Plaasmoord: Streeksinode vra vir gebed en eis optrede 

Ná die moord op ’n 21-jarige plaasbestuurder van Paul Roux en te midde van die daaropvolgende konflik by die landdroshof op Senekal in die Vrystaat het kerkleiers in dié provinsie dié week lidmate gevra om hande te vat “en te bid dat die Here ’n laer van engele rondom ons elkeen sal oprig”.

“Ons sukkel om ons emosie oor hierdie sinnelose daad in woorde om te sit, maar wil langs hierdie weg vir die familie en vriende van die jong Brendin (Horner), die gemeente en gemeenskap van Paul Roux en die landbougemeenskap van ons geliefde provinsie verseker van ons opregte meelewing,” lui ’n brief wat leiers van die NG Kerk se streeksinode op 6 Oktober aan leraars, kerkrade en lidmate gestuur het. “Ons huil as NG Kerk Vrystaat saam met julle.”

“Dit is nou tyd om op te tree en ons doen ’n ernstige beroep op die president, regering en verantwoordelike partye om op te tree,” luidens die brief wat onder meer deur dr Pieter van Jaarsveld, voorsitter van die streeksinode, onderteken is. Hy versoek tesame met ander ondertekenaars dat lidmate volhou om te bid vir boere, plaasarbeiders, plase en die landbougemeenskap as ’n geheel.

Netwerk24 het op 7 Oktober berig hoe ’n dag vol “hoogdrama” in Senekal verloop het, waar woede – veral jeens Bheki Cele, minister van polisie – ná die hofverskyning van twee vermeende plaasmoordenaars in verband met Horner se dood, hoog geloop het.

2 thoughts on “Plaasmoord: Streeksinode vra vir gebed en eis optrede 

  1. Hennie Nel says:

    Groot waardering vir die KERK-leiers in die Vrystaat om die probleem by die naam te noem, WANT DIT IS N GEWELDIGE PROBLEEM,!!!!!

  2. Stephanus Hennig says:

    Roof, Moord, Doodslag sal aan die orde van die dag bly, tot op die dag van Christus.
    Want die Strafproseswet word nie toegepas nie, daarom vrees die oortreders glad nie, en is hulle harte vol van boosheid om gruweldade te pleeg.

Comments are closed.