Strategiese leiers is van nature môre-mense

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In hierdie sesde (voorlaaste) artikel in ons Pauliniese leierskapreeks, trek ons die vierde laai van die apostel se leierskapkabinet oop. Dit handel oor leiers se algemene sowel as meer spesifieke strategiese funksies. As strategiese voorlopers funksioneer leiers as die menslike koppelvlak (interface) tussen die hede en die toekoms. Paulus beskryf hierdie rigting­ge­wende, strategiese leierskapgawes met behulp van twee Griekse woorde in Romeine 12:8 en 1 Korintiërs 12:28, naamlik “proistamenos” en “kuber­nesis.”

Strategiese leiers is van nature môre-mense; hulle is spontaan meer gefokus op die toekoms as die verlede of die hede. Hulle leun vorentoe, in die toekoms in, en staan as ’t ware gewoonlik alreeds met een voet in die toekoms, vanwaar hulle die landskap beskou. Omdat strategiese leiers hierdie vermoë het, dien hulle as die koppelvlak met die toekoms en kan hulle hulle organisasies effektief die onbekende inlei. Hierdie is baie duidelik ’n krities belangrike funksie wat ongelukkig relatief skaars is en boonop dikwels misverstaan word deur hulle meer praktiese, verandering- en risi­ko-weerstandige kollegas.

Paulus het ook hierdie strate­giese, toekomsgerigte oriën­tasie gehandhaaf; “… maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Fil 3:13).” Strategie­se leiers leef in die sirkel van helderheid. Dit stel hulle in staat om die wêreld, sowel as hulle eie plek daarin, vir hulle mense te ver­duidelik. Daarom gebruik hulle visie so effektief om mense te inspireer tot hoër hoogtes. In 1 Korintiërs 15 skilder die apostel op dramatiese wyse, met kragtige, kleur­volle kwashale, die “geheimenis” van die toekoms wat hy so helder kon sien. By die laaste trompet sal die dooies opgewek word; sal die lewendes in ’n oogwink transformeer van sterflik tot onsterflik; sal die dood sélf sterf; die sonde finaal vernie­tig word en ’n glans­ryke ewigheid uit­eindelik aanbreek vir ’n sugtende mens en skepping!

Maar Paulus was ook ’n praktiese leier wat dag-tot-dag sake kon be­stuur, soos dui­delik blyk uit byvoorbeeld sy reë­lings rondom sy me­de­­werkers, sy eie reis­reëlings en die kol­lekte vir die ver­arm­de, sukke­len­de kerk in Jerusalem. ’n Kol­lekte wat al meer toegeneem het in kompleksiteit en omvang, tot­dat dit uiteindelik veel van die apostel se organisatoriese vermoëns gevra het.

Opsommenderwys kan ’n leier se algemene hoëvlak-take in vier makro­kategorieë verdeel word; (1) die taak self, wat daaglikse bestuursverantwoordelikhede insluit; (2) die span wat gelei moet word, (3) die leier se persoonlike selfsorg; en (4) die leier se stra­tegiese, visioenêre funksie, soos hierbo beskryf. Natuurlik kan alle leiers nie hierdie vier hooftake met ewe veel vernuf uitvoer nie – sommige sal spesialiseer in strategiese funksies, terwyl ander fokus op die span en die versorging van menslike hulpbronne. Dan is daar gelukkig ook leiers wat heelwat beter is met administrasie en bestuur as hulle kollegas. Wat wel saak maak is dat ons hierdie verskeidenheid van gawes in ons organisasies raaksien, vier én aanwend in diens van ons gesamentlike visie. Paulus se pleidooi is steeds baie relevant in ons dag; “… maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe (Fil 2:2).” Sy bekende liggaam-metafoor dien as ’n verdere grafiese waarskuwing; faal ons as leiers hierin, mis ons God se plan en saboteer ons ons eie roeping.

  • Dr Jurie Vermeulen is nasionale direkteur van FEBA Radio SA. Besoek www.febaradio.co.za vir meer inligting.