Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Reggie Peace. Foto: Liza Coetzee

Reggie Peace: Die kreatiewe vredemaker


“Ek het nie ’n plek gehad om te bly nie, ek bedoel, ek kom hier met net twee swart­sakke in Johannesburg aan en ’n droom om iets van my lewe te maak. Maar dis waar alles begin het. Johannesburg was beautiful en tough, maar Johannesburg het ook ’n groot rol gespeel in die Reggie wat ek vandag is,” vertel Reggie Peace.

Deesdae is hy ’n skrywer en akteur wat die afgelope tyd te siene was in reekse soos Spreeus, Huis Lelieveld en Generations. Sy tweede musiekvideo, “Kos op die tafel,” het pas verskyn.

Reggie het ’n passie om met groepe jongmense te praat en hulle deur sy eie verhaal en musiek aan te spoor en te motiveer om te ontdek wie die Here hulle gemaak het om te wees.

“Peace”, sy verhoognaam, het hy self gekies. Hy het eintlik ’n ander van. Dit was eers “Peace maker” wat iets probeer sê van sy voortdurende soeke na vrede binne homself, maar ook oor sy droom om ’n vredemaker te wees in hierdie land.

Reggie vetel dat dit dikwels moeilik vir hom is om met God te praat. “Dit voel altyd of ek met God worstel,” sê hy. Ons gesels daaroor dat “om met God te worstel” eintlik ’n baie sentrale Bybelse gedagte is. Daar is lofliedere en dagstukkies, maar let’s face it, die Bybel is ook vol klaagliedere, donker psalms en nagstukkies.

En Reggie kén van worstel. Hy is in Port Elizabeth gebore en het saam met sy ouers en drie broers in ’n vier by vier meter sinkhuisie gebly wat sy pa self aanmekaargeslaan het.

Sy ma is dood aan tering toe hy twaalf was. Hy sê hy vermoed sy pa is dood aan ’n gebroke hart, want hy en sy broer is kort na sy ma se dood kinderhuis toe, en sy pa was skielik heeltemal alleen. Hy is ’n bietjie meer as ’n week na hulle in die kinderhuis ingetrek het oorlede.

“My pa was ’n goeie man. My pa het altyd gesê jy is my koning, jy’s my laaitjie, jy’s Stouter se laaitjie, jy kan enig­iets word. Hy was ’n motivator, maar as hy dronk was, was hy ’n ander tipe ou,” vertel Reggie.

Sport en kuns speel ’n groot rol in Reggie se lewe. “Toe ek agt jaar oud was het ek begin hardloop. Ek kon nooit iets vir my ouers gee nie, maar as ek ’n medalje in ’n wedloop wen, kon ek dit huis toe vat en vir hulle gee”.

In die kinderhuis was daar skielik ’n klomp nuwe geleenthede en Reggie het dit aangegryp. Hy vertel dat hy probeer het om aan letterlik alles deel te neem. Kort voor lank is hy aangewys as die kap­tein van die OP-atletiekspan en in matriek is hy verkies op die leerling­raad.

Na skool het hy ’n paar geleenthede gekry via atletiek en het hy op die ou einde by die Universiteit van Johannesburg beland.

“Ek het op UJ begin drama swot, my sport het begin afgaan toe my drama- en musiekloopbaan begin optel.”

Hy vertel van die belangrike rol wat mentors in sy lewe gespeel het. Veral mense soos Chris Dirks van Athletes in Action.

Een van die dinge wat vir Reggie die meeste beteken het was om vir Chris dop te hou. Sy lewenstyl was sy bedie­ning. “En hy het sy huis vir my oopgemaak, sy familie het my familie geword,” vertel Reggie.

Hy vertel ook van ’n tannie Estelle wat destyds by die kinderhuis was en hom later baie aangemoedig het toe hy vir ’n tyd lank erg depressief was op Stellenbosch.

“Depressie sal ek beskryf as ’n slegte stem wat beheer vat van jou kop, van die begin tot die einde van die dag,” sê ­Reggie en vertel dat daar altyd mense was wat hom aangemoedig het in hierdie tye.

Nog iets wat hom gehelp het, was om duidelike doelwitte vir homself te stel en om bereid te wees om onder te begin en hard te werk.

Hy vertel hoe hy na hy ’n klomp rolle in bekende TV-reekse gespeel het, op ’n dag by ’n plek begin werk het waar hy swaar goed agter die skerm moes ronddra.

Vandag woon Reggie saam met ’n groep uiteenlopende jong werkende mense en studente in ’n huis langs Melville Kruisgemeente.

Hy sê hy het ’n stuk rustigheid gevind. “Vir die eerste keer in my lewe het ek my drome neergeskryf, vir die eerste keer het ek geleer om stil te wees, net te skryf en te luister en dinge in my lewe te laat gaan.” Die ondersteuning van die ander mense in die huis help hom baie en die feit dat hulle hom sy spasie gun.

Vir die eerste keer is Reggie Peace at peace. Wel soort van, want die stilte en die lockdown het ook ’n nuwe kreatiwiteit in hom wakker gemaak wat hom deesdae op ander maniere laat wakker lê. Reggie is ’n man wat kan groot droom en dinge wil doen.

Sy oë blink as hy vertel van al sy nuwe planne en saggies by myself bid ek dat die ou se drome asseblief tog waar sal word en dat baie jongmense in ons land nog by hom sal aansteek, en dit ook sal regkry om weer te begin droom.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Reggie Peace: Die kreatiewe vredemaker”

  1. Rina Coetzee

    Reggie inspireer my sedert ek hom ontmoet het. Hy is ‘n voorbeeld vir ons almal.. toonbeeld van deursettingsvermoë!

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.