VIDEO: ‘Die vrae wat Job gevra het, vra ons ook nou’ – Piet Naudé

“Die dapperste gelowiges is Christen-besigheidsmense. Dit is maklik om te glo as jy elke maand ’n salaris kry, maar dis moeiliker om te glo as jy skuld aangegaan het, ’n nuwe bedryf begin het en nou jou gesin in die oë moet kyk.”

Só sê prof Piet Naudé, direkteur van die Bestuurskool by die Universiteit Stellenbosch, tydens ’n digitale leergeleentheid wat op 11 Junie deur ekerk aangebied is. Sowat 716 mense regoor Suid-Afrika en sover as die VSA en Nieu-Seeland het Donderdag aanlyn ingeskakel. Daar is gevra hoe die kerk en gelowiges op die nuwe werklikhede wat die Koronavirus-pandemie na vore bring, kan reageer. Die sewe aanbieders, wat elkeen gerekende figure in hulle onderskeie velde is, het gepraat oor hoe kerkwees, geloof, menswees, gesinslewe en ekonomie in Suid-Afrika deur die krisistyd beïnvloed word en hoe om as gelowiges in ’n post-Covid-19 wêreld te leef.

Die bydraes het gewissel van nadenke oor die verhouding tussen teologie en ekonomie, die harde werklikheid van armoede tot stories van hoop en die effek wat die Koronavirus-krisis op die jeug het. Proff Naudé en Stephan Joubert, stigter van ekerk, dr Johan Smith, bekende motiveringspreker en skrywer vir jongmense en ouers, en David Kinnaman, hoof van die Barna Navorsingsinstituut in die VSA, was die hoofsprekers. 

Naudé het gepraat oor die verhouding tusssen ekonomie en teologie in die Koronavirus-tyd. Hy sê tesame met die ekonomiese krisis is daar ’n sinskrisis in die teologie van gelowiges. “Die vrae wat Job gevra het, vra ons ook nou,” meen hy. “Daar was laas tydens die Tweede Wêreldoorlog só ’n ekonomiese krisis. Ons ekonomie is in ’n bloedbad. Gelowiges vra of dit God is wat die mense straf oor die mens se afkeur van God. Baie glo ons leef in die laaste dae. Daar is ’n oplewing in apokaliptiese literatuur en die lyding van Christus. Die Heilige Gees sug saam met die skepping. Die vraag word gevra wat word van die kerk in hierdie tyd. Hoe verstaan ons kerk?” vra Naudé.

Lees ook: Pandemie bring vrae oor ekologie, lyding en kerkwees

Die effek wat die Koronapandemie op kerkgangers het, is in Kinnaman se sessie oor die nuutste navorsing van die Barna-groep aangespreek. Hierdie Amerikaanse navorsingsorganisasie ondersoek die effek van die kulturele en godsdienstige tendense in Amerika op mense se daaglikse lewe. Die groep se navorsing toon aan dat slegs 53% van gereelde kerkgangers in Amerika hulle tuiskerk se dienste via webuitsendings kyk. Dié navorsing, wat tussen 19 Maart en 8 April 2020 onder 20 000 Amerikaanse gelowiges van alle ouderdomme gedoen is, toon ook dat 29% van kerkgangers op ’n ander dag as Sondag kerkdienste “stroom”, oftewel via die Web na die video-uitsendings kyk. Sowat 64% van die kerkgangers bid saam as virtuele kerk en 42% kerkgangers kyk as familie saam na digitale dienste.

Kinnaman sê opsommend dat die navorsing aantoon dat sosiale isolasie ’n groot probleem onder kerkgangers is. Hoewel gelowiges wil terugkeer na eredienste in geboue, is vrees daaraan gekoppel. Hy het kerkleiers aangemoedig om na te dink oor hoe dissipelskap in ’n gemeenskap lyk wat godsdiens minder gebougeoriënteerd beoefen. Kinnaman het die leergemeenskap ook uitgedaag om na te dink oor die gebruik van sosiale media in kerkkringe. Die navorsing het aangetoon dat sosiale media nie noodwendig sosiale konneksie bring nie en hy het kerkleiers uitgedaag om sosiale media só te gebruik dat daar digitale nabyheid geskep word.

Maar hoe lyk die nuwe werklikheid wat die wêreld met die Koronavirus-pandemie betree? Naudé het gesê dat daar vyf essensiële areas is wat gelowiges in die toekoms gaan beïnvloed.

  1. Tegnologie speel ’n belangrike rol in die verhouding tussen ekonomie en teologie. Kerke moet prakties reageer op die gesegde in besigheidskringe dat data die nuwe soort olie is. Daarom moet kerke hulle besigheidsmodelle aanpas om die tradisionele dinge soos eredienste, kollekte of die denke oor pastoraat aan te pas. Naudé sê op ’n metavlak sal die kerk en teologie baie diep etiese vrae moet vra oor wat ’n tegnologie-gedrewe samelewing behels en hoe hulle dit kan aanneem. Hy sê ’n data-gedrewe samelewing laat ’n mens nuut dink oor menswees en wat dit in ’n digitale era beteken om na God se beeld geskape te wees.
  2. Naudé sê dat die ekologie met die sluit van lughawens en die reisbeperking tot ’n stilstand geruk is. Die pandemie het vir die aarde ’n ekologiese sabbat gebring wat die aarde bitter nodig gehad het. Hy sê die Christelike tradisie in die weste het ’n diep aandeel in die ekologiese krisis en dat Christene heeltemal te laat wakker geskrik het om ekologiese herstel te bring. Hy pleit by kerkleiers dat die post-Covid-manier van lewe vernuwing in ekologiese teologie moet bring en dat daar by gelowiges prakties baie meer ’n sin van ekonomiese sensitiwiteit vir ekologie sal wees.
  3. Die tema van sosiale sekuriteit vir mense moet aangespreek word. Die regering bestee sowat R17 miljoen om vir die armes, veral kinders, te sorg. Naudé sê dat dit in God se wetgewing is om vir armes, wese, weduwees en vreemdelinge te sorg en die dramatiese impak van die Covid-19-krisistyd vra verantwoordelikheid van gelowiges.
  4. Die ekonomiese krisis wat die Koronavirus meegebring het, is ’n globale krisis. In die toekoms sal lande globaal moet saamwerk om die effek van die virus te hanteer. Daarmee saam is dit kerke se plig om meer ekumenies saam te werk. Die kerk moet fokus om in netwerke in te bou en verhoudinge wat die kerk byvoorbeeld met die Wêreldraad van Kerke reeds het, te koester en te versterk.
  5. Die kerk moet besin oor die rol van die staat en die impak wat die staat op die burgerlike samelewing het. Gemeentes het ’n belangrike interne rol in Suid-Afrika te speel. Naudé sê Suid-Afrika sal in duie stort as die kerk en die siviele gemeenskap in die land wegval. “Ons het die hoogste aantal nie-regeringsorganisasies per populasie in die wêreld en dit is enorm,” merk Naudé op. Hy sê prakties is daar twee maniere wat die kerk op die Koronavirus-krisis moet reageer nadat die kerk haarself geherdefinieer het as kritieke rolspelers in die siviele gemeenskap. Eerstens moet kerke soos die barmhartige samaritaan op die onmiddelike krisis reageer. “Dit beteken dat jy kos by skole moet gee en sopkombuise oopmaak. Maar dis nie al nie. Tweedens moet die kerk ook gaan kyk hoe ons oor grense heen met mense kan saam werk. Gemeentes van dieselfde dorp móét saam werk. Die kerk móét ekumenies saam werk. Dit is al hoe ons hierdie krisis gaan oorleef,” sê Naudé.