Bewus is bewapen: Oor persoonlikheid, blindekolle en ontwikkeling

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons het almal tot vervelens al die sensasionele opskrifte gelees: “Be­kende kerkleier skuldig aan …”, gevolg deur ’n hele lys van morele “sondes”. Van immoraliteit en verdagte strategieë om groter offergawes te verseker; tot die wanaanwending van fondse en vals wonderwerke aan die ander kant!

In hierdie vierde artikel van ons leierskapreeks trek ons die tweede laai van Paulus se leierskapkabinet oop. Hier deel hy sy gedagtes rakende die wisselwerking tussen leierskap aan die een kant, en die persoon aan die ander kant (goed soos karakter, persoonlikheid en styl).

LEES OOK: Ontmoet Apostel Paulus: Uitvoerende Direkteur van Apostoliese Bediening Internasionaal

Karakter word beskryf as die unieke mengsel van persoonlike oortuigings en morele beginsels waarop mense hulle lewe baseer. Karakter word belangrik as ons in gedagte hou dat leierskap ten diep­ste ’n waardebelaaide, doelgeoriënteerde sosiale funksie is. Waardes funksioneer soos die fondasie van ’n gebou: Die vorm, sowel as sterkte van die fondasie bepaal die vorm en sterkte van die gebou self. Niemand bou immers ’n ronde gebou op ’n vierkantige fondasie, of ’n groot huis op ’n hoenderhok se effense fondasie nie? Net so bou Pauli­niese leiers hulle karakter op die vorm van die fondasionele geloofsbeginsels en -waardes soos beskryf in die Nuwe Testament. Voorbeelde van sulke leierskapfondasies kry ons in 1 Timoteus 4 en Titus 1.

Maar leiers se persoonlikhede speel ook ’n kritieke rol in hulle optrede. Sosiale vaardighede, reaksies en response, kommunikasie- en konflikhantering, as­ook gesindhede, maak deel uit hier­van. Carl Jung het ons bekendgestel aan die konsep van ’n “persoonlike skaduwee”, iets waarop almal, maar veral leiers, uiters bedag moet wees. Dit beskryf die blindekolle en swakhede in ons monderings; dit is die eienskappe wat ons maak of breek in ons lewens­rolle. Paulus verwys dikwels hierna in sy briewe deur geykte uitdrukkings soos “vleeslik” en “sondige natuur” te gebruik. Hy skryf: “Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie … die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom 7:18-19).

Laastens beskryf leierskapstyle bloot die dinamiese interaksie tussen leiers se karakter, persoonlikheid en skaduwee en hoe dit realiseer in hulle unieke leierskap.

Die antieke Chinese, Egiptenare, Grieke en Romeine het duidelike karakterstandaarde geformuleer vir hulle leiers. Hiervolgens moes hulle hulle persoonlike swakhede oorwin en mense lei soos dit ideale rolmodelle betaam. Meer onlangs het Fred Kiel navorsing gedoen onder 121 maatskappye en ontdek dat organisasies met sterk waardegefundeerde leiers en korporatiewe kulture gemiddeld 500% meer winsgewend was as die res! Genoeg rede vir alle maatskappye om ondubbelsinnig meer van hulle leiers te verwag in die karakterafdeling!

Leiers se taak het vandag eksponensieel moeiliker geword omdat objektiewe waarheid, sowel as die daarvan afgeleide beginsels wat die fondasies moes vorm van hulle lewe, gesneuwel het in ons kultuuroorloë. Hoe gemaak? Wel, bewus is bewapen, maar ’n hernude fokus op persoonlike groei – siel­kundig, sosiaal, fisies en geestelik – word krities; holistiese leier­skaps­ontwikkeling, absoluut noodsaaklik. Verder word prestasie-evaluasies, deursigtigheid en verantwoordbaarheid onontbeerlik.

Leierskapsontwikkeling moet institusioneel word in ons organisasies. Jare gelede het ’n totale (taktlose!) vreemdeling, tot my groot ontsteltenis, gesê dat God beplan om my as leier te gebruik in die toekoms – Hy gaan egter eers van my ego ontslae moet raak, voordat dit sal kan gebeur. Die “ego-afbreek” verstaan ek nou goed, wat betref die leierskap-idee … sal moet wag en sien.

Dr Jurie Vermeulen is nasionale direkteur van FEBA Radio SA. Besoek www.febaradio.co.za vir meer inligting.