Het jy ’n dag en ’n datum?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In ’n trommel vol ou dokumente en ander persoonlike goed in my motorhuis kry ek weer die Bybeltjie. So ’n donkerrooie, ene wat maklik in jou sak pas.

Die Gideons in Suid-Afrika,” staan voorin. “Posbus 1632, Pretoria.”

Op die volgende bladsy is die woorde van “Die Stem van Suid-Afrika” afgedruk, langs die “Onse Vader”.

’n Man van die Gideons het die Bybeltjies, slegs die Nuwe Testament en die Psalms, een Maandagoggend tydens saalopening by die skool kom uitdeel. Elke kind het een gekry. Miskien was meer as een Gideons-oom daardie dag daar. Ek kan nie onthou nie. Dit moet in 1976 of 1977 gewees het. Hierdie was toe ’n ander land, en dit was nie vreemd om “Die Stem” in die Bybel afgedruk te sien nie.

En toe, terwyl ek daar by die trommel in die motorhuis deur die Bybeltjie staan en blaai, word ek herinner aan nog iets waaraan ek nie meer baie dink nie. Agterin, op die heel laaste bladsy, staan in fyn lettertjies: “Ek bely voor God dat ek ’n sondaar is, ek glo dat die Here Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en vir my verlos­sing opgestaan het en nou bely ek Hom en neem Hom aan as my persoonlike Verlosser.”

LEES OOK: Te laat om dán ’n lewe te vier?

Reg onder dit is ’n ruimte gelaat waar jy jou naam kan inskryf, asook die dag en datum waarop jy tot bekering gekom het.

In my Bybeltjie staan daar niks in daardie opening nie. Nie my naam nie. Nie ’n datum nie. Niks nie.

“Het jy ’n dag en ’n datum?” is ’n vraag wat jy dikwels as kind gehoor het – veral wanneer dit tyd geword het dat jy in die kerk aangeneem en voorgestel word.

Omdat ek in die koshuis op Nylstroom was, was ek nie in Pa se finalejaar-katkisasieklas nie. Ek was by ds Japie van Deventer, Maandagmiddae in die konsistorie van die Oos-gemeente op Nylstroom se kerkgebou.

Ds Japie, ’n krulkop-man, met ’n sagte stem, wat jy soms op die dorp sien draf het in sy frokkie en Game-drafbroek. Iets wat hom ’n bietjie meer menslik gemaak het.

En tog: Ek onthou hoe bewerig ek was toe ek ds Japie die middag in sy studeerkamer in die pastorie moes gaan spreek het, ’n week of so voor die Son­dag waarop ons aangeneem en voorge­stel sou word. Dit is nou as ds Japie jou nie geweeg en te lig bevind het nie.

LEES OOK: ‘Wat jy hier sien, is ’n wonderwerk’

Ek wens ek kon al die gedagtes oproep wat ek daardie middag gehad het toe ek van die koshuis na ds Japie se pastorie gestap het. Af in Tamsenstraat, tot in Magasynstraat.

Nou was jy nie meer alte bekkig daar tussen jou maats voor ds Japie in die konsistorie nie. Nou was dit net jy en ds Japie. Alleen. En jy het geweet hy gaan jou Daardie Vraag vra: Is jy ’n wedergebore kind van die Here?

Ek was nie mooi seker wat om te antwoord nie. Ek het wel tot bekering gekom op ’n avontuurkamp naby die Los­kopdam in standerd 6, drie jaar tevore. Maar ek was nie meer so seker oor daardie bekering nie. Ek was weer vol vuil gedagtes en wilde drome.

Die naam van die oom wat die avontuurkamp aangebied het, kan ek nie meer onthou nie. Was dit oom Fanie? Dalk oom Hennie?

Ons was net seuns op die kamp en hierdie oom Fanie of oom Hennie en sy helpers het ons die hele dag, vir byna ’n week lank, in die veld besig gehou. Hulle het ons leer spoorsny en vir ons gewys watter bessies en veldvrugte jy kan eet om te oorleef. Ons het met ’n tou oor ’n rivier geseil en ’n giftige skerpioen van naby bekyk.

Saans, ná ete, moes ons in ’n lesingsaal sit en luister hoe oom Fanie of oom Hennie vir ons vertel van die kommunistiese aanslag teen die Republiek en dat veral ons, die jeug, die kommuniste se teiken is. Hoe die kommuniste ons probeer sag maak met popmusiek en die liberale leerstellings soos verkondig deur Beyers Naudé en ’n tydskrif soos die Scope waarin kaal meisies is, net met sterretjies oor hulle borste.

LEES OOK: Dana onthou: Ma. Saam met mev Betsie Verwoerd, nogal

Hoe ons, die Afrikaners, met ’n goddelike doel hier aan die suidpunt van Afrika geplaas is om die heidene te kersten en die Westerse beskawing te vestig.

Maar voor jy die heidene kan kersten, moet jy self eers besef hoe vol sonde jy is en tot bekering kom.

Ek het dit daardie middag oorweeg om vir ds Japie te sê ek het ’n dag en ’n datum. Hoe ek een aand tydens die avontuurkamp aan oom Fanie of oom Hennie se rondawel se deur gaan klop het en saam met hom by die bed gekniel en voor die Here bely het van dat ek nie genoeg bid nie en soms terugpraat as my pa en ma met my raas en van al die vuil dinge wat ek doen en dink wanneer ek saans nie met my hande bo die kom­bers in die bed lê nie. Iewers in die gebed het ek begin huil, en huil, en toe het ek vir die Here gesê ek gee my hart vir Hom.

Miskien is ek nou nog meer dankbaar as tóé dat ek vir ds Japie gesê het ek glo die Here het my lief, maar ek het nie ’n dag en ’n datum nie.

Die volgende Sondag het ds Japie my aangeneem en voorgestel. Iewers het ek nog ’n foto waarop ek daardie dag saam met oorle Pa en Ma staan, in ’n poeierblou pak wat my pa-hulle spesiaal by Coquis-mansuitrusters in Pretoria vir my gekoop het.

Ek sal die klein rooi Bybeltjie bewaar solank ek kan. Om my te herinner aan iets belangrik wat ek nie behoort te vergeet nie.


LEES OOK: Al die jongste vakatures

LEES OOK: Lesersbydraes 

11 thoughts on “Het jy ’n dag en ’n datum?

  1. Theunis de Bruin says:

    Dit bly ‘n vrag wat gevra word veral deur die “Evangelicals”. en hulle staan en val by dit. Die ander pad is die pad van die verbond: As jou ouers erns maak met jou verbondsopvoeding en begelei op die pad van geloof, sal jy net een dag ontdek dat jy al van lankal af, eintlik jou ganse geheue tyd, weet ek is ‘n kind van God.

  2. Gerrie says:

    Dana,
    Dankie vir die storie !
    In my rooi Bybeltjie staan my naam en 13.2.72.
    Groete.
    Gerrie.

  3. Jurgens Hendriks says:

    Dankie Dana. Dis kosbaar, dis eg en dit is soos dit daardie tyd was.
    Intussen is daar ‘n Kopernikaanse verandering in die teologie aan die gang … en deur die groot genade is dit bevrydend.

  4. Fanus Hansen says:

    Ai Dana, soos net jy kan!

  5. Christo Brümmer says:

    Ek kan rêrig identifiseer met wat Dana geskryf het. Met my het dit baie dieselfde gegaan. Maar die kwessie van ‘n datum: ek het baie datums gehad, want ek het oor en oor die Here Jesus “aangeneem”. Tot ek later besef het dit gaan nie oor ‘n tegniek nie; daar is nie ‘n formule (soos “the sinner’s prayer”) wat verseker dat ek rêrig die Here aangeneem het nie. Dit gaan maar net oor geloof. Om te weet dat Jesus die Here is en dat ek deur sy genade aan Hom behoort. Dit is inderdaad bevrydend, soos Jurgens Hendriks sê.

  6. Susan says:

    Dit vat my ook ver terug. Kampe bygewoon, tot bekering gekom, belydenis afgelê. Nou dink ek anders oor die kerk as toe. Maar nog dieselfde oor die God van die Bybel. My man was ‘n dominee en tans is ons by geen “kerk” betrokke nie. En dis goed so.

  7. Anna-Marie Venter says:

    Gelukkig is die Here nie in die dag en datum besigheid nie. Hy is net in die ” ek ken jou hart, ek is lief vir jou, jy is kosbaar net soos jy is, sonder vlek en rinpel”. besigheid. Die dag as mens dit leef, het jy ‘n koningkryks lewe vol hoop..!!

  8. Ronél says:

    Jy laat my ver terugdink.

  9. Lizette says:

    Ja ds Japie is ook nou nie meer met ons nie. Hy was ‘n opregte mens met ook ‘n goeie sin vir humor.
    Goeie grootword herinneringe van Nylstroom, katkisasie, en veldskool. Waarmee indoktrineer ons vandag se kinders?

  10. Derick Saaiman says:

    Ek glo vas in “Alles is genade,” maar ek verwerp die gedagte dat ek net soos ek is vir God aanvaarbaar is. Uit die gelykenis van die verlore seun, onder andere, is dit vir my duidelik dat die verlore seun [Ek] uit sy vodde en sy vuil; ,moet opstaan en die varkhok met sy stank moet verlaat en begin loop na sy vader se huis toe.
    Ja, inderdaad kom ek na Hom net soos ek is, maar Goddank Hy het my te lief om my te los net soos ek is, want Hy maak my nuut in Jesus Christus.
    Om te glo dat sonder bekering is ons saak sommer reg met die Heilige God , is waansin!

  11. Antoinette says:

    Ons ds het n harde stem gehad…pikswart kort gesnyde hare, nommer 2 cut.
    Pikswart raam bril…dit was toe al lankal bekend as jy by hom uitkom moet jy net begin huil…ja sê op alles wat hy sê en vra…en dan was jy verseker van n “aanneem” . Ons was almal vreeslik bang vir die pikswart dominee…ons huil was vir die bang vir hom …en nie vir die vrae waarop ons moes bely het nie Hy vir ons as jongmesies vreesaanjaend en die vrees wat hy ingeboesem het vir mans en die duiwel se dinge was erg en verseker nog meer vir die seuns…hulle grootbekgeit was ook stil as hulle daar uit gekom het….
    Kan nie help om tog te wonder wat het van sy kinders geword nie

Comments are closed.