Volksrust: Een dood, talle dakloos toe brand gebou verwoes

Die ou hospitaal op Volksrust, wat op die grens van Mpumulanga en KwaZulu-Natal, aan die voet van die Amajubaberg, geleë is, het op 15 Junie 2020 in die vroeë oggendure aan die brand geslaan. Die ou hospitaal is in goedkoop huisvesting vir behoeftiges omskep. Op ’n besonderse manier word die Here deur dié tragedie, wat die lewe van Gert (Tom) Thompson geëis het, aan ’n gemeenskap wat nog vas aan die slaap is, geopenbaar.

Die minimum-temperature op Volksrust is dié naweek buitengewoon laag en ’n hele paar grade onder vriespunt. Die blok met 27 inwoners in die hospitaal, wat uit twee blokke met ’n totale inwonertal van 70 bestaan, het aan die brand geslaan. Die brand versprei vinnig terwyl die een na die ander gasbottel begin ontplof. Die slapende inwoners word deur dié geluide wakker en het uit hulle beddens geroep, ’n kombers gegryp en in hulle slaapklere uit die gebou gevlug.

Die vraag na waar God was, maal deur die 27 individue se kop as hulle aanskou hoe die wrede vlamme al hulle besittings vernietig. Weens die gebrek aan ’n brandweer op die dorp en ten spyte van soveel boere wat kom help het, kon die inwoners nie anders as om net magteloos toe te kyk hoe die brand stelselmatig die gebou en sy inhoud, verslind nie. Genadiglik is net die een gebou in die brand vernietig, maar Tom Thompson het sy lewe verloor.

Byna al die besittings van die 27 inwoners is in die brand by die ou hospitaal vernietig. Van Schalkwyk skryf dat die gemeenskap van Volksrust saamgestaan het deur dadelik die brandslagoffers van sop, broodjies, matrasse en huisvesting te voorsien.

Waar was God? Dié vraag is in die inwoners en die hele gemeenskap se hart ingegraveer. Maar nou eers, wanneer ’n mens terugdink aan die gebeure van daardie vriesende Maandagoggend, besef jy met sekerheid dat God dáár was.

God was daar toe die mense, enkele oomblikke na die brand, met sop en toebroodjies reggestaan het. Die Here was daar toe die inwoners onmiddellik in die kategeselokale van die Suidkerk huisvesting ontvang het. God was daar toe die skool tydelik beddens en matrasse voorsien het. God was in die gemeenskap wat in ’n tydperk van enkele ure met hope klere, komberse en kos opgedaag het. Die Here was daar in die berading wat gebied is en het gesorg dat die gestrande inwoners Maandagaand warm en met ’n vol maag kon gaan slaap. God was daar in elke skenking wat van heinde en verre gemaak is.

As iemand teen dié tyd nog nie oortuig is van God se teenwoordigheid tydens hierdie ramp nie, moet die getuienis van Fanie Schultz definitief die hart van talle mense aanraak. Fanie het die Dinsdagoggend ná die brand gaan kyk of daar van sy besittings is wat hy uit die puin kan red. Te midde van al die pyn, openbaar God sy genade aan Fanie. Al die besittings in hulle kamer is tot as verbrand behalwe Fanie en sy vrou, Elize, se Bybels. Fanie het die Bybels, met net ’n bietjie roet aan, op twee ongeskonde houtbedkassies, aan weerskante van hulle week-oue uitgebrande dubbelbed ongeskonde gevind. Is dit toevallig of het God sy hand oor die Woord gehou? Later die week is Hennie Visagie se Bybel ook sonder enige brandmerk op sy half-uitgebrande spieëlkas gevind.

Die Bybels van Fanie en Elize Schultz en Hennie Visagie is na afloop van die verwoestende brand by die ou hospitaal op Volksrust ongeskonde gevind. Dié vonds is vir die gemeenskap ’n teken dat God sy hand oor die Woord gehou het.

Dié gebeure is iets om te ervaar en herinner my aan die teksgedeelte in Jesaja 41:10 wat sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Die inwoners wil almal in die gemeenskap, wat die afgelope tyd gehelp het met kosmaak, klere skenk en uitsorteer, bedank. Hulle wil dankie sê vir die konstante omgee en liefde wat hulle ontvang het. Hulle bedank ook almal regoor die land wat gehelp het deur kos, meubels en klere te stuur, kontantbydraes gemaak het en op welke manier ook in hulle behoeftes voorsien het. Sonder al die hulp, sou ons nie aan hulle die nodige ondersteuning kon bied nie. Ons dink spesifiek aan Martie Thompson en die familie, met die afsterwe van Tom tydens die brand.

Met hierdie brand kan die inwoners en gemeenskap van Volksrust net getuig: Die Here is gróót. Die Here lééf. Die Here het sy hand oor ons en oor sy Woord gehou. Aan God al die eer vir die besondere ervaring wat Hy ons laat beleef het.

  • Ds Charl van Schalkwyk is leraar by NG Kerk Volksrust.