Bybel-Media skenk 400 boeke aan plase in Wellington

“Bybel-Media help ons om nie net brood vir die lyf te gee nie, maar ook vir die siel.”

Só sê Evelyn van Wyk, lid van die evangelisasiespan Ambassadors of Christ Ministries (ACM), oor Bybel-Media (BM) se skenking van sowat 400 boeke op 13 Junie aan plaasgemeenskappe in die Wellington-omgewing.

Van Wyk, wat die nood op die plaasgemeenskappe in die Wellington-omgewing eerstehands beleef, het vir Bybel-Media, met wie sy reeds jare lank ’n verbintenis het, vir skenkings van Christelike literatuur gekontak. Van Wyk vertel verder: “Terwyl ons vir die mense op die plase kos geneem het, het ons begin dink hoe ons die mense meer betrokke by Jesus kan kry. En dáárom het ek vir Bybel-Media gekontak,” sê van Wyk.

SIEN OOK: BM-pleidooi: ‘Bou saam met ons’

William Ross, wat die boeke namens BM uitgedeel het, sê dit gee hom ’n warm gevoel om die uitdrukkings van dankbaarheid op die mense se gesig te sien. “Dis goed om vir mense kos te gee, maar twee uur later is die mense weer honger en dan gee die boeke vir die mense die geleentheid om met God te praat. Wanneer hulle van die gesprekke met die mense vergeet het, herinner God hulle deur die boeke dat Hy lief vir hulle is en dat sy genade genoeg is,” sê Ross.

Van Wyk is steeds baie opgewonde oor 13 Junie se uitreik: “God is regtig by die uitreike betrokke. Een van die mense op die plaas waar ons hierdie Saterdag uitgereik het, het sy hart vir die Here gegee. Die hand van die Here is werklikwaar in die saak. Ons staan nie net daar en deel kos uit nie. Ons léér vir die mense en vertel vir hulle van die wonderwerke van die Here.” Sy voeg by dat hulle spesifiek ook op die uitreik na kinders, wat in hierdie tyd van inperking nie lering by die Sondagskool kry nie, fokus.

Van Wyk voeg by dat sy die Here prys oor dié skenking van BM. “Wat so wonderlik van hierdie boeke is, is dat ’n mens met ’n klein groepie mense kan gaan sit en die boek deurwerk. Die mense kry die geleentheid om aantekeninge te maak, te sê hoe hulle oor die betrokke onderwerp voel en dan kan ons vir hulle bid. Wanneer ons weg ry is dit is so ’n seën om te sien hoe die mense steeds sit en uit die boeke lees,” sê Van Wyk.