Liberale teologie in die NG Kerk?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek kan beslis nie verantwoordelikheid aanvaar vir elke lidmaat van die NG Kerk se teologiese beskouinge nie. Gelowiges het van die vroegste tye verskillende sienings van sake. Maar beweringe dat die NG Kerk haarself skuldig maak aan liberale teologie kan nie sonder reaksie verbygaan nie. Liberale teologie beteken volgens diegene wat gewoonlik hierdie soort beskuldigings maak onder meer dat die Skrif se gesag nie aanvaar word nie, dat sonde as opstand teen God nie meer ernstig geneem word nie, dat die verlossingswerk van Christus dus ook nie meer belangrik is nie, dat die liggaamlike opstanding van Christus nie aanvaar word nie, dat die teenwoordigheid van God in ons lewe misken word en die krag en betekenis van gebed afgeswak word.

Die leiers van die NG Kerk is nie hieraan skuldig nie. Ek ken my kollegas in die Algemene Sinodale Moderamen en in die strukture van die samestellende sinodes van die NG Kerk. Hulle is nie liberale teoloë nie. Inteendeel, ek is deeglik bewus van die diepgaande verbintenis van ons kerk se leiers aan die grondwaarhede van die Skrif soos dit binne die gereformeerde tradisie verstaan word.

Ons is ernstig oor die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Dwalinge ontstaan meestal wanneer enigeen van die drie Persone van die Drie-eenheid misken word. Wie die Vader misken, hou nie rekening met die omvattende aard van sy liefde vir die wêreld nie (Joh 3:16). Ons glo in God as Vader. Wie Christus se volledige verlossing deur sy kruisdood en opstanding negeer, is gewoonlik geneig om Jesus te reduseer tot slegs ’n navolgenswaardige voorbeeld ten opsigte van lewenswandel. Ons glo in Jesus as ons Verlosser en Saligmaker. Wie die Heilige Gees misken, is geneig om God se werking tot die verlede te beperk – die aktiewe aanwesigheid van God in die hede word afgewater. Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker.

Ons glo nie net in die Drie-eenheid nie, maar glo dat ons ingeneem is in ’n intieme verhouding met die Vader, Seun en Gees. Ons glo dat die opgestane Christus die Hoof is van die kerk. Ons glo dat die Bybel deur God geïnspireer is en dat die Heilige Gees die Toepasser van die heil is. Ons glo in gebed as ’n gesprek met die lewende God waarin aan ons die geleentheid gebied word om ons menslike gedagtes, belydenisse, versugtinge, lof en dank aan God te bring en deur sy influisteringe beïnvloed te word.

Ons is ernstig oor God se verbondstrou aan mense. Ons is ook ernstig oor die Wet van God wat liefde tot Hom en ons naaste vereis. Ons is ernstig oor die Ou Testament wat ons leer van die vrede, trou en geregtigheid van God.

Christus se vryspraak deur sy kruisdood en sy opstanding is die inspirasie van ons lewe. Ons glo dat die koninkryk van God reeds in ons tyd aanbreek en tot in ewigheid strek. Daarom bid ons soos Jesus ons geleer het dat die koninkryk sal kom soos in die hemel, so ook op die aarde. Daarom neem ons nie net die ewige lewe nie, maar ook hierdie lewe ernstig. Ons glo dat Christus van ons vereis om nou reeds sy koninkryk in ontvangs te neem deur ons afhanklikheid van die Vader, ons diepe deernis met die lyding van ons naaste, ons sagmoedigheid, ons reinheid van hart, ons barmhartigheid, ons honger en dors na geregtigheid, ons maak van vrede. Ons verstaan dat sonde onder meer verband hou met ons verset om Christus hierin te volg. Ons is ernstig oor die liefdesgebod en oor God se genade vir sondaars.

Ons verskil soms oor die uitleg van tekste. Ons worstel soms om die werklikhede waarmee ons te doen kry, te verstaan of soms te versoen met ons geloof. Daarom waag ons dit om diepgaande te besin oor moeilike kwessies sodat ons van die wêreld met sy natuurwetenskaplike verskynsels, én sy sosiale bewegings én sy magstryde ’n leefbare en beter plek kan maak.

In die leiersgroepe van die NG Kerk, noem ons mekaar egter nie slegte name nie. Ons hang ook nie die etikette van fundamentalisme of liberale teologie om mekaar se nek om mekaar op oneerlike maniere verdag te maak nie. Nee, ons verskil in liefde van mekaar en dra mekaar se laste deur vir mekaar ruimte te maak. Ons is lief vir mekaar. Ons het juis die afgelope tyd soveel van ons dierbare reisgenote met hartseer moes groet. Dit was pynlik ongeag standpunte waaroor ons kon verskil het. Ons diep verbondheid aan mekaar wat deur God bewerk is, is immers nie net lippetaal nie. As ander mense ons dan met skelname benoem, krimp ons hart weerloos ineen, nie omdat ons bang is nie, maar omdat dit so anders is, so kontra alles waarvan ons met eerlikheid kan getuig, van wat ons self gesien en beleef het in ons eie geledere.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.