LUISTER: Rou in die tyd van Covid-19

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Anelia Heese van Nürnberg, Duitsland, skryf:

Ek en my man woon al ses jaar in die buiteland. Soos 820 000 ander emigrasiegesinne, is ons geliefdes reg oor die wêreld versprei.

In Mei 2020 is my oupa in die Wes-Kaap oorlede. Twee dae ná sy afsterwe is ek in ’n hospitaal in Duitsland vir ’n breinoperasie opgeneem. ’n Maand gaan verby … tydens my moeisame herstel, tref die trauma waardeur ons as familie is, my. My ouma kon nooit van haar lewensgenoot afskeid neem nie. My ma kon my nie met ’n lewensgevaarlike operasie bystaan nie. Korona-inperkings het ons van afskeid en bystand beroof.

In Junie ontvang ek ’n boodskap van my ouma: “Ek kon nie eens my maat groet nie … ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep, en ek kon nie daar wees nie.” Hierdie onbewustelike uitroep na hulp, asook die pynlike verlange huis toe, het my genoop om op ’n unieke manier na my familie uit te reik.

Ek het ’n “virtuele gedenkdiens” vir my oupa saamgestel deur huldeblyke via WhatsApp “voice notes” te versamel, asook ’n boodskap van ds Frik Smit van die NG gemeente Albertinia.

Met die hulp van ’n boesemvriendin, woonagtig in Kaapstad, is die opnames in ’n oudiodiens verwerk. Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal een Sondag om 10:30 – elk in ons afsonderlike sitkamer – om afskeid te neem. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan.

Natuurlik is dit nie ’n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van ons geliefdes nie. Hierdie klankopname is wel, tot vandag toe, vir ons ’n bron van troos. Die huidige era van digitale oorvloed beroof ons soms van verbeelding en introspeksie. Hierdie opname wek herinneringe – helderder as ’n slimfoonskerm – by my op: As ek my broer se stem hoor, voel ek die grein van ons ouerhuis se kombuistafel teen my knie skaaf, en die geborgenheid wat daarmee saam gaan.

Miskien is dít genade wat alle verstand te bowe gaan: God se liefde tussen ons, ten spyte van ontasbare afstand. Dit is grensloos en ontasbaar, maar onwerklik is dit ook nie. Ten spyte van hierdie grendeltyd, kan ons tog bymekaar kom, al is dit nie in die kerk nie.

  • Luister HIER: Gedenkdiens: Gert van der Merwe. Met erkenning aan: Anelia Heese – Produksie Andri Burnett: Klankbaan. Ds Frik Smit, Albertinia Gemeente: Preek.

4 thoughts on “LUISTER: Rou in die tyd van Covid-19

  1. Vida says:

    Baie dankie aan Kerkbode en Anelia Heese wat ons instaat gestel het om hierdie treffende gedenkdiens te kon luister.

  2. Helene Hugo says:

    Dankie dat ons hierin kon deel. ons voel julle seer, maar ook die berusting vind, so saam op n ander manier.. By so baie vind dit weerklank in hierdie tyd van afsondering. In Hom vind ons vrede. Helene Hugo

  3. Ellie Prinsloo. says:

    Vertroostend dat ons in die moeilike tye nogsteeds met ‘n sterk geloofsband saamgebind word en mekaar se las en verlange draagbaar kan maak en besef waarheen ons ookal oppad is God wag reeds daar vir ons: Love in the time of Covid. Lief en verlang na almal en bly jul steeds in ons harte en gebede. Liefde Ellie Martin & Melani.

  4. Elma says:

    Dit is voorwaar ‘n voorreg om te kon deel in julle onthou en troos. Oom Gert se getuienis as kind van God raak mens aan. Elma

Comments are closed.