Middernaggedagtes oor die presidentsverkiesing

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

4 November. Dis net ná drie in die oggend. Kan nie slaap nie. Oor die TV word die eerste uitslae van die Amerikaanse presidentsverkiesing aangekondig: President Trump loop voor.

 Ek wil nie hȇ hy moet weer wen nie. Nie dat Joe Biden, sy teenstander, ’n mens juis opgewonde maak nie. Ek wonder maar wat soveel ander mense wonder: In Amerika woon rofweg 328 miljoen mense, kan dit die bekwaamste twee leiers in dié land wees?

 Aan die ander kant: Ons is meer as 50 miljoen mense in Suid-Afrika en, wel … Miskien was oorlede Ma reg. Sy het dikwels uit die Psalmboek aangehaal wanneer ons oor die politiek gesels het: “Moet op prinse nie vertrou nie, by wie niemand heil kan vind …”

Eintlik behoort ek die TV af te skakel en te gaan slaap. Beïnvloed wat in Amerika gebeur ons hier in Suid-Afrika regtig soveel?

 Trump het hom al op Twitter uitgespreek teen die plaasmoorde hier by ons, wat party mense laat glo hy het ’n sagte plekkie vir ons Afrikaners in sy hart.

Sedert hy in 2017 president geword het, het hy al meer as twintigduisend twiets afgevuur oor enigiets van bofbal tot die oorlog in Sirië. President Trump is beslis nie lui nie. Ek wonder hoeveel uur per nag slaap hy. Hy drink glo tot twaalf blikkies Diet Coke per dag. Op ’n warm dag kan ek net so drie of vier blikkies Coke Lite drink.

 Ek dink aan allerhande banale dinge wanneer ek aan president Trump dink, sonder dat ek dit regtig wil dink. Ek wonder oor sy hare. Hy kan nie gou voor ’n spieël gaan staan, ’n kam uit sy baadjie se binnesak haal, dit deur sy kuif trek, en dan is als weer reg hier bo nie. Die man het weerbarstige hare.

Dit kan nie lekker wees nie: Hier moet jy die wȇreld se media te woord staan oor ’n missielkrisis in Noord-Korea, maar eers moet ’n assistent gou met ’n borsel en haarsproei kom om jou dos waterpas te maak. En moontlik gebeur dit só.

Ek voel ’n bietjie skuldig omdat ek sulke simpel dinge oor die president van die magtigste land in die wȇreld dink. Hy is ’n Christen en gaan soms kerk toe. Hy is lief vir sy vrou en kinders, en hulle vir hom. Hy was ’n baie-baie suksesvolle sakeman, al was hy ’n keer bankrot ook, en is hierdie mev Trump sy derde vrou.

Miskien is dit omdat meneer Trump eers ook die aanbieder van die werklikheidsreeks, The Apprentice, op TV was voor hy die president van Amerika geword het. Dit maak dit moeilik om slegs waardige, presidensiële gedagtes oor hom te hȇ.

Ek wonder hoe dit moet wees om vir hom in die Withuis te werk. Hy dank maklik mense af. Dit het jy al in die TV-reeks gesien. Hy sȇ net: “You’re fired,” en daar gaan jy.

Miskien is hy soos die baas wat ek op ’n kol gehad het. Dra hy die dag ’n rooi das, sȇ almal op kantoor: “Oooeee, vandag moet ons pasop, Meneer dra sy rooi das.”

Daardie man, ons baas, se buie het jou daaglikse gemoedstemming bepaal. Is hy die dag opgewek, is ons ook vrolik. Is hy knorrig, is ons stiller as gewoonlik en onseker van onsself. Jy het altyd probeer om hom tevrede te stel, al het jy niks van hom gehou nie. Jy het vir sy simpel grappies gelag. Jy was kruiperig by hom, reg meneer, goed meneer, ek maak so meneer; en ná die tyd wonder jy: Hoekom doen ek dit? Hierdie is ’n buffelagtige man wat soveel mense sielsongelukkig maak, ook vir my.

Of dalk is Trump nie só ’n baas nie. Hy speel graag gholf en hou van Frank Sinatra se liedjies. Sy pa was glo ’n baie kwaai man. Sy ouer broer het homself glo eintlik maar doodgedrink. Dit is glo vir Trump ’n hartseer saak. Ek kan my dit indink.

Ek probeer president Trump vir myself op allerhande maniere vermenslik, maar ek weet net soveel as die meeste ander mense van hom af. Ek probeer moedig om hom nie te veroordeel nie. Jy lees oor hom of hou hom op die TV dop, en dink jy weet alles van hom af. Hy rook nie, en drink glo niks sterker as Diet Coke nie. Dis baie meer as wat ek kan sȇ.

Om president van Amerika te wees, is – om dit liggies te stel – ’n baie verantwoordelike werk. ’n Mens kan jou dit nie indink nie. Jy het letterlik die vermoë om die hele wȇreld te vernietig.

Sommige mense sȇ dit sal baie beter vir die Christendom wees as Trump die president van Amerika bly.

In my kop het ek al ’n lys gemaak van die waardes wat Jesus uitgeleef het: Vergewe jou vyande, draai die ander wang, moenie geldgierig wees nie, ontferm jou oor die swakkes en die verdruktes. Hȇ lief. Hȇ lief. En dan kyk ek na president Trump en hoe hy dinge doen, en wonder, en wonder.

Dit is steeds 4 November. Die son is besig om op te kom, die TV is steeds aan, en ek kan steeds nie slaap nie.

Trump is steeds voor, en iewers hoor ek Ma se stem: “Moet op prinse nie vertrou nie …”