SARK kap korrupsie, ‘Covid-preneurs’

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

In ’n sterk bewoorde verklaring het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) hom uitgespreek teen korrupsie.

Dit volg op voorvalle van beweerde korrupsie rondom hulpfondse vir die mees kwesbares in Suid-Afrika.

“Those who engage in such calculated Covid theft, are behaving like opportunists that swoop to gobble up access to help, leaving the weak and sick desperate for breath, and for protection from the deadly virus!” lui die verklaring wat die SARK op 29 Julie uitgereik het. “These so called ‘Covid-preneurs’ have shown that the evil culture of greed and corruption triumphs over honesty, ethics and good governance in our government, and this needs to be uprooted.”

Daar is onlangs ook kennis geneem van onreëlmatighede waarby onder andere die president se woordvoerder, Khusela Diko, en die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, na bewering betrokke is.

Die diepgewortelde korrupsie en die swak pogings om misdadigheid behoorlik aan te spreek wek nie die nodige vertroue dat enige verdere fondse vir die verligting van die ernstige sosio-ekonomiese impak van Covid-19 regmatig gebruik sal word nie.

Die SARK het ’n reputasie as ’n organisasie met ’n sterk profetiese stem veral as dit by korrupsie kom. Nog vars in die geheue is die sogenaamde Unburdening Panel Report wat hierdie liggaam op 18 Mei 2017 uitgereik het. In die verklaring het die SARK hom sterk uitgespreek teen staatskaping onder leiding van gewese president Zuma en die korrupsie wat daarmee gepaard gegaan het.

In die jongste verklaring word onder andere versoek dat president Ramaphosa ’n verskerpte poging sal aanwend om skuldiges aan die pen te laat ry. Om korrupsie bloot net te veroordeel is nie meer goed genoeg nie. Daar word ook gepleit vir ’n teen-korrupsie-veldtog deur die burgerlike samelewing. In daardie opsig moet die rol van fluitjieblasers aangemoedig word asook die beveiliging van persone wat korrupsie aanmeld. Spesiale howe moet ingestel word om ernstige Covid-19-misdade te hanteer, meen SARK-leiers.

Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk. 

Die NG Kerk is ’n lid van die SARK.

5 thoughts on “SARK kap korrupsie, ‘Covid-preneurs’

  1. Floris Avenant says:

    Waardeer ‘n sterk stem van die kant van SARK, waarop ook die NG Kerk verteenwoordig word.

  2. Gerrie says:

    Hoekom is die NG Kerk se profetiese stem stil ???
    Dis baie hartseer maar ook pateties !!!

  3. Elsie says:

    Net die almagtige God sal die korrupsie stop ek weet Hy sien alles en sal rekenskap eis
    Hierdie korrupte mense weet nie wat hulle doen nie

  4. Leon Foot says:

    Gerrie. jy is onbillik.

    Waar het jy gelees van die SARK se verklaring? Juis op die NG KERK se amptelike tydskrif, Kerkbode, se blad!

    En onderaan staan dit duidelik: Die NG Kerk is ’n lid van die SARK. Hierdie verklaring is ook ons verklaring.

    Die NG Kerk het om verskillende redes doelbewus gekies om nie alleen nie, maar saam met ander gelowiges te reageer op sosiale kwessies. Ons stem is beslis nie stil nie, en dit is alles behalwe pateties.

  5. Johan Schoeman says:

    Die ANC het onder die invloed van die SA Kommunistiese Party, baie vroeg reeds besef dat SA ‘n Christenland is en daarom moes hulle maksimum gebruik maak vd kerke, en om die rewolusie te laat slaag, moes die kerk deel gemaak word van die rewolusie en so aan die rewolusie ‘n “mantel van heiligheid” verskaf.
    Dit is daarom ironies dat in die na-rewolusie in SA, die kerk nou onder groot druk verkeer. Die kommunistiese regering het die kerk van die dag nou dood gesmoor en ek wonder of die kerk ooit weer relevant gaan wees na dese. Die NG kerk het die ANC wat hy aan bewind gehelp het, se ware kleure nou gesien, maar dit is helaas heeltemal te laat!

Comments are closed.