Digiklesia: Konneksie gaan kombinasie van oud en nuut vra

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Daar is 7,5 miljard mense op aar­de. Van hulle gebruik 4 miljard die internet. Dan is 3,4 miljard aktiewe gebruikers van sosiale media. Die wêreld waarin ons leef het ’n digitale gemeenskap geword waarvan Suid-Afrikaanse gelowiges deel is. Nou meer as ooit is kerke bewus daarvan dat gelowiges ook hier bedien moet word en dat die plaaslike kerk dit kán en moet doen.

Maar waar doen ons dit? Wat is die beste manier om ’n konneksie te maak met iemand in hierdie digitale wêreld? Ons opsies is groot: Facebook, YouTube, Instagram, ChurchOnline, Kieskerk, ’n web­blad, ’n toep … watter platform is die beste een vir aanlynbedienings? Die antwoord is: almal. En dan nog ’n paar!

Daarmee bedoel ek nie dat elke gemeente al hierdie platforms moet bestorm en meesters word van al wat sosiale media is nie. Wat wel nodig is, is ’n deeglike kombinasie van maniere waarop ons hande uitreik na mekaar. Dit sluit in nuwe en ou tegnologie.

By verre die grootste en maklikste platforms om te gebruik om jou ere­dienste by lidmate te kry is Youtube en Facebook. En dit is natuurlik gratis ook! Maar nadat jou gemeente se erediens uitgesaai is, wat dan? Dit is ’n manier om ’n erediens te deel met iemand, maar dit is nie konneksie nie en moenie ’n fout maak nie – konneksie is waaroor dit gaan, nie hoeveel mense na jou uitsending loer nie. Om werklik aanlyn te bedien moet ons meer doen as kykers wen, ons moet verhoudings bou met mekaar.

Daarvoor benodig ons interaksie. As jy ’n bedieningsleier is moedig mense aan om te groet, kommentaar te lewer, vrae te vra. As jy ’n lidmaat is, doen dit asseblief. Vra. Comment. Groet. Dit help om die uitsending in ’n ontmoe­ting te verander. Dit gaan meer as net een of twee digitale platforms neem om verhoudings te kweek. Daarvoor het ons nodig om al die roetes tot ons be­skikking te gebruik. Reg oor die wêreld rapporteer kerke groot sukses met ’n kombinasie van kommunikasiekanale soos uitsendings wat opgevolg word met ander korter aanlynboodskappe. Gevolg deur e-posse aan lidmate en natuurlik WhatsApp-boodskappe.

Gemeentes moet veral fokus op hoe hulle mees “ontegnologiese” lede bereik word. Een van die kragtigste mediums hiervoor is ’n groep leiers wat lidmate bel. Ja, regtig bel en ’n telefoongesprek voer. Jy kan nie oorskat wat daardie oproep beteken vir lidmate wat nie aanlyn is nie. Of die wat aanlyn is, maar deur ’n moeilike tyd gaan.

Maar ons kan nog verder gaan. Nog nader aan mekaar. Ons respekteer mekaar se ruimte en veiligheid, veral kwesbare lidmate s’n, so ’n koffie in die sitkamer is dalk nog buite die kwessie. Stuur dan ’n SMS en laat weet dat daar iets in hulle posbus is. ’n Briefie wat lees: “Sterkte. Dink aan jou.” Nou is ons besig om verhoudings te bou!

Juis die aanlyn-aard van ons digitale wêreld maak dit so maklik om mense op ander maniere te bereik: Ek kan hier waar ek nou sit binne ’n paar minute ’n warm beker koffie (of ’n bottel wyn) laat aflewer by die huis van iemand wat in Nieu-Seeland kyk na ons aanlyndienste. Op so ’n manier raak ons amper aan mekaar op tasbare maniere. Of ek kan aanlyninkopies doen en dit by iemand wat swaar trek se huis laat aflewer. Die moontlikhede is so wyd soos jou verbeelding en jou gemeente se gewilligheid om uit te reik na mekaar en ’n wêreldwye gemeenskap.

Die eerste Digiklesia-webinaar was ses gesprekke wat fokus op die geleent­hede en uitdagings van aanlynbedie­ning. Hierdie gesprekke is gratis beskikbaar en ons deel dit graag met jou. Kliek hier.

  • Ds Francois Lamprecht is ’n leraar by die NG gemeente Pellissier in Bloemfontein.