NG Kerk spreek haar uit teen geweld en die miskenning van mense se menswaardigheid

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Die NG Kerk betreur in hierdie dae die hoë voorkoms van geweld in Suid-Afrika en die wêreld. Alles dui daarop dat die onderliggende aannames van mense oor hulle medemens nie strook met die fundamentele uitgangspunte van die Christelike geloof asook die Grondwet van ons land nie.

Die NG Kerk betreur alle vorme van meerderwaardigheid en onverdraagsaamheid – waar dit ook al voorkom. Rassisme, seksisme, homofobie, die misbruik van vroue en kinders, vreemdelingehaat en die geweld wat uit al hierdie verwronge aannames voortspruit, lei tot die skending van mense se Godgegewe menswaardigheid. Dit veroorsaak ook oneindige pyn en skeiding, en is ’n totale miskenning van die evangelie waarin ons glo.

Die NG Kerk het self ’n hartseer geskiedenis rondom rassisme, maar verwerp vir meer as dertig jaar al enige leerstelling oor rassemeerderwaardigheid. Die NG Kerk is oortuig dat enige vorm van rassisme sterk teengestaan moet word, ook in onsself, en ag dit ’n prioriteit om dit te bestry.

Die NG Kerk is bekommerd oor die misdaad en veral geweld oor die breë spektrum in Suid-Afrika. Ordelike wetstoepassing binne die raamwerk van ons Grondwet word ondersteun. Die hoë voorkoms van plaasaanvalle is baie ontstellend, veral ook in die lig van die inperking van die land se privaatveiligheidsmagte.

Die kerk begryp dat armoede en werkloosheid, as gevolg van die ongelykheid in ons samelewing, die risiko vir verset en misdaad verhoog, en is daarom besorgd oor die impak van die Covid-19-pandemie op die Suid-Afrikaanse gemeenskap se welsyn.

Die handhawing van wet en orde en toepassing van regulasies in die grendeltyd het die uitdaging nog meer kompleks gemaak. Die NG Kerk is veral diep besorg oor die geweld wat deur die polisie en weermag gebruik word in wetstoepassing. Sekere van die regering se inperkingsmaatreëls verteenwoordig in sigself ’n unieke vorm van strukturele geweld teen die land se burgers, soos wanneer gedrag afgedwing word wat nie strook met die grondwetlike vryhede van landsburgers soos vervat in die Handves van Menseregte nie. Die feit dat Collins Khoza en 11 ander teen 1 Junie gesterf het weens polisie- of weermagbrutaliteit is om hierdie rede baie ontstellend.

Die kerk kan ook nie anders as om oor die polisiegeweld en miskenning van swartmense se menswaardigheid in die VSA sy afgryse uit te spreek nie. Ons bede is dat die onlangse gebeure daar sal lei tot diep herbesinning oor die menswaardigheid van alle mense.

Die hantering van die Covid-19-pandemie verg baie wysheid en balans. Dit is kompleks om wet en orde te handhaaf in ’n situasie waar mense ter wille van hulle eie welsyn ingeperk moet word. Die keersy van die munt is egter dat vryhede en regte maklik op ’n irrasionele wyse ingeperk word en dat wetstoepassers nie verantwoordbaar gehou word nie. Die regering slaag onses insiens ook nie altyd die toets van redelike regverdiging en konsekwentheid met al sy maatreëls nie.

Daarom moet die kerk ’n sterk “nee” laat hoor teen strukturele geweld en teen geweld van wetstoepassers op landsburgers. Die indruk word soms geskep dat dit die sanksie en beskerming van die hoogste bevelstrukture geniet. Die kerk pleit dat ’n beleid van geen-toleransie teen enige vorm van geweld, hoe groot of klein ook al, toegepas word. Regeringsleiers en politici behoort hulle sterk hieraan te verbind, en die leierskap van wetstoepassers moet dit duidelik toepas. Geweld bring die evangelie en demokratiese ideale altyd in die gedrang. Selfs waar geweld as onvermydelik gesien word is dit altyd ’n morele kompromie.

Die NG Kerk wil daarom met ander kerke, Christelike organisasies en leiers van ander gelowe oor hierdie sake in gesprek tree. Gesamentlike strategieë moet bespreek word vir optrede. Besinning oor maniere hoe ons as gelowiges slagoffers van geweld asook oortreders kan ondersteun, is ’n prioriteit. Saam met ander kerke moet gesprekke met die owerhede – nasionaal en plaaslik – oor die saak gevoer word. ’n Gesprek met die Minister van Veiligheid en Sekuriteit is dringend nodig.

  • Dr Gustav Claassen, namens die dagbestuur van die ASM