Om net te sê “ek is jammer”, is nie voldoende nie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf:

Die berig “Moderator sê jammer aan ‘broer’ wat sê hy’s verraai” van 5 deser het betrekking. In die openingsparagraaf staan geskryf dat ’n “Baaise dominee en Bybelskoolblogger ’n SONDEBELYDENIS eis by leiers van die kerk”. My siening is dat ’n sondebelydenis die regte ding is om te doen, sodat die doel (versoening) bereik kan word.

Volgens Jay Adams (in sy boek From forgiven to forgiving) is dit nie genoeg vir gelowiges om onder sulke omstandighede bloot te sê “ek is jammer” of “ek vra om verskoning” nie. Hy verduidelik dan dat ’n verskoning ’n onvoldoende humanistiese plaasvervanger is vir die Bybelse weg. Om om verskoning vir sonde te vra, kry ons nêrens in die Skrif nie. Die rede waarom verskoning vra onvoldoende is wanneer werklike sonde plaasgevind het, is omdat dit nie ’n behoorlike Bybelse reaksie uitlok nie.

Ware Bybelse versoening sal wees wanneer die veronregte persoon daarna sê: “Ja, ek vergewe jou.” As die broer sê: “Ek vergewe jou”, beloof hy om nooit die saak aan te spreek nie. Verskonings is goed as daar geen sonde by ’n aksie betrokke is nie (byvoorbeeld as ’n mens iemand per ongeluk omstamp), maar dit moet nooit as ’n plaasvervanger vir Bybelse versoening gebruik word nie.

Dit is interessant dat die regsverteenwoordigers meer as een keer verwys na ’n aanhaling uit ’n gedig van die teoloog Martin Niemöller (“First they came”). Niemöller was ’n aantal jare in die tronk weens sy teenstand teen Hitler. Een van die temas van die gedig is passiwiteit of die nalaat van daadwerklike optrede wanneer onreg plaasvind. ’n Ander tema gaan oor stilswye, soos om stilswyend goedkeuring te gee aan bepaalde gebeure. Die regsverteenwoordigers spel nie duidelik uit na watter tema hulle verwys nie, maar afleidings kan gemaak word.