‘Study war no more’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Wraak is gewild. Dink maar aan talle flieks, boeke en TV-reekse waarin die tema ‘revenge’ na vore kom. Die klassieke werk van Alexandre Dumas (1802-1870), The Count of Monte Christo (1844), staan waarskynlik uit – en sou ook allerlei moderne stories oor weerwraak inspireer, soos die TV-reeks Revenge (2011-2015). Die patrone van wraak en wraaksiklusse wat dikwels oor generasies strek (soos by vendettas of bloedvetes tussen families), blyk ’n onder­werp te wees wat mense oor die eeue heen, en oor die wêreld heen, fassineer. Ons praat daarvan dat iemand ‘hulle verdiende loon kry’. Hoe maklik troos ons onsself daarmee dat ‘die wiel draai’.

Wraak is ook ’n interessante onderwerp vir studie. So vra die Amerikaanse sielkundige Michael McCullough in sy boek, Beyond revenge (2008), ’n belang­rike vraag: Waarom is die begeerte om wraak te neem so ’n groot versoeking? Hy wys daarop dat die begeerte om onsself te wreek, en die dra van ’n wrok, dikwels misverstaan word en summier afgemaak word as ’n ‘siekte’ en ’n ‘gif’ waarvoor vergifnis en versoening die ‘teengif’ en ‘medisyne’ is. Ons behoort egter eerder dieper na hierdie behoeftes en begeertes na wraak en weerwraak te kyk, argumenteer hy, en te probeer verstaan wat aanleiding gee daartoe dat ons te na gekom en geskend voel. McCullough argumenteer dat wraakgierigheid ’n doel gedien het onder ons voorouers, as ’n manier waarop sosiale dilemmas opgelos kon word.

Daar is talle verhale van wraak in die Bybel. Ons sou kon dink aan die soge­naamde lex talionis (die wet van vergel­ding) in Levitikus 24:17-22, waarin die terme en voorwaardes vir vergeldingsdade uiteengesit word. Dikwels word daar dan uitgewys dat sulke wette juis die omvang van die vergeldingstraf wou beperk tot dit wat billik is, en niks meer nie. ’n Lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand; dieselfde oortreding wat gepleeg is, word die straf vir die een wat oortree het – en niks meer nie.

Ons sou kon dink aan spesifieke karakters en verhale in die Bybel, wat wraak pleeg. Dink aan die verhaal van Dina, wat verkrag word en wie se broers Simeon en Levi hulle wreek op haar verkragter (Genesis 34). Dink aan die verhaal van Josef en sy broers wat hom uitverkoop, en wat bang is dat Josef hom op hulle sal wreek (Genesis 50). Dink aan Simson wat God om krag vra sodat hy hom op die Fillistyne kan wreek (Rigters 16). Dink aan Absalom, wat hom wreek op sy halfbroer Amnon vir die verkragting van hulle suster Tamar (2 Samuel 13). Dink aan Isebel wat ’n wrok teen Elia dra, vir die moord op haar priesters (1 Konings 19). Dink aan Herodias, wat ’n wrok teen Johannes die Doper dra, en wat uiteindelik sy lewe laat neem (Markus 6). In al hierdie verhale is die konteks deurslaggewend: Dikwels het ons dan ook simpatie met die wraakgieriges, wie se wrok verstaanbaar mag wees en wie se wraak daarom regverdigbaar vir ons lyk. Hulle wraak ontlok dalk by ons simpatie en begrip, en selfs respek.

Juis omdat wraak so rég kan vóél, en rég kan lyk, en rég kan klink, het ons nie altyd aptyt vir vergifnis en versoening nie. Ons is nie altyd lus vir Jesus se herinterpretasie van die lex talionis in Matteus 5 nie, en bowenal nie vir die opdrag dat ons nie moet terugbaklei nie (vers 39). Ons wil nie noodwendig hoor dat vergelding nie ’n opsie is nie, en wil nie weet dat ons sover dit van ons afhang in vrede met almal moet saamleef nie (Romeine 8:17-21). Soms wil ons eerder die konflik hê; en eerder uiting gee aan ons ontsteltenis, verontwaardi­ging en woede.

Dit sou in hierdie dae maklik wees om ons te onttrek in nouer verbande van bloed en groep (Hervormingsdaggetuienis 2017). Ons sou die trotse taal van oorlog, en geweld, en oorwinning kon praat. Ons sou kon dreig, ons sou kon beledig, ons sou ons woede kon regverdig en regpraat. Ons sou kon handel in haat en pendel in oorlog. Ons sou vyandskap, en agterdog, en wraak kon aanstook. Ons sou ons gemeenskap – ook in die kerk – stadig maar seker daarmee kon vergiftig. Ons sou wapens kon opneem. Maar ons hoef nie. Ons kan vry wees van die geweldsiklusse waarin wraak en vyandskap ons inbind. Christus, die Vredevors, neem alle haat en hoon en wraak op Homself; en deurbreek en onderbreek daarmee nie net ons vyandskap met God nie, maar ook ons vyandskap met mekaar.

’n Bekende Amerikaanse spirituele lied se refrein lui: “I’m gonna study war no more” (’n verwysing na Jesaja 2:2-4). Om te pendel in liefde en genade vra dat ons sekere goed afleer, soos om oorlog te maak en wraak te neem. Let us study war no more.

▶ Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.