Impakstories uit gemeentes | Agter eenrigtingglas

“Die terapiekamer is wow! Dit is die ligpunt van my week.”

Só sê Riana van Vuuren, maatskaplike werker van Badisa, oor die terapie- en observasiekamer wat die NG gemeente Gansbaai op hulle kerkterrein ontwikkel het. Die kamer word deur geregistreerde terapeute gebruik om hulle liefde vir kinders uit te leef.

Ds Hanri Joubert, leraar by NG gemeente Gansbaai vertel dat die le­raarspan geskok was om te hoor van die trauma wat in die Gansbaai-gemeenskap, veral deur kinders, ervaar word. Die leraars het vir mekaar gevra wat hulle kan doen om dié probleem aan te spreek. Joubert vertel: “Ons het ’n ge­sprek gereël met terapeute in die om­gewing en dit het geblyk dat daar ’n groot behoefte aan ’n observasiekamer is. ’n Obvervasiekamer is ’n lokaal met eenrigtingglas waar terapeute slagoffers van ’n afstand kan observeer. Spelterapeute kan byvoorbeeld vir kinders ’n speletjie laat speel en dan ongesiens kyk hoe die kind die speletjie benader. Ons gemeente het besef ons kan in hierdie behoefte voorsien en het die een kate­geselokaal in ’n observasiekamer omskep,” vertel Joubert.

Van Vuuren, wat byna aftree na ’n lang loopbaan in die maatskaplike sektor, het die behoefte vir die kamer geïdentifiseer. Sy brei uit: “Hierdie is persoonlik. Kinders is my passie en ek het altyd gewonder hoekom die Here my Gansbaai toe gestuur het. Maar hiér by die terapiekamer kan ek my passie vir kinders uitleef. Ek doen meestal spel- en gesinsterapie, waar ek ontoe­reikende ouers leer om beter ouers te wees. My betrokkenheid by die observasie- en terapiekamer is wow! Dit is die ligpunt van my week,” vertel Van Vuuren opgewonde.

Die observasiekamer word in same­werking met Badisa bestuur wat die kamer se dagboek administreer. Joubert herinner dat die gemeente se enigste vereiste vir die kamer is dat slegs gere­gistreerde terapeute hulle dienste by die kamer mag aanbied.

Hy vertel dat die kamer deel van die gemeente se groter visie is: “Dié kamer is deel van ’n groter beweging in Gansbaai-gemeente waar ons ernstige vrae vra oor kerkwees.” Joubert brei uit: “Wanneer ’n mens weer opnuut nadink oor die identiteit van jou gemeente is dit baie maklik om vas te val in teologiese gesprekke oor kerkwees sonder dat dit jou aanraak. Ons het onsself gevra wie is ons in die Gansbaai-gemeenskap? Is ons regtig kerk as ons nie in die breër gemeenskap betrokke is nie? En hierdie kamer is vir ons ’n eerste tree op ’n onbekende pad waar ons werklik, soos ons leuse lui, ‘ʼn hawe van God se genade’ vir stukkende mense kan wees om heel te kom word.