Klein venstertjies op God

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Kan God?

Kan God? Kan God my uit hierdie ge­mors help? Uit hierdie penarie? Uit hier­die doodloopstraat?

Dit is die vrae waarmee die volk in ballingskap geworstel het. Kan God ons van hierdie verdrukking en slawer­ny bevry? Is God in staat om ons uit hierdie “dood” te haal? Hy het dan niks gedoen om te verhoed dat die Babiloniërs ons land verower nie. Is Hy bestand teen die gode van Babel? Is Hy regtig sterker en magtiger as die gode van Babel?

In Jesaja 40:12 besweer die Here die volk se twyfel en onsekerheid met skeppingsbeelde: “Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ’n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ’n skaal die berge en die heuwels geweeg?”

Kan God? Ja, Hy kan! Hy is die Onvergelyklike. Die Almagtige. Hy meet die seewater in sy hand af!