skoonmaak ons oor gebed kan leer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Het hierdie twee dinge iets in gemeen? Ek het ook nie so gedink nie tot ek vanoggend op my knieë op die kombuisvloer rondgekruip het … Toe het ek besef dit het eintlik baie in gemeen!

Tydens die grendeltyd het ons ons huis in drie dele verdeel. Elkeen van ons, dit is nou ek, my man en ons seun, moet een van hierdie dele skoonhou. Ons het ooreengekom dat as dit goed gedoen word, een keer per week voldoende is.

Twee agtereenvolgende Saterdae het ek en my man skuldig vir mekaar gekyk wanneer ons hoor ons seun is fluks besig om sy deel te doen. Die derde Saterdag het ons besef êrens gaan hy dalk spoed verloor as ons nie ook maar inspring en ons deel doen nie.

Na my eerste Saterdagsessie kon ek skaars uit die bed opstaan so styf was ek. Nie hardloop, fietsry of swem het my al ooit so styf gemaak nie. Die enigste iets wat al naby dit gekom het, was muurbal. Ek dink hoe baie gimnasiumgeld ek al oor die jare kon gespaar het!

Tot my groot skaamte en skande moet ek sê dat die twee ouers die vierde Saterdag sonder enige skoonmaak laat verbygaan het. Vanoggend was dus weer D-dag, of moet ek dalk liewer sê S-dag?

Tydens die 2 S-dae waar skoonmaak nou al wel plaasgevind het, het ek baie gou agtergekom ’n mens kan bolangs skoonmaak of jy kan dit ordentlik doen. ’n Mop en ’n verestoffer is handige dinge maar dit verskuif net die stof en vuil en troos so ’n bietjie. Om dit regtig ordentlik te doen het ’n mens ’n emmer water en ’n lap nodig. O ja, en natuurlik ook knieë en elmboë.

Dit is nou toe ek so op my knieë op die kombuisvloer rondkruip en die vuil uit elke hoekie uitvee wat ek wonder hoe sou die samelewing gelyk het as ons meer knie en lapperig as staan en mopperig bid?

Die Bybel sê bid sonder ophou maar dit is soos skoonmaak. Elke dag skoonmaak is beter maar nie lekker nie. Weekliks doen ook die ding as jy dit behoorlik doen. Af en toe soos wat ons skoonmaak werk dalk, maar dit maak jou elke keer weer van voor af styf. Na ’n harde sessie is jy kwaad dat jy dit nie maar liewer meer gereeld doen nie.

Julle bid en julle ontvang nie, want julle bid verkeerd. Daar is duidelik regte maniere van dinge doen en minder regte maniere. Beide kry die ding gedoen maar die eindresultaat is wesenlik verskillend!

Dikwels maak ons ons lewe so bolangs skoon, gooi gou hier en daar ’n gebed na bo en doen ons eie ding. Wat sal gebeur as ons so af en toe behoorlik inklim met water, ’n lap, ontsmettingsmiddel en behoorlik skoonmaak aan ons binnekant? ’n Goeie kniesak-sessie waar ons dinge uit die versteekte hoekies uitkrap, dit alles aan die Here se voete neersit, dinge uitpraat, skoonmaak, sulke goeie werk doen dat ons behoorlik styf is hierna. Styf maar splinterwit aan die binnekant met ’n nuwe vonk in ons stap en hoop vir die nuwe dag!

  • Dr Daléne Flynn is fasiliteerder vir die seniorlidmaatbediening by NG gemeente Lynnwoodrif in Pretoria.