Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dood? Nee! Lewe!

Nuusberigte van oor die wêreld word daag­liks deur die getal dooies, siekes, graf­te en selfs massagrafte oorheers. Co­vid-19 het die wêreld tot stilstand gebring. Dié virus, met sy doodsgesig, het wydsbeen oor die aardbol kom staan.

Die digter van Psalm 116 het ook op ’n dag die dood in die oë gekyk. Miskien was dit siekte. Ons weet nie. God het egter sy noodkreet gehoor en hom uit die kloue van die dood gered. Daarom getuig hy diep dankbaar: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie” (Ps 116:15). Vir God, as die Skepper en Onderhouer van alle lewe, is lewe kosbaar, veral die lewe van sy kinders, want Hy is lief vir hulle. Selfs die hare op hulle hoof is getel (Matt 10:30).

Lewe is so kosbaar vir God dat Hy in Jesus Christus die doderyk ingegaan en die dood, ons grootste vyand, nek omgedraai het. Se­dertdien is hy ontwapen (1 Kor 15:55).

Daarom kan gelowiges in hierdie Covid-19-tyd ontspan en opnuut die Here dank vir die gawe van lewe – ewige lewe – en vir die dood tong uitsteek (1 Kor 15:55).