Gemeentes skenk ruim aan boere in nood

“Goudland het ’n hart vir boere. Boere was nog altyd Goudland se hart.”

Só sê ds Noël Schreuder, predikant by NG gemeente Peacehaven, oor Goudland Sinode wat die afgelope twee Sondae R265 000 vir boere in nood in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes ingesamel het.

Ds Johan Brink, moderator van Goudland Sinode, sê dit was ’n inisiatief van die Sinodale Bestuurskommissie (SBK) van Goudland na aanleiding van versoeke uit dié sinode. Brink vertel dat die geld wat op Vrydag 6 November aan Agri Noordwes (NW) oorgedra is, aangewend gaan word vir ramphulp vir boere.

Die fondse van die ramphulp word aan boere geskenk wat alles in die onlangse brande verloor het. Die geld word aangewend om voer en verse aan te koop. Geld word ook vir boere in droogtegeteisterde gebiede geskenk. Die fondse word deur die groep van organisasies “Manna vir die Boere” versprei nadat mense op grondvlak die rampgebiede geïdentifiseer het.

Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder by Agri NW, sê dit is ongelooflik dat mense in hierdie moeilike tyd aan mense gee wat in ’n groter krisis as hulleself verkeer. Hy vertel: “Ek kry soveel emosionele oproepe. Die brande was verskriklik, maar ons moet nie vergeet van die boere in die Noord-Kaap en Oos-Kaap wat die afgelope ses tot sewe jaar nie reën gehad het nie,” het Pienaar gesê. 

Gemeente skenk aan Hoopfonds

Ook op gemeentevlak kan gelowiges ’n reuse-impak maak. Die gemeente van NG Proteapark in Rustenburg het as bewys hiervan op 4 November die brandgeteisterde Hertzogville boeregemeenskap met ’n skenking van R195 000 bygestaan. Die gemeente se fondsinsameling het begin met die kerkraad wat met R5 000 die gemeente uitgedaag het om dieselfde te doen, luidens ’n verklaring deur Christel Herbst, die bemarkingsbeampte. “Die gemeente het figuurlik vlam gevat en die skenkings het begin instroom.” 

Die kerk se leraars het toe besluit om self die geld na die Vrystaat toe te neem. Ds Willem Pretorius vertel: “Soos ons die Vrystaat ingery het, so het die geld steeds ingestroom. Teen 13:00 het die bedrag op R145 000 gestaan. Dit is die bedrag wat ons aan ds Hans Griesel oorhandig het. Teen die aand toe ons by die huis kom, het die bedrag steeds geklim.” Donderdag is die bedrag van R195 000 aan die NG Kerk Vrystaat Sinode se Hoopfonds inbetaal, luidens die verklaring. 

“Ons het ryker vanaf Hertzogville teruggekom,” vertel sy medeleraar, ds Deon Strauss: “Die verskil wat ons gemaak het, is weerspieël in die boere se dankbare harte. Ons kon sien dat die boere in daardie omgewing vasberade is om weer uit die as op te staan. En soos baie kere tevore, het die verlies wat die boere ervaar, die land weer saamgesnoer.”