Evangelis Ravi Zacharias op 74 oorlede

Die bekende Christelike apologeet en evangelis Ravi Zacharias is op Dinsdag 19 Mei in die ouderdom van 74 jaar by sy huis in Atlanta weens ’n kankeragtige gewas oorlede.

Zacharias het die afgelope maande met sy gesondheid gesukkel terwyl hy herstel het van ’n rugoperasie en behandeling vir ’n aggressiewe soort kanker ontvang het, luidens ’n verklaring wat deur RZIM se bestuurshoof en Zacharias se dogter, Sarah Davis, op 8 Mei uitgereik is.

Huldeblyke stroom die afgelope weke reeds op sosiale media in waar die RZIM ’n versoek aan die publiek gerig het om stories, getuienisse, refleksies en briewe met Zacharias te deel deur van die hutsmerk #thankyouravi gebruik te maak. Bekende Amerikaanse prediker en skrywer van die Passion Beweging, Louie Giglio, het op Instagram aan Zacharias hulde gebring: “Nederige reus: Ek deel in die donderweeragtige applous van die hemel.”

Frederick Antony Ravi Kumar Zacharias, ’n boorling van Chennai, Indië, wat later ook in Kanada en Amerika gewoon het, het die wêreldbekende bedieningsorganisasie, Ravi Zacharias International Ministries (RZIM), in 1984 gestig. Dié organisasie fokus op evangelisasie, apologetiek, geestelike dissiplines en humanitêre ondersteuning, volgens die RZIM. Zacharias was ’n leidende figuur tussen Christelike apologete. Christelike apogeletiek is ’n deel van Christelike teologie waar Christelike leerstellings teen teenoorstaande argumente verdedig word.

Op eie bodem het dr Annemarie de Kock-Malan, bedienaar by NG gemeente La Rochelle, drie jaar gelede die eerste keer na Zacharias, met sy besoek aan Stellenbosch, geluister. De Kock-Malan vertel sy was aanvanklik baie skepties oor Zacharias se bediening omdat dit met die woorde “international ministries” eindig. Maar Zacharias het haar verras. Sy vertel: “Ravi het ’n deernisvolle manier van praat gehad. Hy het daardie aand mense se kritiese vrae genuanseerd en braaf beantwoord, maar ook met ’n sagtheid wat ek al by min mense van sy kringe gehoor het. Hy het sy bediening met die motto ‘helping the thinker believe and the believer think’ gestig. Sommige beskryf hom as een van die grootste Christenapologete van ons tyd en vergelyk hom selfs met CS Lewis,” sê De Kock-Malan.

Zacharias word deur sy vrou Margie, dogters Sarah en Naomi, seun Nathan en vyf kleinkinders oorleef, berig CNN

2 thoughts on “Evangelis Ravi Zacharias op 74 oorlede

  1. Jacques de Lange says:

    With the loss of Zacharias, we have lost one of the greatest thinkers and talkers of our time.

  2. Johan Rademeyer says:

    n Ware en nederige dissipel wat my elke keer laat regop sit het as ek die voorreg gehad het om na hom te luister.

Comments are closed.