Sielkundige druk op leerders en die ‘nuwe normaal’ vir onderwysers

Die heropening van skole na die staat van inperking kan verdere druk plaas op leerders se geestesgesondheid, berig MARIETJIE WARRINGTON.


Die “hersiende” skoolomgewing wat nou gekenmerk word deur die dra van maskers, skep van sosiale afstand, deurlopende gesondheidsmonitering en noodgedwonge kliniese omgewing kan bydra tot verhoogde angsvlakke, depressie en ’n verlies aan selfvertroue. Van die maatreëls ontneem kinders van fisiese interaksie en die verlies aan kontak kan die ontwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede in die wiele ry.

Volgens Jeannette Ceronio, ’n opvoedkundige sielkundige aan die Wesrand wat tans bystand lewer aan onderwysers en leerders, gaan die “nuwe normaal” beslis bykomende druk plaas op die leerders se geestesgesondheid.

“Aanpassings met die heropening van skole kan lei tot meer angstigheid en depressie. Skoliere wat aan selfvertroue ontbreek en bang is, kan die situasie moeilik verwerk. Leerders mag dalk swaar aanpas by die nuwe manier van onderrig en derhalwe akademiese probleme ontwikkel,” sê sy.

“Kinders wat reeds hiperaktief of aandagafleibaar is, gaan spanning beleef omrede daar meer voorwerpe is om mee te vroetel. Dié skoliere en ekstroverte wat aan almal wil vat en gesels kan ook in die spervuur beland, want hulle vergeet onbewustelik van die sosiale afstandmaatreël.”

Die dra van ’n gesigmasker kan leerders met leesprobleme kniehalter, die introvert verder in sy dop laat kruip en ’n gevoel van benoudheid veroorsaak by kinders wat reeds angstig voel. Die aanmeld by die Covid-19-kamer vanweë hoë koors kan verdere stres meebring wat gepaard gaan met ’n vrees vir verwerping deur maats.

“Nie almal sal dieselfde reageer op die aangepaste maatreëls nie en baie sal afhang van individuele verskille. Dog leerders sonder sielkundige uitdagings behoort nie probleme te ondervind nie,” sê sy.

Ceronio sê onderwysers beleef tans aansienlike stres en het leiding en berading nodig alvorens skole open om voluit te kan funksioneer.

“Onderwysers ervaar geweldige spanning en hulle moes in ’n kort tydsbestek allerlei vorme van tegnologie en ’n nuwe metodiek aanleer om met die skole se opening te kan onderrig.”

“Papier moet so min as moontlik hanteer word en daar gaan gepoog word om sover moontlik papierloos te werk wat merkwerk sal kompliseer. Daarbenewens moet omvangryke departementele dokumentasie vir elke leerder bemeester word. Sommiges is ook bekommerd oor die gesondheidsrisko en die uitdagings wat maskers gaan bied.”

Verkorte onderrigsessies en voorbereiding

By verskeie skole word leerders met aanlyninligtingsessies, video-opnames en praatjies voorberei vir die “eerste” skooldag om die aanpassing so “pynloos” moontlik te maak. Onderwysers sal ook ’n verkorte onderrigsessie moet deurloop om die psigologiese uitdagings van skoliere te kan hanteer.

“Deur verkorte opleidingsessies moet skole toesien dat onderwysers toegerus word om skoliere met psigologiese uitdagings te kan ondersteun. Dit is veral van belang waar daar nie sielkundiges of beraders beskikbaar is om professionele insette te lewer nie,” sê Ceronio.

Nie alle onderwysers is genoegsaam toegerus om die nuwe psigologiese uitdagings die hoof te bied nie en individuele verskille soos byvoorbeeld opleiding speel hier ’n rol. ’n Onderwyser wat sielkunde of lewensoriëntering as vak gehad het, mag dalk beter toegerus wees as iemand wat nie daardie agtergrond het nie.

Persoonlikheid speel ook ’n rol. Die meer mensgerigte, empatieke onderwyser sal leerders se psigologiese uitdagings beter hanteer en verstaan as onderwysers wat meer taakgeoriënteerd is. Die Departementshoof: Opvoedkundige Leiding is daarvoor verantwoordelik om te verseker dat leerders met psigologiese uitdagings die nodige ondersteuning ontvang.

Erika Basson, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg wat meestal werk met tieners, sê die “nuwe normaal” by skole gaan beslis ’n impak hê op die meeste skoliere se geestesgesondheid, angsvlakke en algemene lewensuitkyk.

“Jong mense se angsvlakke is tans baie hoog en ek vind ook dat depressie by tieners toegeneem het tydens die grendeltydgleuf. Dis veilig om te sê die aangepaste skoolomgewing sal beslis ’n impak op almal hê, maar die intensiteit daarvan sal verskil van persoon tot persoon. Die ouer tiener sal dit anders beleef as die kleiner kind en sal sodanig anders benader moet word,” sê sy.

“Só byvoorbeeld kan die skep van sosiale afstand by die jonger groep ’n groot aanpassing wees en bydra tot stres. Hulle was gewoond daaraan om met spel aan maatjies te vat en nou word dié voorreg hulle ontneem.

“Die afstandmaatreël kan veral die kleiner mensies se emosionele ontwikkeling nadelig beïnvloed. Die skoolterrein vorm die klaskamer waar kinders leer om sinvol te sosialiseer. Hier word met maats gespeel wat die grondslag vorm van toekomstige verhoudings, die instandhouding van sulke verbintenisse en die beheer van emosies. Deur spel en fisiese interaksie leer kinders om gesonde verhoudings te handhaaf,” voeg Basson by.

“By tieners kan die skool se nuwe omgewing ’n gevoel van verlies aan hoop en die einde van die wêreld inisieer. Daar is byvoorbeeld nie meer rugbywedstryde, kooroefeninge, toneelopvoerings of saamkuier op die speelgrond om na uit te sien nie. Dit kan voel asof niks meer betekenis of waarde het nie, want die lekker goed is weg.

“Die werklikheid dat Covid-19 ’n wêreldverskynsel is, kan verder negatief bydra en depressie en angstigheid aanvuur. Daarbenewens is onderwysers se veranderde metodiek ook ’n angsfaktor vir leerders wat kan inwerk op skolastiese prestasie. Kortom, daar is orals angs en dit bring mee dat skoliere nie optimaal kan funksioneer nie,” sê Basson.

Huis se angs kom saam

Wat die heropening van skole na die staat van inperking emosioneel nog meer ingewikkeld kan maak, is dat baie skoliere reeds angstig en depressief by die skool aanmeld.

“In baie ouerhuise word ekonomiese en emosionele uitdagings beleef wat oneindige druk en konflik veroorsaak. Met gesinsgeweld is daar vir kinders ook nie uitkomste nie, want almal is onder een dak saam ingehok. Van die huis se angs kom saam skool toe.”

Die veranderde skoolterrein skep uitdagings wat wesenlik as ’n eerste in geskiedenisboeke sal figureer. Navorsers voorspel dat die huidige pandemie se sielkundige uitwerking ’n erge impak op die geestesgesondheid van die meeste mense regoor die wêreld kan hê.

“Saam met die Covid-19-pandemie gaan daar wêreldwyd ’n sielkundige siektevlaag kom. Ons sit met miljoene mense met verhoogde angsvlakke wat inmeng met die brein se hormone en funksionering. Ná die pandemie gaan ons ’n groot aantal angsversteurings sien, maar ons is voorbereid daarop om die nodige bystand te verleen,” sê Basson.

Marie Dahl skryf uit Londen

Marie Dahl, uitvoerende hoof van Save the Children’s Mental Health and Psychosocial Support in Londen, skryf kinders beleef tans ongelooflike omwentelings en op ’n skaal wat ons nog nie in dié leeftyd ervaar het nie. Hulle lewe het oornag veranderings ondergaan en so baie is steeds onbekend oor die langtermyn-uitwerking van die krisis. Laasgenoemde noop ons om waaksaam te wees en sover moontlik alles in te span om die impak op hulle psige te versag. “Hoewel kinders gekenmerk word deur emosionele veerkragtigheid kan ons nie die pandemie se impak onderskat op hulle geestes- en fisiese gesondheid nie,” sê sy.

One thought on “Sielkundige druk op leerders en die ‘nuwe normaal’ vir onderwysers

  1. Sarel says:

    Ons kinders word nie meer toegelaat om kind te wees nie

Comments are closed.