Tieners kan in spervuur beland tydens Covid-19-pandemie

Die donker impak van Covid-19 op talle jongmense word nou meer waarneembaar namate plaaslike en wêreldwye opnames die poel van kennis aanvul en uitbrei.

Navorsing plaas tieners in spervuur

Luidens ’n onlangse verslag deur die American Centres for Disease Control and Prevention het een uit elke vier tieners die afgelope maande selfdood oorweeg. Navorsers wou inligting bekom oor mense se geestesgesondheid gedurende die Covid-19-pandemie en het nagenoeg 5 000 vrywilligers van alle ouderdomme by die opname betrek.

Tieners is risikogroep

Tydens die ondersoek is bevind dat angs, depressie, dwelmmisbruik en romantisering van selfdood aansienlik hoër was in die tyd vergeleke met vorige jare. Die ondersoek het ook tieners as die groter risikogroep geïdentifiseer.

Plaaslike kenner stem saam

Dr Erika Hitge, berader en psigometris in privaatpraktyk, sê dit is heel moontlik dat tieners meer kwesbaar is vir die gevolge wat spruit uit die Covid-19-pandemie in vergelyking met ander ouderdomsgroepe.

“As gevolg van spesifieke aspekte wat met dié ontwikkelingsvlak geassosieer word, byvoorbeeld die groter impak van ouderdomsgenote (peers) op die tiener, is hulle meer kwesbaar. Hulle is op dié ouderdom baie meer vatbaar vir groepsdenke as die ge­dagtes wat hulle ouers het en is in ’n proses van toenemende onafhanklikheid veral op emosionele vlak.”

Hitge meen verder: “Hulle was tot on­langs tot en met fase 3 van die grendelgleuf fisies verwyder van hulle ouder­domsgroep en voel moontlik ontwortel, onseker en betwyfel hulle plek in die sosiale groepe waarvan hulle deel is. Dit is moeilik om daardie behoort-ruimte virtueel te bevestig.”

Tieners uitgelewer aan gesinslewe

Sy sê hulle is nou uitgelewer aan die ge­sinslewe terwyl dit ’n psigologiese taak is om onafhanklik te word van die primêre gesin. Dit kan baie frustrasie en selfs depressie meebring.

LEES OOK: Aanlyntienerbediening ’n ontwrigting en ’n geleentheid

“Tieners is bekend daarvoor om emosioneel te wees as ’n resultaat van hormonale veranderinge. ’n Mens kan dus aanvaar dat bykomende aanpas­sings ook addisionele stres en verhoogde hanteringsmeganismes se inwerkingstelling vereis. Jongmense het nie altyd toegang tot dié roetes nie,” verduidelik Hitge.

Tieners wanhopig oor eie onvermoë

Hitge meen tieners kan ook wanhopig voel oor hulle eie onvermoë om hulle emosies te reguleer en om in hulle verhoudings te bly funksioneer.

“Saamwees met ouers en konflik kan tot negatiewe ontsnappingroetes lei soos dwelm- en drankmisbruik asook mutilasie en selfdood. Selfwaarde kan ook bevraagteken word omdat daar nie bevestiging is van die portuurgroep in persoon nie.”

Konflik binne gesinne en gesonde ondersteuning

Die meeste gesinne ervaar meer konflik wanneer almal heeltyd saam is. Wanneer tieners gesonde ondersteuning­stelsels het en as ’n reël goeie selfregule­ring kan toepas, kan hulle dié probleme moontlik vry­spring.

Indien jongmense tevrede sou wees en goeie geestesgesondheid ervaar, behoort die strui­kelblokke ’n moont­likheid eer­der as ’n werklikheid te wees.

Wêreldkundige oor stres en selfdood

Prof Lourens Schlebusch, stig­ter en voormalige hoof van die Department Ge­drags­genees­kunde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en wê­reldkundige op die gebied van selfdood, sê die sielkundige impak van die pandemie kan talle jongmense nadelig beïnvloed.

Schlebusch, outeur van Suicidal behaviour in South Africa en voormalige lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se studiegroep oor selfdood, sê volgens sy omvattende na­vorsing is byna 10% van alle on­na­tuurlike sterftes onder Suid-Afri­kaanse tieners te wyte aan selfdood.

“Tienerselfdood en -pogings is steeds aan die toeneem in Suid-Afrika en tot ’n derde van selfdoodpogings is onder kinders. Die gevolge wat spruit uit die pandemie soos verhoogde angsvlakke, depressie, ’n gevoel van hope­loosheid met ’n negatiewe verwagting van die toekoms kan die situasie vir jongmense sielkundig verder kompli­seer,” sê hy.

Covid-19 teelaarde vir stres

Volgens Schlebusch is die Covid-19-pandemie ’n teelaarde vir stres en wanneer stresvlakke nie beheer kan word nie, kan dit omskakel in gedrags­probleme gepaard met depressie en angs. Laasgenoemde kan lei tot neigings van selfdood wat gewoonlik aan ’n gevoel van hopeloosheid gekoppel word.

“Die einde van die jaar is veral ’n angstige tydgleuf vir die meeste kinders. Jongmense wag op eksamenuitslae en moet toegang kry tot tersiêre instansies. Diegene wat nie verder gaan studeer nie, moet werk soek in ’n land waar die werkloosheidsyfer die hoogte inskiet.”

Onsekerheid in onderwys en stres

Schlebusch sê die huidige onsekerheid op die onderwysgebied vererger jongmense se situasie en al dié faktore veroorsaak stres en depressie wat verder aangevuur word deur die Covid-19-pandemie. Dit is ’n resep wat die probleem vir tieners baie meer intens maak.

Luidens ’n artikel in Kuier sê Schlebusch hoewel almal wat aan depressie ly nie selfdood pleeg nie, is die meeste mense wat met selfdoodge­dagtes worstel, terneergedruk. Nie alle tieners toon vooraf hulle voornemens nie, maar daar is besliste tekens.

Hy wys die volgende moontlike snellers uit waarvan ouers moet kennis neem: Skielike veranderinge in gedrag, doellose optrede, gemoedswisseling (uitbundige vreugde teenoor ’n eienaardige kalmte), sosiale onttrekking, die weggee van waardevolle persoonlike besittings, beheptheid met dood of selfdood, afskeid van geliefdes en vriende en geen voorbereiding vir die toekoms.

Statistieke van Lifeline Suid-Afrika

Nomsa Papale, woordvoerder van en be­stuurder by Lifeline Suid-Afrika, sê oproepe van jongmense tussen die ouder­dom van 13 en 24 jaar het sedert Maart vanjaar aansienlik toegeneem.

“Lifeline het oproepe ontvang uit verskillende groepe insluitende lede van die gay-gemeenskap. Dié jongmense het veral gesukkel met die grendelgleuf tuis en het dit dikwels as ver­nie­tigend beskryf, sê sy.”

“Hulle het die afsondering met sy voorgeskrewe voorkomingsmaatreëls deurgaans negatief ervaar en gevind dat eensaamheid met gepaardgaande emosionele pyn dit moeilik maak om te kon funksioneer. Dit het tot ’n gevoel van hopeloosheid gelei waartydens selfdood in baie gevalle oorweeg is.”

Psigologiese nood vir dié wat reeds worstel

Papale sê angs, ’n gevoel van isolasie gedurende die pandemie en die grendelgleuf se beperkinge het bygedra tot psi­gologiese nood veral vir diegende wat reeds met geestesgesondheid worstel. Covid-19 het die lewe van elke kind en jongmens in die land omvergewerp.

Depressie en angs

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angs­groep (SADAG) het Suid-Afrika­ners onlangs gewaarsku dat ’n tweede krisis­vlaag die land gaan tref. Hulle sê volgens internasio­nale navor­sing word voorspel dat Covid-19 se sielkundige impak meer verwoestend gaan wees en langer gaan duur as die pandemie self.

Lewensbestaan beïn­vloed

SADAG se operasionele bestuurder, Cassey Chambers, sê Covid-19 het mense se lewensbestaan op alle vlakke beïnvloed.

“Die impak op individue se geestesgesondheid is groot en volgens onlangse navor­sing ervaar die helfte van die Suid-Afrikaanse werknemerskorps post-traumatiese stres.”

“Mense sukkel geweldig en bel in oor depressie, angs, eensaamheid en selfs selfdood. Gedurende Maart het ons 19 507 inkomende oproepe ontvang wat in April tot ’n verbysterende 40 347 gestyg het. Dit is gevolg deur ’n geleidelike toename in Mei tot 44 948 en 47 322 in Junie. Oproepe wat met selfdood verband hou, neem toe namate die inkomende oproepvolume styg.”