Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die wolkeryer

Ons ou wêreld het geen tekort aan lofsange, lofsange oor mense, hulle prestasies en suksesse nie. Daarvan is die media elke dag vol.

In Psalm 104 word die lof van God, die Skepper, besing. Die digter besing Hom as die een “wat op die wolke ry” (3). Dié beeld, ontleen uit die mitologiese tekste van die Ou Nabye Ooste, verwys na sy almag en beheer. Dit is God wat die oerchaos voor die skepping tot orde geroep (Genesis 1) en aan die see grense gestel het (9). Die natuur­elemente is sy diensknegte. Die wolke van die hemel is sy stryd­wa en die winde en die weerlig sy boodskappers (4). Hy gee lewe en hy hou alle lewe in stand (28-29).

Sonder God leef en beweeg niks op aarde nie. Hý, die wolke­ryer, ver­dien al ons lof, eer en aanbidding.