Brendin Horner: Dit moes nooit gebeur het nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Aan die einde van die historiese Rustenburgkerkeberaad wat in November 1990 plaasgevind het, is ’n verklaring deur die verteenwoordigers van meer as 80 kerke uitgereik waarin gesê is dat wat tydens die apartheidsjare gebeur het, nooit weer in hierdie land mag gebeur nie. Kerkleiers is opgeroep om hulle te beywer vir ’n samelewing waarin die shalom – die vrede van God sigbaar sou word. Dit moes gebeur deur gehoorsaam te wees aan die groot sendingopdrag – om mans en vroue te lei tot bekering en persoonlike geloof in Jesus Christus. Dan sou hulle onder leiding van die Heilige Gees vrug kon dra in ’n gebroke wêreld wat sou lei tot geregtigheid, vrede en heelheid. Die gebeure van die afgelope weke wys in hoe ’n mate hierdie droom aan skerwe lê.

Die moord op Brendin Horner op Paul Roux het ’n vergrootglas op ’n terminaal siek samelewing geplaas. Wanneer ’n jongman vermoor word en sy liggaam iewers langs ’n plaaspad aan ’n paal vasgemaak word, wanneer ’n gere­spekteerde senior speurder in Bishop Lavis helder oordag koelbloedig voor sy seun tereggestel word en twee weerlose vroue in Polokwane weens ’n loongeskil vermoor word – om net enkele voorbeelde te noem – het ’n baie donker wolk oor postapartheid Suid-Afrika ingeskuif.

Die donker wolk het egter ’n silwer randjie. Die geweld wat na aanleiding van Horner se dood op Senekal losgebars het, het ongelukkig ’n belangrike gebeurtenis wat dit voorafgegaan het oorskadu – honderde mense wat in gebed kniel en bid vir reg en geregtigheid. Dit is op Saterdag 10 Oktober opgevolg met ’n optog na die Uniegebou – waar daar weer honderde was wat saam gebid het – tekens van ’n burgerlike samelewing wat genoeg gehad het van die slagting maar wat weet waar hulle hoop en heil vandaan kom.

In reaksie het die NG Kerk in die Vrystaat gemeentes opgeroep tot ’n week van verootmoediging en gebed waar­in voorbidding gedoen word vir die hele situasie rakende plaasmoorde en kor­rupsie in ons land. Daar is gevra dat elke gemeente vanaf 10-15 Oktober daag­liks om 12:00 hulle kerk se klok moes lui en elke lidmaat is versoek om daar waar hulle is, tot stilstand te kom en voorbidding te doen vir alle plaasgemeenskappe. Die groot vraag is: Hoekom net die Vrystaat? Waar was die res van die NG Kerk? Meer nog: Waar is die res van die kerke in Suid-Afrika wat dertig jaar gelede in Rustenburg was?

Die tyd van verklarings deur kerkleiers en stille protes is duidelik verby. Lidmate soek meer. Miskien is daar nog genoeg energie in die NG Kerk oor om iets meer te doen.

Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

4 thoughts on “Brendin Horner: Dit moes nooit gebeur het nie

  1. Die Ketkleiers was te besig om te stry oor selfdegeslag verhoudings en huwelike en die lyding van Lidmate het by hulle verby gegaan. Daar is regtig ‘n probleem met die Kerk se Leierskap.

  2. Cora Viljoen says:

    Die kerk is al jare stemloos. Die kerk skuil in tye van nood, sy stem is stil. As iemand praat is dit n Pastoor, en ek vind hulle praat duidelik en dapper. Eintlik sal die kerk in sy wese moet herbesin. As hy as Herder wil optree is dit tyd om die kudde te vertroos. Om samet hulle sigbaar te word. Tye is nie nou so gunstig vir die kerk nie en die kerk het daarvoor gewerk!

  3. Muller Oosthuizen says:

    My waarneming is dat enorm baie kerkrade uit verskillende kerkgroepe die afgelope weke en in besonder in die hede besig is met gesprekke, aksies en Woordverkondiging rakende die sosiale ongeregtighede wat soos ‘n vlaag oor die wêreld spoel.

    DIt haal egter nie gereeld die media nie. Gesprekke oor selfdegeslagverhoudings en huwelike is daar omdat dit deur die media geag word om te publiseer. En dan is dit ook slegs die onenigheid en meesal die voorstanders en teenstanders se persoonlike voorkeure wat rapporteer word en nie die soeke na leiding in die Skrif nie. ‘n Lidmaat wat slegs daarmee besig is en hul daardeur laat lei, is rofweg van die spoor af wat kerkwees betref.

    “Die kerk” (wie is dit?) is beslis nie stemloos nie. En skuil beslis ook nie. Dalk skuil baie lidmate en is afwesig in hul gemeentes … en is hulle stil in aktiwiteite en getuienis in die samelweing … of raserig op sosiale media.
    Waarskynlik is heelwat kerkrade ook stil.
    So ook enkele dominees / pastore en ander kerkleiers (hoewel die meeste elke Sondag ‘n uur of wat het om uit die Woord uit iets te sê).

    “Die kerk” is ‘n liggaam en nie ‘n kudde nie. Elkeen het ‘n deel daarin om dit op te bou of af te breek. Die geestelike leiers is ook nie herders nie, maar dienaars.

    Dat die kerkleiers net soos elke ander gelowige wel ons stemme moet laat hoor oor elke saak wat die Woord raak, is beslis waar. Dis egter wel waarskynlik meer ‘n geval van swak kommunikasievermoë deur kerklike strukture. Die duidelikheid van verskeie pastore is egter nie heeltemal op dieselfde vlak as hul dapperheid nie. Verskoon my asb my vulgariteit, maar ek het nog bitter min pastore raakgeloop wat bereid is om sáám te praat en te soek – te veel van ons sien ons eie uitsprake as God se enigste stem. En te veel sulke standpunte is nie Skrifgetrou nie, onbegrond, ondeurdag en onverantwoordelik.

  4. Roelf van Vuren says:

    Statistieke wys daar was 21,325 moorde gedurende 2019/2020 verslag periode of dan 58 moorde per dag
    Ek is nie seker hoe dit aan die na apartheid era gekoppel word nie
    Ek is nog minder seker oor hoekom hierdie twee moorde waarna verwys is uitgesonder word vir skielik optrede deur die christen gemeenskap
    Dit herinner my aan die George Floyd situasie waar dit vir politieke gewin uitgebuit word
    Die realiteit is dat ons land moreel siek geword het. Dat gemiddeld 58 moorde per dag nie meer snaaks is tensy dit aan die politiek gekoppel kan word
    Nou skielik wil ons bid ?
    Wat verwag ons van ons Vader en wat is ons bereid om by te dra om die probleem op te los
    Het ons verval in ‘n proses om saam met gelowiges te gaan bid vir hulp en dan het ons ons deel gedoen en ons Vader moet verder sorg vir die versoek
    Moses moes fisies voor Pharo gaan staan
    Die ark draers moes fisies hulle voete in die water sit voor die rivier oop gegaan het
    Dawid moes met die slingervel die reus aanval en die Israëliete moes 7 keer om die stad Jerigo trek voor ons Vader die mure laat val het
    Waar staan ons dan nou
    Saamtrek en bid ?
    Het ons dan ons deel gedoen ?
    Die res is dan ons Vader se verantwoordelikHeid ?
    Kan ons dan dieselfde redeneer oor kos op die tafel?
    Ons hoef net te bid en ons Vader sal die res doen
    Nee ek dink nie so nie
    Ons en veral ons geestelike leiers het n verantwoordelikheid om te hoor wat ons deel en bydra tot hierdie hartseer saak is
    Wat verwag ons Vader van ons as bydrae tot die oplossing van hierdie probleem
    Ons geestelike leiers moet gaan hoor en die moed hê om op te staan en te sê
    “Die Here sê …..,.,.,”
    Of is ons bang vir blootstelling?
    Groete
    Roelf van Vuren

Comments are closed.