Om eerlik oor ons wonde te wees

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Senekal se gebeure moet ons be­lang­rike vrae laat vra. Dit was nie net ’n situasie waar humeure oorgekook het nie. Dit was nie ’n situasie van wetteloosheid of rassisme nie. Senekal en Brendin Horner se dood verteenwoordig iets veel groter. Dit moet ons laat vra na wat agter alles lê. Waarom het dit gebeur? Die saak wat ons in die oë moet kyk, is trauma. Daar sit ’n diepgewortelde trauma in die psige van die Afrikaner. Hierdie trauma kom ’n baie ver pad.

Dalk is dit goed om ’n paar oomblikke net na te dink oor die trauma wat in ons almal se menswees en psige ingebou is. Reeds van skooldae af het ons gehoor van die oorloë op die grens van die Oos-Kaap. Dit was hoofsaaklik boere en hulle gesinne wat aangeval is. Dit was ook een van die redes vir die Groot Trek. Tydens die Groot Trek was die veiligheid van die Trekkers weer ’n kwessie. Skaars het hulle hulle gevestig in die ou Transvaal en Oranje-Vrystaat of die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë breek uit. Tydens hierdie oorloë is dit weer die mense op plase, wit en swart, wat die teikens van die verskroeide-aarde-beleid geword het. Vroue en kinders is weggevoer en in konsentrasiekampe geplaas, waar hulle in hulle duisende gesterf het. Dit was weer ’n belewenis dat die Afrikanermans nie hulle vroue of eiendom kon beskerm nie. Van ons sal nog onthou dat ons oumas en oupas verhale vertel het van wat gebeur het in die Tweede Vryheidsoorlog. Dit het deel van ons verhaal geword en ons gevorm oor hoe ons dink. Die laaste groot insident van trauma wat ons almal aan deel het is die Bosoorlog in Angola. Baie van die dienspligtiges het met post-trau­matiese stres teruggekom en dit is nooit hanteer nie. Niemand praat oor wat op die grens in Angola gebeur het nie.

Wat vir my met die gebeure in Sene­kal uitgestaan het, was die feit dat die meeste van die mans wat daar bymekaar was, die profiel het van ’n oud-diens­pligtige en iemand wat iewers ’n ouma of ’n oupa gehad het wat in die Tweede Vryheidsoorlog geveg het. Trauma is dus deel van hulle totale menswees. Dit is belangrik dat ons dit raaksien en er­ken dat trauma iets is wat individueel en kollektief hanteer moet word.

Die woord “trauma” bete­ken om ’n wond te hê. Dit kan ’n fisiese wond wees of ’n emosionele wond. In hierdie geval is dit psigiese wonde wat na vore kom en wat weer vererger word met elke plaasmoord. Die dood van die jong Brendin Horner her­inner sterk aan die nuusberigte wat tydens die Bosoorlog ontvang is van ’n jong man wat in kontak gesterf het …

Daar word gevra wat die kerk doen. Die kerk is die men­se, elke lidmaat. Dalk moet elke lidmaat vir ’n slag eerlik wees oor hulle psigiese wonde. Die kerk as insti­tuut kan help deur na die verhale van verwondheid te luister en om ruimtes te skep waar daaroor gepraat kan word. Die kerk kan help deur te bid en saam te bid, die kerk help reeds deur teenwoordig te wees tydens elke plaasaanval.

  • Dr Carin van Schalkwyk is skriba van Vrystaat Sinode.