Jy swot wat? Ontmoet Ryno Els

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Etiese leierskap in Suid-Afrika en die kerk

In dr Ryno Els se proefskrif getiteld “A leadership development model to enhance ethical governance in South Africa” spreek hy sy twee grootste passies, “leierskap” en “Suid-Afrika”, aan. Die mislukking van leierskap en die korrupte kultuur wat na die grond­vlak van die samelewing deursyfer, bekommer hom en dít was die dryfkrag agter sy PhD.

Vanuit Els se navorsing identifiseer hy drie faktore wat aangespreek moet word om etiese leierskap te bevorder. Die eerste noem hy strafbare verantwoordbaarheid waar daar eienaarskap van onetiese gedrag geneem word. Dat hierdie verantwoordbaarheid strafbaar moet wees, is vir hom ’n kernpunt aan­gesien geregtigheid nie net vra dat mense op die naam genoem word nie, maar dat hulle ook die gevolge vir hulle aksies moet dra. Tweedens moet die belang van aandeelhouers (“stakeholders”) bevorder word deur deursigtigheid wat gebou word op oop kommunikasie en eerbaarheid. Laastens beklemtoon Els die belang van ’n regulerende omge­wing wat organisasies en individue lei tot die nakoming van etiese gedrag.

LEES OOK: Jy swot wat? Ontmoet Cobus van Wyngaard

Etiese verandering vra egter meer as net ’n lysie van vereistes waaraan voldoen moet word. Waarlike etiese verandering, vertel Els aan Kerkbode, moet met die interne kultuur en identiteit van ’n organisasie geïntegreer wees.

Sy verhandeling lei op die einde tot die daarstel van ’n model vir ’n etiese si­klus. Dit is ’n siklus wat gebore word vanuit moed om aksie te neem en ’n kultuur te verander. Slegs vanuit hierdie moed kan daar oorbeweeg word na die eliminasie van onetiese toksiese gedrag en leiers. Sy siklus is een wat beklemtoon dat ’n mens nooit gearriveer het nie en dat hoof- uitvoerende beamptes opgeroep word om hoof- herinneringsbeamptes te wees wat ander daaraan herinner om (vanuit hulle geloof en waardes) aan etiese leierskap deel te neem. Dít is hoe hy sy rol in die gemeente sien.

Els berou die land se gebrek aan diens­kneg-leierskap soos dit deur Jesus vergestalt is en hy hunker na ’n land waar die drie beginsels waarop sy studie bou, nie net in staatsredes genoem word nie, maar in die praktyk beoefen word. Sy oproep tot die leierskap is dat hulle korrupsie met dieselfde aggressiwiteit sal benader as wat hulle Covid-19 oor die afgelope sewe maande benader het.

Onetiese leierskap en korrupsie is ongelukkig nie beperk tot nie-kerklike sfere nie. Dit het juis onlangs aan die lig gekom dat ’n individu in die Wes-Kaapse sinode fondse wanbestuur het. Met deernis spreek Els sy trots uit oor hoe die kerk dit tot op hede hanteer het: dat hulle dit deursigtig gekommunikeer het en dat hulle op ’n grondwetlike vlak die persoon verantwoordbaar wil hou. Hierdie gebeure dien volgens hom as herinnering dat die kerk ook gereeld haarself moet ondersoek en die boodskap van etiese leierskap eers moet leef en dán preek.

Op die ou einde wil Els deur sy proefskrif en sy rol as predikant mense herinner dat hulle hande nie afgekap is nie. Etiese leierskap begin met die leiding van die self, voordat dit oorvloei na die leiding van ander, organisasies en uiteindelik die wêreld. En dit is hierdeur dat die samelewing kan fiks word in etiese leierskap en gedrag.

  • Dr Ryno Els is predikant by die NG gemeente Toringkerk in die Paarl. Hy het sy PhD in 2018 aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Vir meer inligting oor sy PhD kan hy by rynojels@gmail.com gekontak word.

Marileen Steyn is tentmakerleraar van NG Saldanha met ’n spesifieke fokus op jeugbediening.