‘Kansellasie-kultuur’ of genadekultuur?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons leef vandag in ’n vreemde kultuur wat ’n mens in Engels noem cancel culture. “Cancel culture” is wanneer jy jou ondersteuning van ’n ander persoon of instansie onttrek wanneer jy nie meer saamstem met iets wat hulle kwytgeraak het nie. Dit is egter soms meer as slegs onttrekking van ondersteuning. Dit gaan daaroor om sulke instansies dan tot skande te maak. Dan laat jy sulke mense voel asof hulle geheel en al immoreel of onintelligent optree, slegs omdat hulle nie dinge presies sien soos wat ons dit sien nie. Dit is om alle redelikheid prys te gee. Wanneer ons eers iemand ge-“kanselleer” het, sien ons nie meer enige waarde in die opponerende opinie nie, maar nou is alles skielik verkeerd met daardie groep.

As Clicks een klein foutjie maak in hulle bemarking, word hulle geheel en al uitgekryt as euwel. Dit is hartseer dat mense en maatskappye gedurig onder druk geplaas word om ander groepe wat nie polities korrek is nie, af te skryf. Sommige niksvermoedende werknemers wat per ongeluk inkorrek opgetree het word soms summier afgedank, sodat die maatskappy maar tog net nie die toorn van hierdie afskryfkultuur op die hals haal nie.

LEES OOK: Die diep belang van werkskepping

So ’n kanselleer-kultuur word soms veral tussen gelowiges en in kerke waargeneem. Jonger mense skryf ouer mense af. Konserwatiewes skryf meer vrydenkendes af. Meer liberale denkers skryf weer behoudendes af as verkramp of fundamentalisties. Ons het dit nogal duidelik gesien in die LGBTQI-debat: Mense van een oortuiging skryf die ander groep af op so ’n wyse dat niks wat daardie groep kwytraak nou meer van waarde is nie. Op sekere sosiale media-platforms is dit duidelik dat sommige nie-gelowiges alle Christene afskryf as irrasioneel en onwetenskaplik, terwyl gelowiges weer skeptiese mense hanteer asof daar niks goeds is in wat hulle te sê het nie. Hoe irrasioneel is sulke optrede nie!

In teenstelling hiermee is ek ’n paar dae gelede aangenaam verras en geïnspireer deur die ateïs Graham Murray. Hy het deelgeneem aan ’n debat by Cambridge Universiteit met die titel: Godsdiens het geen plek in die twintigste eeu nie. Daar het ses kandidate deelgeneem aan die debat. Drie van hulle het die genoemde stelling gesteun. As ateïste het hulle gevoel dat daar inderdaad geen plek vir God, geloof of godsdiens is in ons moderne era nie. Die ander drie kandidate het weer gedebatteer téén die stelling, naamlik dat godsdiens wel ’n belangrike plek in ons toekoms behoort te hê. Ek sou dink dat Douglas Murray – as ’n entoesiastiese nie-gelowige – sou debatteer saam met die ander ateïste, téén enige vorm van godsdiens.

Groot was my verbasing toe Murray egter in die guns van en saam met die Christene debatteer vir die behoud van geloof en godsdiens! Hy het dit duidelik gestel dat hy nie in God glo nie. Maar dan vertel hy hoe hy dink dat godsdiens ’n uiters belangrike stem in die samelewing het en behoort te hê. Hy vertel hoe hy van mening is dat ateïsme belangrike dinge in die samelewing mis en dat ons godsdiens nodig het om vir ons te laat dink aan belangrike menslike sake soos die vrae na betekenis en lewensgeluk. Hy beskryf hoe godsdiens ’n baie belangrike morele gewete is vir die samelewing en dat politieke leiers moet luister na wat godsdienstiges te sê het.

LEES OOK: Hoop in ’n land vol geweld en woede

Hoe verfrissend was dit nie vir my nie! Om te sien hoe iemand met baie sterk opinies dit kan regkry om verby sy eie voorafopgestelde idees te kyk na sy opponente, en steeds die goeie in hulle ook raak te sien, was voorwaar inspirerend! Dit neem ’n bepaalde nederigheid, openheid, volwassenheid en nugterheid om die goeie raak te sien in die opposisie.

Die Gereformeerde teoloog, Tim Keller, het binne kerklike kringe dieselfde voorbeeld gestel toe hulle gemeente vir ’n charismatiese kerkgroep in New York ’n aansienlike bedrag geld geskenk het. Na felle kritiek en navraag vanuit sy eie Gereformeerde kringe oor waarom hy ’n nie-Gereformeerde kerkgroep ondersteun, was sy antwoord eenvoudig:

The Pentecostal movement is the most effective protestant group when it comes to evangelism, and they do great work.

Keller het natuurlik steeds sy Gereformeerde opinies gehuldig asook sy teologiese verskille gehad met die groep. Desnieteenstaande het hy gekies om die goeie raak te sien te midde van al die verskille, en finansieel te belê in hulle bediening. Hy het my daaraan laat dink dat Jesus nie in ’n cancel culture geleef het nie. Hy het eerder ’n inklusiewe genadekultuur geskep. Toe Petrus Hom verraai het Hy Petrus nie uitgekanselleer nie, maar hom weer opnuut by die viswaters gaan roep, vergewe en gevra om sy skape te voer! Hy het gekies om in Petrus te bly glo ongeag Petrus se onvolmaakte liefde. Jesus het natuurlik wel mense laat gaan wat Hom volhardend verwerp het. Oordeel is immers ’n belangrike deel van Bybelse teologie. Die keuse was egter altyd by die spesifieke mense self, nie by God wat mense bloot verwerp uit liggeraaktheid of ’n polities korrekte bevlieging nie.

Waarom is ons dan so geneig om mense te kanselleer in plaas van om brûe te bou?

  • Ds Roedolf Botha is ’n leraar by NG gemeente Oosterlig in Pretoria.