Plaasmoorde: ‘Heer, wees ons genadig’

‘Heer, wees ons genadig.’

Só het die moderatuur en ringvoorsitters van die Noordelike Sinode hulle Zoom-vergadering oor die onlangse gebeure op Senekal en ander voorbeelde van plaasaanvalle op 21 Oktober met gebed afgesluit.

Die moderatuur skryf in ’n pastorale brief aan predikante in die streeksinode dat daar in die stad sowel as op die platteland ’n “diepe besorgdheid oor plaasmoorde, asook oor die onaanvaarbare vlakke van misdaad, geweld en korrupsie” is. Hulle het predikante aangemoedig om as geloofsfamilie sonder huiwering mekaar se hande oor kerk- en kultuurgrense te vat.

In die brief erken die moderatuur dat die werklikheid van plaasmoorde met “onsekerheid, pyn, frustrasies en gevoelens van magteloosheid” gepaard gaan, maar moedig predikante aan “om versigtig te wees vir kitsantwoorde en ondeurdagte optrede”, het die moderatuur geskryf.

Intussen het ’n ontledingstuk wat die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode in Julie vanjaar in sy privaathoedanigheid oor plaasmoorde geskryf het, sommige gemeentes die harnas ingejaag.

Die Ring van Louis Trichardt het in ’n verklaring van meer as 1 000 woorde onder meer ds Nelis Janse van Rensburg se Netwerk24-artikel as ’n verleentheid bestempel.

“(Voorheen) is die eiesoortige karakter van plaasmoorde deur die kerk doelbewus doodgeswyg met die misplaasde opvatting dat plaasmoorde ‘gewone misdaad’ is,” luidens die verklaring wat ds Petrus Kriel, predikant by die NG gemeente Levubu en ringskommissievoorsitter, op 13 Oktober namens die ring versprei het. Die ring se reaksie het gevolg op die moord op die plaasbestuurder Bredin Horner van Paul Roux wat intussen geweld en betogings in die Senekal-omgewing ontlok het.

Janse van Rensburg se skrywe is op 28 Julie 2020 op Netwerk24 onder die titel “Tragedie op die platteland” in die STEMME-afdeling van die nuuswerf gepubliseer.

Janse van Rensburg het destyds in die artikel geskryf dat die regering die kwessie (van plaasmoorde) “verpolitiseer” het. “Om watter belangrike rede sal ’n regering geen openbare geluid oor so ’n algemene misdadige en wreedaardige verskynsel maak nie anders as om politieke redes?” het Janse van Rensburg geskryf. “Is hier dalk ’n onderliggende verwarring by die regering dat hy nie gelyktydig ’n beleid van grondhervorming en ’n fokus om boere te beskerm kan hê nie? Die vraag suggereer ’n reuse- morele dilemma waarvan ek geen regering graag sou wou beskuldig nie. Maar ’n mens begin desperaat soek na die redes vir die swye. Pres Cyril Ramaphosa het wel verlede week op sy imbizo op ’n vraag gereageer en aangedui dat hy bekommerd is oor plaasaanvalle en -moorde. Maar toe het hy weer voortgegaan met veralgemenings oor geweld en moord. Die president se betrokkenheid móét meer behels as net ’n terloopse opmerking.”

Kriel en kollegas reageer as volg: “Die Ring van Louis Trichardt het reeds op 6 Maart 2006 plaasmoorde aangespreek as strukturele verontmensliking van die landbougemeenskap in ’n amptelike verklaring. Strukturele verontmensliking vind plaas deur die regering, besighede, gemeenskappe en kerke wat landbouers uitmaak as mense wat hulle plase onwettig beset teenoor die regmatige eienaars. Daardeur is landbouers openbaar gebrandmerk as kriminele wat nie met die reg van die staat, die gemenereg of die kerk se geloof op hulle eienaarskap kan aanspraak maak, of om só gerespekteer te word nie. In hierdie karaktermoord het die regering, besighede, gemeenskappe en kerke, wat die NG Kerk insluit, tot nou toe lustig meegedoen.”

 Lees die volledige verklaring en pastorale brief hieronder.

Lees Nelis Janse van Rensburg se artikel hier


Pastorale brief uit Noordelike Sinode

AAN AL DIE PREDIKANTE VAN DIE NOORDELIKE SINODE

Kollega, ons het die afgelope week aan jou en jou gemeente gedink. In die lig van die gebeure in die afgelope tyd op Senekal, sowel as verskeie ander voorbeelde van plaasaanvalle, onder andere op Dendron, het die moderatuur en die ringsvoorsitters ’n Zoom-gesprek op Woensdag 21 Oktober gehou. Na aanleiding van die gesprek deel ons graag die volgende met jou:

  1. Hoewel die konteks grootliks verskil, ervaar sowel die platteland as die stad ’n diepe besorgdheid oor plaasmoorde, asook oor die onaanvaarbare vlakke van misdaad, geweld en korrupsie in alle dele van ons land.
  2. Die Noordelike Sinode wil as geloofsfamilie graag haar opregte meelewing betuig met almal wat op een of ander manier hierdeur geraak word.
  3. Die onsekerheid, pyn, frustrasies en gevoelens van magteloosheid wat hiermee gepaard gaan, is ’n werklikheid wat ons nie durf gering skat nie.
  4. Die komplekse aard hiervan maan ons almal om versigtig te wees vir kitsantwoorde en ondeurdagte optrede. Hierteenoor wil ons ons opnuut verbind om met inagneming van ons eie gebrokenheid, ons uiterste bes te doen om met begrip te luister en om te gee.
  5. Ons het baie groot waardering vir dit wat gemeentes doen om hulle lidmate te ondersteun en deel te wees van oplossings. Wanneer jy as dominee praat en doen, is jy die stem en hande van die kerk op die grond.
  6. Ons as geloofsfamilie in die Noordelike Sinode het mekaar nodig en moet sonder huiwering mekaar se hande vat. Dit is ook noodsaaklik dat ons dit oor kerk- en kultuurgrense heen sal doen.
  7. Die moderatuur is beskikbaar om te luister, teenwoordig te wees en te help waar ons kan.
  8. Kom ons hou aan om vir mekaar en vir ons land te bid. Ons het daarom aan die einde van die Zoom-gesprek die volgende gebed vir jou en al jou mense gebid:

“Hoor ons bid, o Heer, vir ons land en al sy mense. Ons is ontsteld oor die geweld en gebrek aan respek vir lewe wat ons oral rondom ons sien. Ons hart gaan uit na mense wat op plase woon en werk. Ons weet dat hulle kwesbaar is en selfs weerloos voel. Ons dank U vir gemeentes wat met woord en daad meeleef met mense wat swaarkry. Ons dank U dat ons mekaar het. Ons bid vir wysheid en onderskeidingsvermoë. Laat wat ons dink en doen, u koninkryk laat kom. Heer, wees ons genadig. Amen. Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, met jou wees!”

Groete, DIE MODERATUUR


PERSVERKLARING

DIE NG RING VAN LOUIS TRICHARDT OOR DIE DREIGENDE GEWAPENDE EN GEWELDDADIGE VERSET OOR PLAASMOORDE

  1. Die Ring spreek sy teleurstelling uit oor die verleentheid wat uit die kring van die Algemene Sinode se Moderatuur (ASM) nou vir ons veroorsaak word met uitsprake oor plaasmoorde, en die huidige verset oor plaasmoorde, na die moord op die jong boer, Bredin Horner van Paul Roux.
  1. Uit die kring van die ASM is daar ’n uitspraak teen die president van die land gemaak dat hy in ’n morele dilemma oor plaasmoorde sou wees, terwyl in hierdie uitspraak dit die eerste keer was dat uit die kring van die ASM erken is dat party plaasmoorde ’n eiesoortige karakter, anders as gewone misdaad sou hê (Beeld 28.07.2020). Voor dit is die eiesoortige karakter van plaasmoorde deur die kerk doelbewus doodgeswyg met die misplaasde opvatting dat plaasmoorde “gewone misdaad” is. In dieselfde verklaring word die president beskuldig van “ontkenning deur veralgemenings”. Nou is daar sopas weer uit die kring van die ASM die standpunt gestel dat die meeste plaasmoorde gewone misdaad is, maar dat party uit rassewoede plaasvind.
  1. Hierdie onbeholpe morele standpunte uit die kring van die ASM, dat die eiesoortigheid van plaasmoorde rassewoede is, is werklik misplaas en gevaarlik vir die landbougemeenskap en die hele land.

Dit is net so goed soos om bendegeweld, taxigeweld, stamgeweld, die munisipale geweld in landelike gebiede en die geweld van studente-opstande toe te skryf aan rassewoede. Hierdie misplaasde morele oordeel wys op hoe hierdie saak tot nou binne die kring van die ASM self ontken en vermy is. Iets waarvan die president van ons land nou goedsmoeds uit hierdie kring voor verwyt word.

Om die werklike eiesoortigheid van plaasmoorde as rassewoede te veralgemeen is presies net die tipe ontkenning waarvan die ASM nou die president beskuldig. Hierdie veralgemening uit die kring van die ASM vuur rassisme aan en spreek nie die werklike probleem van plaasmoorde aan nie.

  1. Die Ring van Louis Trichardt het reeds op 6 Maart 2006 plaasmoorde aangespreek as strukturele verontmensliking van die landbougemeenskap in ’n amptelike verklaring. (Sien “Strukturele verontmensliking en plaasaanvalle” op die webblad ngkerklevubu.co.za onder die opskrif “Brandpunte”.) Strukturele verontmensliking vind plaas deur die regering, besighede, gemeenskappe en kerke wat landbouers uitmaak as mense wat hulle plase onwettig beset teenoor die regmatige eienaars. Daardeur word landbouers openbaar gebrandmerk as kriminele wat nie met die reg van die staat, die gemenereg of die kerk se geloof op hulle eienaarskap kan aanspraak maak, of om só gerespekteer te word nie. In hierdie karaktermoord het die regering, besighede, gemeenskappe en kerke, wat die NG Kerk insluit, tot nou toe lustig meegedoen. Nog onlangs is daar uit die kring van die ASM die suggestie gemaak dat die landbouers moet saamwerk as deel van burgerlike versoening met die onteiening van hulle plase sonder vergoeding deur die regering.
  1. Dit is deur hierdie karaktermoord uit alle kringe dat kriminele hulle self nou die reg toeëien om plaasmoorde te pleeg as ’n vorm van regstellende aksie. In hulle misdaad volvoer hulle die karaktermoord wat reeds op boere gepleeg is deur die regering, besighede en kerke.

Die landbouers se onmag teenoor hierdie karaktermoord, word gedemonstreer deur wrede mishandeling en die uitstalling van hulle lyke as onwettige en moedswillige grondbesetters. Die regering, gemeenskappe en kerke kan dít egter nie só erken nie, want dan moet hulle met hulle eie grypsug en misplaasde versoeningsbeelde ophou.

Die ring het reeds sedert 2006 probeer om die NG Kerk oor hulle misplaasde morele standpunt aan te spreek en leiding te gee. Dit is in amptelike vergaderings van die NG Kerk doodgeswyg met die opvatting dat plaasmoorde gewone misdaad is en geen eiesoortigheid wys nie.

Om hierdie strukturele verontmensliking en verontregting nou weer te ontken deur te maak asof die eiesoortigheid in rassewoede gesetel is, is ’n manier waarop die ASM hulleself verontskuldig. Dit is nie die morele leiding wat hulle aan die gemeenskap moet gee nie. Dit regverdig net hulle vooropgesette beeld om deur versoening rassisme te wil fasiliteer terwyl hulle self oorsaaklik aan die karaktermoord op landbouers is.

  1. Ons as ring is net so teleurgesteld in die wyse waarop uit die kring van die ASM nou skielik op die geweld op Senekal ingespeel word asof dit ’n geleentheid is om georganiseerde verset teen plaasmoorde en korrupsie te begin.

Hiermee sanksioneer hulle die waanbeeld van verset wat nou aangevuur word en spreek weer nie die werklike morele probleem aan nie, terwyl hulle ook geen leiding gee oor hoe Bybelse verset moet lyk nie. Die Ring van Louis Trichardt het reeds sedert 1997 leiding gegee vir die vorming van die Noordelike Sinode se amptelike beleid oor gereformeerde verset van 17 Oktober 2008.

Die waanbeeld is dat mense uit alle kringe nou ’n gedramatiseerde veldslag op Senekal fantaseer en organiseer, met sentimente van Bloedrivier en ander oorwinnings. Vir hierdie geromantiseerde veldslag moet mense hulleself nou as offers aanmeld om deur anonieme leiers op selfone in slagordes opgestel te word. Hierdie godsdienstig-politieke drama sal werklike effektiewe verset teen die regering oneindige skade aandoen.

Verset teen die regering is ’n godsdienstige plig wat oor jare en dekades volgens vaste waardes uitgevoer moet word. Dit is nie godsdienstige dramas wat kragdadigheid vertoon nie. Om ’n Bloukrans vir mense op Senekal te organiseer wat ’n Bloedrivier fantaseer, is net so koelbloedig soos om ’n plaasmoord te pleeg.

  1. As ring onderneem ons dat ons, soos ons dit sedert 2006 reeds doen, steeds ons lidmate sal lei om die eiesoortige karaktermoord waarmee openbare instellings hulle die slagoffers van kriminele maak, aan te spreek, en saam met hulle onsself teen hierdie bloeddorstigheid sal beveilig en sal verweer.

Ons onderneem ook dat ons, soos ons dit al sedert 2006 doen, ons volgens die waardes van ons gereformeerde geloof teen die regering se kleptokrasie en onderdrukking sal verset. Dit sal ons met passiewe verset doen, en wanneer dit ’n kollektiewe verantwoordbare onderneming van die gemeenskap is, dit ook met verantwoordbare aktiewe verset doen.

Dit sal ons in samewerking met die Noordelike Sinode van die NG Kerk probeer doen om buite die huidige disfunksionele moraliteit uit die kring van die ASM van die NG Kerk en opportunistiese anargiste te bly.

Die NG Kerk Ring van Louis Trichardt
13.10.2020
Ingestuur deur Petrus Kriel, Ringskommissievoorsitter.