KYK: ‘Videobomb’ tydens leraar se opname

Dit is weke se Zoom-vergaderings, WhatsApp-berading en preke via regstreekse Facebook-websendings … Met grendeltyd wat soveel eise ook aan dominees se tegnologiese vermoëns stel, is dit miskien onafwendbaar dat daar iewers ’n glips sou kom.

Maar wie sou nou kon dink dat ’n pastoriekat hiervoor verantwoordelik sou wees.

Ds Jampie Nel van die NG gemeente Oostersee in die noordelike voorstede van Kaapstad gee ’n bietjie agtergrond oor hierdie videogreep met ’n onverwagse deelnemer in die voorgrond.

Nel vertel: “Ons is katmense en word dikwels deur hulle gedrag vermaak. Angel is die studeerkamerkat, sy leef op my lessenaar. Maar ek het die afgelope tyd gesorg dat sy nie hier is wanneer ek Sondag se digitale diens moet opneem nie. Verlede Saterdag kon ek haar egter nie kry nie en ek moes noodgedwonge die deur op ’n skrefie oophou omdat sy by ’n vorige opname letterlik aan die deur gehamer het, tot ek dit vir haar oopgemaak het. Angel vat nie “nee” vir ’n antwoord nie!

Saterdag het sy toe tydens die opname ingesluip en begin eet (ek verkies om nie van haar eet as vreet te praat nie), maar sy het lekker kliphard geknars aan haar katpille en ek het in die oomblik besluit, dit is maar so, ek gaan nie in die middel van die opname oor begin nie. Nodeloos om te sê, in die middel van die laaste seën, meauw sy toe voor die kamera in. Ek neem toe net weer die seën op, maar my seun, Pieter, het gereken dat ons dit nie moet uitvee nie. Die behoud van die stukkie verrassing maak die kommunikasie eg.”

2 thoughts on “KYK: ‘Videobomb’ tydens leraar se opname

  1. Deon Strydom says:

    My kat het sommer rustig op my skoot geklim aan die einde van die diens 😉

  2. Anthea Samson says:

    Dieselfde het gebeur tydens n video opname wat ek van my man gedoen het een Sondag oggend en ons honde is gereeld in sy stem boodskappe ?

Comments are closed.