Geweld: Sommige is juis onveilig agter slot en grendel

“Ons maatskaplike werkers is buitengewoon besig sedert die begin van die grendeltyd,” sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelik-Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“Ek is oortuig dat die gevolge hiervan nog maande lank met ons sal wees.”

Hoewel baie soorte misdade afgeneem het tydens die hewige inperkings wat met die bekamping van Covid-19 gepaard gaan, is dit moeilik om vas te stel hoeveel vroue of mans in hierdie tyd fisiek, emosioneel of seksueel deur hulle gades mishandel word, meen Van der Merwe.

Om in die huis te moet bly, lei boonop tot verhoogde stres, angs, depressie, en vir sommiges ook ’n hernuwing van simptome gekoppel aan post-traumatiese stres (PTS).

“’n Huweliks- of verhoudingsmaat wat gewelddadig is, sal heel moontlik in die afgelope paar weke erger geword het. Ons moet nie vergeet dat mans ook aan die ontvangkant van geweld kan wees nie, maar in ons land is dit meer gereeld vroue wat slagoffers van geweld is.

Van der Merwe se pleidooi is: “Indien jy weet van iemand wat mishandel word, is die regte ding om te doen, om dit by die SAPD aan te meld en hulp van ’n betroubare gemeenskapsdiens (soos die CMR) te kry. Gratis regsadvies kan van “The Warrior Project” verkry word (besoek www.thewarriorproject.org.za).”