Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die God van die geweldige waters

Ons geliefde land het in diep waters beland. Waters van vrees, verskrikking en angs. Miljoene Suid-Afrikaners kan met die woorde van Dawid in Psalm 18:5 (“bande van die dood het my omsluit” en “strome van onheil het my verskrik”) identifiseer. Die bedreiging van die “dood” skuil in talle vorme om elke hoek en draai van ons geliefde land.

LEES OOK: Die troue en almagtige Skeppergod

Dawid het dikwels in totale hulpeloosheid die dood (“geweldige waters”) in die oë gekyk. Met die beeld van “geweldige waters” sinspeel hy waarskynlik op die diep waters van die Rooisee waaruit God sy volk gered het. Hy het beleef dat God die natuurelemente inspan om hom te red van sy magtige vyand: Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig (vs 17). God het as ’t ware hemel en aarde verskuif om hom te red. Daarom dat hy God aanbid en eer as sy “rots” en “skuilplek” (3), maar ook as die “Sterke” (2).

Dieselfde God haal vandag nog sy verskrikte en bevreesde kinders uit diep waters.