Troues: Van toeka tot nou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Omtrent niemand trou meer in ’n kerk nie. Jy trou nou by die Villa Toscana Wedding Village of die Kraalkop Boutique Wedding Destination – sulke plekke. Deftig. Duur.

So ’n plek het dikwels sy eie klein kapel. Of daar word op die strand getrou. Of onder ’n boom op daardie wildplaas, met ’n troppie rooibokke wat iewers in die agtergrond wei. Hoe koel is dit nie.

Dit is asof ’n gewone ou kerkgebou te gewoon geraak het vir ’n troue.

’n Mens voel byna verplig om neer te skryf hoe sulke kerktroues verloop het om iets daarvan in die museum van jou herinneringe te probeer bewaar.

Hoe die bruilofsgaste op ’n Saterdagmiddag by die kerk aangekom het. Die mans in ’n pak klere, die vroue met gesalonde hare. Dié wat kon in ’n rok met ’n kalerige rug. ’n Handsakkie vol blin­kertjies.

Soms het van die manne dikbekkerig by die motor vertoef om na die laaste bietjie rugby oor die radio te luister. Hoe kon Dirkie toelaat dat Rina hulle troue reël op ’n Saterdag wanneer die Bulle teen die WP speel? Die jong man sal moet pasop. Hy kan nie toelaat dat sy nou al op sy kop sit nie.

Hoe byna van die bruid verwag is om so agt minute laat by die kerk op te daag, in haar ryk oom se Mercedes of ’n gerestoureerde ou Pontiac, opgemaak met stringe helderkleurige kreukelpapier en balonne.

En wanneer die bruid die kerk ingestap het, met haar gevolg van blom­me- en strooimeisies, het almal regop gekom terwyl die orrelis Mendelssohn se troumars speel: “Pa-ra-pa-paaa, pa-ra-pa-paa …” terwyl hier en daar ’n vrou ’n traan met ’n bewerige snesie afvee en die bruid se ouma effens te hard fluister: “Die kind lyk darem pragtig, nè?” Op ouma se kop ’n hoedjie wat soos ’n vlieënde piering lyk.

Die predikant het dinge gewoonlik meer informeel as gewoonlik gedoen, sonder om té informeel te wees. Jy moes steeds besef die huwelik is ’n heilige instelling van God. Om te skei is ’n sonde.

En nadat die bruid en bruidegom mekaar die regterhand gegee en gesoen het, het ’n familievriend of -vriendin dalk die “Ave Maria” vir hulle gesing.

By die deur, op pad buitetoe, het jy ’n pakkie konfetti of roosblare uit een van die blommemeisies se mandjie geneem, dan het jy op die grasperk voor die kerk gewag vir die bruid en die bruidegom om te verskyn. Hulle moet net eers die boek teken.

Intussen het een van die manne in die motor gaan luister of die Bulle toe gewen het. By die onthaal sal seker da­rem sjampanje wees, maar net vir ingeval het hy ’n bottel brandewyn in die motor se kattebak gebêre.

Die onthaal is in die saal langs die kerk gehou. Hoe dan anders? Die bruid se ma en haar vriendinne het deur die nag gespook om die kos klaar te kry en die tafels te versier. Op elke tafel ’n rangskikking ranonkels en dennebolle wat silwer gespuitverf en rondom ’n geel kers gepak is.

Maar voor die onthaal kon begin is die foto’s eers geneem. In ’n ry sou hulle daar voor die ou Moederkerk gestaan het, die bruidegom, die bruid stralend, die onderskeie ma’s met hulle hoë hare, en die pa’s elkeen met ’n angelier in die lapel. Stemmig. Eenvoudig.

Nou is dit anders. Een fotograaf is nie meer genoeg om alles op ’n troue vas te lê nie. Nou is daar ook ’n videograaf by, dalk selfs ’n assistent. Soms word van die paartjie verwag om in ’n boom te klim of om die lug in te spring of om na mekaar toe aangehardloop te kom. Ek kan my verkyk aan party van die troufoto’s wat jy soms in die koerant sien. Hier kom Dries, effe oorgewig, soos ’n jong Os du Randt met ’n rooi cumberband om sy maag oor Villa Toscana se grasperk gehardloop na sy geliefde Madel toe …

Op ’n troue is ook nie meer só ’n se­remoniemeester nie: ’n jollie oom van die bruidegom met ’n drankprobleem wat voor almal vertel hoe die bruidegom voor hom grootgeword het en hoe hy hom as babatjie help bad het en hy kan vir seker vir die bruid vanaand sê sy is ’n baie, baie, baie gelukkige meisie.
’n Troukoek bestaan ook nie meer uit drie of vier lae nie, met heel bo-op ’n beeldjie van ’n bruid en ’n bruidegom. En elke gas het ’n wiggie vrugtekoek gekry, toegedraai in selofaan, met ’n kaartjie daarby waarop iets gestaan het soos: “Baie dankie dat u ons groot dag vir ons so spesiaal help maak het. Bert en Tilla.” En daardie wiggie het die ­bruid se ouma tot met haar dood in haar vertoonkas gehou.

Nou kry elke gas ’n pers kolwyntjie en kyk almal vreemd na jou as jy spontaan vir die bruidegom begin sing: “Hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan” voor hy met sy toespraak begin. Jy sal dit nie sommer ook maar waag om laataand met jou das om jou kop gedraai te dans nie.

Miskien is ek net besig om ’n nukke­rige ou man te word wat nie kan aanvaar alles op aarde verander nie. Ook troues. Miskien moet ’n mens se trou­dag so oordadig wees soos die era waar­in ons leef – ons gewone mense se enigste geleentheid om soos prins Harry en sy Meghan te voel.

Maar nou het die Covid-19-virus ook weer alles anders kom maak. By die Kraalkop Boutique Wedding Destination is glo nog nie weer ’n troue gehou nie.

Soms voel dit of ek al hoe minder van die wêreld verstaan.