Domineebroers getuig: Elke dag bied tog rede vir smile

“Elke dag het ons ma Adri haar dagboekinskrywing af­gesluit met ’n rede waarom ons kan breed smile. Sy het die gesiggie wat ‘glimlag’ daarby geteken.”

Só onthou die NG predikantbroers, JR en Ruan Nieuwenhuizen, hulle ma, Adri Nieuwenhuizen, wat op 27 September haar 22 jaarlange stryd teen veelvuldige sklerose (MS) verloor het. Sy was 52. JR is predikant by die NG gemeente King Williams Town en Ruan was voorheen by NG gemeente Bracken­fell-Wes leraar.

Een van die grootste uitdagings die afgelope 22 jaar was die ontoeganklikheid van die wêreld vir mense met ge­stremdhede, vertel JR. “’n Mens kom gou agter dat alle plekke nie gerat is om mense met gestremdhede te akkommodeer nie. Ons moes al drie verdiepings met ’n rolstoel op ’n stel trappe aanpak. Gelukkig is ons hardkoppig of dalk ’n bietjie dom, maar ons kon dit laat werk,” skerts JR.

Ruan vertel dat hy soms sukkel om sy ma te onthou voor sy met MS gediagnoseer is. Hy vertel verder: “Sy is reeds in 1998 gediagnoseer en ek was toe maar net vyf jaar oud. Aan die begin het die dokters vir my en my broer verduidelik dat MS amper soos ’n tipe kortsluiting in die brein is. Die brein sê vir die arm om te beweeg, maar die boodskap kom nie daar uit nie. Ons het as gesin die uitdaging hanteer deur soveel as moontlik van die diagnose te verstaan. Vinnig het ons bewus geword dat MS veelvuldige variante het. My ma het die progres­siewe MS-toestand gehad wat bete­ken dat die persoon stelselmatig al hoe meer die gebruik van hulle ledemate verloor,” verduidelik Ruan.

Beide broers beklemtoon dat van hulle gunstelingherinneringe van hulle ma haar aartappelslaai en melktert is wat hulle nog nooit kon namaak nie. “En ’n skilpad! Die skilpad het ons da­rem nie geëet nie,” voeg JR grappenderwys by. JR onthou hoe hulle ma eendag by die huis met ’n skilpad aangekom het. “Dit was ’n groot bergskilpad wat oor die pad geloop het, toe laai sy dit in die kattebak, want sy wou dit graag vir ons wys. Haar ‘can-do attitude’ sal vir my altyd uitstaan,” vertel JR.

Ruan voeg by dat behalwe die talle lawwe oomblikke, wat hulle verhouding met Ma Adri gekenmerk het, was die kosbaarste herinnering vir hom die dag toe sy ma by sy bevestiging as predikant die toga oor sy skouers gehang het. “In daardie kwesbare oomblik is my roeping net opnuut vir my bevestig,” onthou Ruan. Ruan vertel dat Ma Adri hom geleer het dat daar nie iets soos ’n slegte dag is nie. Alhoewel daar oomblikke in elke dag is wat ’n mens frustreer, hartseer, woedend of selfs moeg maak, is daar ook elke dag iets wat mense breed kan laat smile.

En het die broers raad vir ander fa­mil­ies wat ook deur MS geraak word? Beide sê eers ‘nee’. Maar Ruan voeg by dat hy eerder ’n hoop vir families het. “My hoop is dat families nooit sal vergeet dat hulle nie van die liefde van God geskei kan word nie. MS is ’n toestand, dikwels met finaliteit, maar deur dit alles is daar altyd, elke dag, iets wat ons kan laat breed smile,” sê Ruan.