Komaan, wees eerlik!

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Vir baie jare al het ek die voorreg om elke Dinsdagoggend vroeg, voor werk, ’n gespreksgroep van ’n paar prokureurs by hulle kantoor te lei. Gewoonlik lei ek die gesprek in met so ’n 10 minute oorsig oor ’n tema. Dinsdag praat ons toe oor hoop, waarskynlik een van die mees misverstane konsepte in die Christelike geloof. Vir meeste is dit maar een of ander variant van optimisties wees. In my inleiding tot ons gesprek leun ek toe swaar op die werk van Stuhlman en Kim wat die profetiese literatuur sien as betekenisvolle uitdrukking van hoop. Ek verduidelik toe mooi vir die regsgeleerdes dat hoop by die profete onder andere beteken om nie weg te skram van die brutale werklikheid nie, maar terwyl jy die probleme in die oë kyk, is jy besig om byna vermetel ’n nuwe toekoms te bedink. Mooi teologies verpak ek toe hierdie uiters relevante tema vir ons tyd.

GF Watts se skildery met die titel “Hope”.

Ek deel ook die skildery van GF Watts uit 1886 met die titel “Hope” met die groep en ons praat oor GK Chesterton se opmerking dat die skildery van die nie-imposante vrou met die geboë hoof eerder “Despair” genoem moet word. Op ’n stadium in ons gesprek sit Jan terug in sy stoel en asof hy ’n oomblik van openbaring beleef sê-vra hy: “Met ander woorde, Bybelse hoop is iets soos opgef*k, maar gefokus!?” Niemand lag nie, want Jan probeer nie snaaks wees nie. En almal om die tafel het onmiddellik ’n goeie idee van wat Bybelse hoop is.

Jan se woorde is ’n wekroep tot ons om eerliker te wees oor die trauma wat ons tans beleef. Ja, ’n mens moet waardering hê vir die ongelooflike werk wat gemeentes en dominees in hierdie tyd doen, maar dit gaan nie so goed soos ons voorgee nie. Hoe kan dit met die lidmate goed gaan as die ekonomie met bykans 7% kan inkrimp? Watter enorme impak het dit en gaan dit nog op die arm mense in ons land hê? Hoe aaklig is die isolasie wat bejaardes ervaar? Hoe voel dit om magteloos te sit en toekyk hoe jou klein een-mens-besigheid ondergaan? En die effek van daai oproep waarvan Dana Snyman skryf oor die pos wat termineer – op die een wat dit ontvang en die een wat dit maak.

Ek wil van tyd tot tyd in kerklike Zoom-vergaderings uitroep: “Komaan mense, julle is nie eerlik nie. Dit gaan nie so goed nie!” In ons gesprekke moet daar ruimte begin kom vir die trauma wat ons beleef. Dalk herontdek ons saam die waarde van die klag in die Bybel. En dié soort eerlikheid sal ons help om gefokus te bly om te dien en te doen wat nou nodig is. Met groter eerlikheid sal dit met ons beter gaan.

  • Dr James Kirkpatrick is predikant van die NG gemeente Stellastraat in Pretoria.