Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die troue en almagtige Skeppergod

Droogte, onvrugbaarheid en swak oeste is oor die eeue dikwels met die afwesigheid en onttrekking van die gode geassosieer. Veral in die heidengodsdienste van die Ou Nabye Ooste. Die Baälaanbidders het droogte en onvrugbaarheid as die afwesigheid van Baäl beleef. Dié heidense “geloof” moes groot impak op die ballinge in Babel se wankelende geloof gehad het.

LEES OOK: Die God van eensames

Hierdie “geloof” en oortui­ging bestaan steeds in sekere landboukringe. Droogte en onvrugbaarheid word deur baie gelowige boere as ‘n teken van God se afwesigheid en onbetrokkenheid beleef. ’n Aandui­ding dat Hy nie meer in beheer van die skepping en natuur is nie.

Die kosmiese beelde in Jesaja 41:17-21 is ’n troos dat God honderd present in beheer van sy skepping is. Hy laat nooit die werke van sy hande vaar nie. Hy omskep kaal bergtoppe en dor woestyne in ’n groen lushof. Namakwaland, met sy pragtige blomkombers, is ’n sprekende voorbeeld daarvan.

Daarom sê die Here vir die moe­delose ballinge: “Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld” (Jes 41:18).