Woede: Riglyne vir predikers en gelowiges

Die pastorale teoloog Andrew Lester sê woede is iets wat in jou kop en jou hele lyf gebeur. Wanneer jy voel hoe jou hartklop versnel, daardie aar teen jou slaap bult en jou hande begin bewe, beleef jy woede. Jou hele lyf en wese reageer dus op iets wat jy as ’n bedreiging beleef en die mees tipiese reaksies is om óf te wil veg óf te vlug. Aggressie neem dit – woede as emosie en dus as deel van die mens as skepping van God – ’n stap verder en gaan oor in negatiewe destruktiewe dade. Woede is deel van hoe die mens aan mekaar gesit is en help ons deur die millennia al om in moeilike omstandighede te oorleef.

Ons sien op die oomblik aggressie én woede in Suid-Afrika: Aggressie is sleg, woede weer kan as blinde woede destruktief wees, maar het baie potensiaal. ’n Woedende God en Jesus is nie onbekend aan die Bybel nie. Die woede waarvan ons hier praat, is nie iemand se dikmond stilstuipe ‘ek wil my sin kry’-woede nie. Ons praat hier van woede as manifestasie van omgee en liefde wat geregtigheid ten doel het – dit is bepaald iets anders.

Oor Jesus as vleeswording van God se woede skryf die digter Sheila Cussons in haar gedig ‘Advent’: “het ’n verskriklike Toorn/ uit sy eie hart gebars/ in ’n roos van vlees.” In hierdie woorde is ’n belangrike insig en leidraad ingebed – daar is iets soos heilige woede. Dit is woede wat in God gebeur en woede wat in mense gebeur wat ’n uitdrukking van liefde is. Met ander woorde, dit is woede wat tot uiting kom as ’n reaksie op onreg. In en agter God se sogenaamde ‘toorn’ in die Bybel sit liefde. In en agter die woede van baie van ons landgenote sit ’n diepe omgee oor wat hulle beleef as onreg.

Aan die een kant is Suid-Afrikaners ietwat sat van al die woede. In die struggle-jare was baie mense woedend en het ons dit gesien uitmond in optogte en protesaksies. Tydens die oorgangsjare was nog meer mense woedend, maar ons het vasgebyt, want die onregte van die verlede – kolonialisme, apartheid, ongelykheid – sal binne enkele jare verdwyn en dan sal die reënboog, die Bybelse simbool van God se liefde vir mense, helder oor die Suide van ons kontinent hang. Helaas lyk dit teen September 2020 of meer mense as ooit tevore kwaad is. Ek is egter nie oortuig dat al die woede – oor BLM, oor Clicks, oor (plaas)moorde – dui op die afwesigheid van die reënboog nie. Inteendeel. Dikwels is die woede juis die reënboog, maar dan moet ek reg kyk om dit raak te sien. Eugene Peterson help my daarmee wanneer hy sê woede is ’n barometer.

Vat die woede, ondersoek dit en vra wat sit daaragter. Ons gaan bykans altyd uitvind: “There is evil, or incompetence, or stupidity lurking about,” skryf Peterson. Inderdaad, daardie woede is soos die paartjie wat in die huweliksberader se kantoor baklei. Die berader weet die feit dat hulle kwaad is, beteken hulle gee nog om. Erger as woede vir mekaar is apatie, dan kan die berader meestal maar los, want dan is dit te laat. Ja, toegegee, ons het landgenote wat by apatie draai. Gelukkig is hulle in die minderheid.

Die lastigheid nou is dat gelowiges te midde van al die woede moet leef en die arme dominees (bid vir hulle!) in en oor die woede moet preek en eredienste lei. Ek dink ’n paar opmerkings oor prediking in en oor woede, kan waardevol vir almal van ons wees.

Eerstens benodig ons woedende luister voor en terwyl ons preek. Op die oomblik wil almal net hulle woede uitdruk, sonder om hulle eie woede se ‘pause’-knoppie ooit te druk; te gaan staan en na iemand anders wat kwaad is te luister. Veral ook en juis ook te luister na iemand wat vir my kwaad is! Ek kan nie preek as ek nie eers probeer luister het na mense wat kwaad is en hoekom hulle kwaad is en so die woedesiklus tydelik te breek nie.

Grafika: Carl Lamprecht, Thought Sculpture

Die tweede riglyn pas by die eerste en dit is om te gaan staan in die skoene van diegene wat kwaad is en dié wat seerkry wanneer jy die teks waaroor jy moet preek lees. So help ek die gemeente om te sien wat ek dan sien. Dit is raad wat ons kry in To kill a mockingbird van Harper Lee, te wete om eers in iemand se vel rond te loop voordat ek praat, in ons geval, voordat ek preek.

Derdens moet die waarheid hard en duidelik gepraat word, maar in die modus van die liefde. Wanneer die gemeente beleef dat die prediker hard praat omdat sy omgee, luister hulle beter.

Laastens is dit in prediking altyd beter om van ‘ons’ eerder as ‘julle’ te praat. Dit is Brueggemann wat gesê het ek moet as prediker saam met die gemeente teenoor die teks wat my uitdaag staan en nie saam met die teks teenoor die gemeente nie. Dit geld nie alleen vir die prediking nie, ons is almal saam in die land.

Wanneer dit die vertrekpunt is, naamlik dat ek eers luister, en daarna die waarheid in liefde praat terwyl ek my bes probeer om in jou skoene te staan en voortdurend ‘ons’ sê, wel, dan kan dominees maar woedend preek. Nee, dan moet hulle soms woedend preek en voorgaan in ’n woedende liturgie, want dit is preke en eredienste wat liefde beliggaam.

Voorspel: “Ave Maria” (Karen Zoid, soos oorgeneem van Bono en Pavarotti)

Where is the justice in this world?/ The wicked make so much noise, mother/ The righteous stay oddly still … ens.

Votum: Verwerking van Psalm 121 (deur Klippies Kritzinger)

L: We lift up our eyes to the hills,

to the high places in and around Pretoria;

Where does our help come from?

G: Our help comes from the LORD,

who made heaven and earth.

L: Does our help come from Meintjeskop,

from the Union Buildings, centre of political power?

C: Our help comes from the LORD,

who made heaven and earth.

(Vir die res, sien die artikel “Concrete spirituality”, gratis aanlyn beskikbaar)

Geloofsbelydenis:

V: Glo jy in God die Vader?

G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde wie se toorn ontvlam in die aangesig van onreg en uitbuiting.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?

G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ons geleer het dat liefde die grootste gebod is, en wat tafels omgekeer en ’n sweep van riempies gevleg het toe dit nodig was.

V: Glo jy in die Heilige Gees?

G: Ek glo in die Heilige Gees wat in en deur my werk, my hele lyf.

A: Amen.

Preek:

Herinner die hoorders aan die twee dogters van Moeder Hoop: Dogter Woede … oor hoe dinge tans daar uitsien en Dogter Moed … om ’n verskil te maak.

Gebed na die preek:

Verontrus ons, O Heer,/ wanneer ons selftevrede word/ wanneer ons drome waar word, omrede ons te klein gedroom het/ ens.

(vermoedelik ’n gebed van Sir Francis Drake)

Woedende luister-stilte:

Hier pas ’n klaende liturgiese stilte (ek hoor ’n woedende viool speel) terwyl die name van mense as litanie gelees word.

Nagmaal: In ’n konteks van korrupsie en geweld teen weerlose mense, van rassisme en voortslepende kolonialiteit, breek jy anders brood as in ander tye.

Gemeentesang: “Wat ’n vriend het ons in Jesus”.

As versoeking en beproewing/ en korrupsie jou omring/ word dan kwaad oor al die onreg/ so laat jou woede opwaarts styg./ Nêrens is ’n Vriend getrouer/ as Hy wat jou woede deel/ Hy weet dat jy regtig omgee/ so laat jou woede opwaarts styg.

Seën:

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede (Franciskus van Assisi).

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.