Clarens: Op 100 kyk gemeente terug na rol in gemeenskap

Deur die jare het hierdie gemeente vir duisende mense, oud en jonk, ’n geestelike tuiste gebied, skryf DONS KRITZINGER.


Op 23 Junie 1920 is die NG gemeente Clarens afgestig van Bethlehem.

Die dorp Clarens het in 1912 amptelik ontstaan, maar buitedienste is reeds vroeër in die holkransgrot by Ouwerf bo die Swartland op die plaas Nauwpoort gehou. Dit het skynbaar alreeds tydens die Boere-oorlog gebeur. Later, maar nog voor die afstigting, is ’n sinkgeboutjie op die hoek van Hoof- en Naudéstraat, reg noord van waar die huidige kerkgebou staan, vir eredienste gebou.

Die Krugergedenksaal is in 1921 deur die Oranje-Vrouevereniging (OVV) op die hoek van Hoof-en Besterstraat gebou. Blykbaar was die gedagte dat dit as kerkgebou kon dien, maar dit het nie gebeur nie. Eers teen 1950 is die saal amptelik aan die gemeente oorgedra. Daarna is ’n verdere saal met kombuis aangebou en is die voorportaal in ’n kantoor omskep.

In 1923 is die pragtige sandsteenpastorie gebou. Die argitek was die bekende Gerhard Moerdyk van Pretoria. Die volgende word daaroor vertel. Die eerste leraar, ds Stander, het in ’n paar sinkvertrekke oorkant die ou poskantoor in die hoofstraat gewoon. Sy vriend Gerhard Moerdyk het by hom gekuier, en so koud gekry dat hy aangebied het om ’n pastorie te ontwerp. Om geld vir die gebou in die hande te kry, het die kerkraad die dominee vir ses maande met verlof gestuur sodat hulle die huurgeld kon opspaar! Vyftig jaar later is die ou pastorie vervang met ’n nuwe, op die terrein van die ou sinkkerkie. Gelukkig is die mooi ou pastorie later gerestoureer, en het die laaste klompie leraars daar ingetrek.

In die dertigerjare is beplan om ’n nuwe kerk te bou. Maar eers is die sendingkerkie in Kgube­tswana in 1936 oorgebou. Daar is met die firma Moerdyk onderhandel oor die ontwerp van ’n kerkgebou, maar in Oktober 1938 is besluit om die plan wat ds JJ le Roux voorgelê het te aanvaar. Mnr G van Zyl was verantwoordelik vir die besonderse sandsteenwerk, in Februarie 1940 is die hoeksteen gelê, en op 8 Februarie 1941 is die kerkgebou feestelik ingewy. Aanvanklik was daar ’n ui-vormige toring van koper bo-op, maar dié is later verwyder. Moontlik is dit dié toring (algemeen in Oos-Europa) wat die gedagte laat ontstaan het dat ds Le Roux die plan van ’n Switserse kerk bekom het. Die Möller-kerkorrel is uit die VSA ingevoer, ’n sogenaamde eenheidsorrel met drie basisregisters waarvan een register se pype geheel en al van hout is.

Tot vandag toe is hierdie kerkgebou ’n toeriste-aantreklikheid in Clarens se hoofstraat. Gedurende die week is die kerk oop vir besoekers, en mense van oor die hele wêreld het al bemoedigende boodskappe in die besoekersboek geskryf.

Oor die loop van die eeu het 14 predikante die gemeente bedien, maar met die eeufees vandag is die gemeente vakant. As gevolg van die wêreldwye Covid-19-pandemie en gevolglike beperkings van beweging en saamtrekke kon geen feestelikheid gereël word nie, maar word dit beplan vir wanneer dit later moontlik mag wees.

Deur die jare het die gemeente vir duisende mense, oud en jonk, ’n geestelike tuiste gebied. Dit is onberekenbaar watter geestelike groei en vreugde deur die jare in hierdie gemeente plaasgevind het. Talle sterk leiers en lidmate het oor die jare die gemeente gedien en uitgebou.

Mettertyd het die dorp ook ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Waar die klein dorpie ’n eeu gelede ’n tuiste gebied het vir ’n klompie arm mense, maar heelwat boere in die distrik bedrywig was, is dit nou hoofsaaklik ’n besige toeristedorp. Alhoewel die distrik nog bekend is vir sy goeie landboupotensiaal, is daar nou baie minder boere, want die boerdery-eenhede het groter geword. Die dorp het baie gegroei, heelwat mense het hier kom aftree, en ander het – aangetrek deur die mooi omgewing – hulle hier kom vestig. Talle winkeltjies en eetplekke gee ’n besonderse atmosfeer aan die dorp en lok besoekers. Clarens is nou landswyd bekend as ’n gewilde toeristebestemming.

Maar dit is die asemrowende natuurskoon en die skoon en helder lug wat steeds dieselfde gebly het.

  • Prof JJ (Dons) Kritzinger is emeritus-professor in Godsdiens- en Sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ons kommentaarbeleid

Lesersbydraes word goedgekeur voor dit verskyn en wel op grond van ons algemene gespreksriglyne wat kortweg as volg opgesom kan word: Meer lig as hitte. Verwag 'n vertraging tussen die instuur van jou kommentaar en die verskyning daarvan.