Leesstof na tehuise: Só kan jy ander in hul geloof bemoedig

Bybel-Media het besluit om in hierdie uitdagende ekonomiese tyd uit te reik na Suid-Afrika se aftreeoorde, versorgingsoorde en tehuise vir bejaardes.

Die plan is om ondersteuners van Bybel-Media se visie die kans te gee om betrokke te raak deur ’n boks geloofsboeke by ’n tehuis of oord van die donateur se keuse af te lewer.

Personeel van Bybel-Media is hard besig om die bokse te verpak.

“Skenk die koerierkoste van R99 en ons skenk ’n boks vol Christelike boeke en Bybels,” verduidelik Hannelie Matthee, finansiële bestuurder en donateur-skakelpersoon by die maatskappy.

Kerkbode wou by die projekspan hoor: Gestel ek wil iemand in ’n afgeleë tehuis, byvoorbeeld op die platteland, bereik, sal dit ’n probleem wees? “Dit is glad nie ’n probleem nie, die bokse word gekoerier en ons wil graag so veel moontlik areas in die land bereik om so ’n groot moontlike impak te maak,” verduidelik die projekspanwoordvoerder.

So wat is in die bokse? Elke pakkie bevat geestelike boeke, Bybels en Bybelstudies. “Ons sluit ook ’n paar eksemplare van die boek Lewenslêer in. Die Lewenslêer is spesiaal ontwerp om mense te help beplan vir die onverwagte gebeure van die lewe en seker te maak al hulle papierwerk is in orde en maklik om in die hande te kry.”

Indien jy wil help, stuur vandag nog jou inligting aan hannelie.matthee@bmedia.co.za en ons kontak jou.

  • Kerkbode is ’n Bybel-Media-publikasie.