Christenleiers se ‘super-krag’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ons het waarskynlik almal al die Marvel-films gesien; wemelend van indrukwekkende hel­de met super-kragte wat die hul­pelose mensdom van bomenslike boos­wigte bevry. In hierdie artikel gaan ons fokus op die geheime “super-krag” wat Christen-leierskap aandryf. Leiers lei men­se; inspireer mense om te doen wat hulle normaalweg nie sou doen nie. Effektiewe leiers het verder die ver­moë om sensitiewe kwessies, langstaande probleme, dreigende konflik en potensiële pyn te ontlont en groter begrip en harmonie te bou – of dit tussen hulleself en iemand anders is, of in spanverband.

Leiers word voortdurend geko­nfron­teer met netelige situasies; werknemers ignoreer maatskappyregulasies; beskadig toerusting; verloor mo­ti­vering, rebelleer teen gesag, of openbaar ’n negatiewe gesindheid wat die span benadeel. Alle kerkleiers is terdeë bewus van die uitdagings wat kerkkantore, kollegas, kerkrade en gemeentelede deurlopend aan hulle stel. Watter geheime vermoë stel effektiewe leiers in staat om al hierdie komplekse situasies gereeld suksesvol te hanteer?

Paulus skryf met groot passie oor hierdie geheime krag – om die waarheid te sê, dit is ingesluit in die be­te­kenis van sy gunsteling bedienings­woor­de. “Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars (Grieks: ‘diakonoi’) deur wie julle tot geloof gekom het …” (1 Kor 3:5). Paulus voeg hierby ook “dou­los”, ’n algemene huis­kneg of -slaaf. Pau­lus se keuse van terme is betekenisvol – hy kon maklik baie meer indrukwek­ken­de ti­­tels vir homself ge­kies het! Hy was immers omring met “argoi”, “teloi”, “kurioi” en “euergetai” – wê­reldse leiers van reputasie wat die mag- en geldspel van hierdie titels volkome verstaan en benut het!

Maar, waar sou Paulus dan aan sy vreemde leierskaptitels gekom het? Skynbaar van Jesus wat gesê het: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien (diakoneo) …” (Matt 20:28). Waarom sê ons dat hierdie titels as ’t ware, die “super-krag” van Pauliniese leiers is? Omdat dit ’n baie kragtige, transformerende gesindheid beskryf; ’n super-krag wat niemand kan beveg of bevraagteken nie. Die ingesteldheid van leiers bepaal immers alles wat hulle verder doen; van bid, bespreek en beplan, tot kantoorkultuur, kwaliteitbeheer en konflikbestuur. Leiers wat dien, bou ’n kragtige kultuur van diep vertroue, we­dersydse respek, deur­sig­tige integri­teit en beginselvaste reg­ver­dig­heid. Hulle word nie deur hulle innerlike idioot; hulle opgeblase ego, aangedryf nie, maar deur liefde. Christenleiers word ook nie gewoon aangestel in posisies nie, hulle word geroep tot diens.

DIENS is Pauliniese leiers se super-krag, omdat hulle werklik net die beste vir hulle werknemers en organisasies wil hê – en, baie belangrik; almal om hulle weet dit; dit is sigbaar! Sulke leiers is altyd bewus van die feit dat hulle eerstens geroep is om mense te lei. Hulle bou verhoudings, skep gemeenskap, bou ander op, fasiliteer ge­nesing, modelleer empatie, luister na ander en stimuleer transformasie. Ons leierskapdefinisie in die tweede artikel van hierdie reeks het ons daaraan herinner dat egte “Pauliniese leiers dinge máák gebeur, op effektiewe wyse, deur hulpbronne, mense en konteks optimaal te sinkroniseer met God se doel­witte vir hulle.” Hierby kan ons voeg, “… terwyl hulle ander selfloos dien.” Doelwitte word slegs bereik deur men­se, en mense kies vandag nog steeds of hulle leiers gaan volg of nie. En, of werknemers werklik volg, is gewoonlik baie sigbaar in passie, positiwiteit en produktiwiteit. Lyk vir my daar steek tog ’n bietjie waarheid in die gedagte dat ons leiers gewoonlik die volgelinge het wat hulle verdien?

  • Dr Jurie Vermeulen is nasionale direkteur van FEBA Radio SA. Besoek www.febaradio.co.za vir meer inligting.