Lekker boekgeskenk vir Kersseisoen

In Glo-stories kry jy twee unieke stemme in een boek. ’n Storieverteller en ’n dominee wat sistematiese teologie doseer.

Twee van Kerkbode se gewildste stemme in ’n medium wat nie so vlie­tend soos die slimfoon of frommelbaar soos die papierkoerant is nie.

Nadia Marais vertel oor haar doel met haar rubriek: “Ek probeer elke keer in ’n positiewe trant skryf. My doktorsgraad het gegaan oor wat dit beteken om te floreer. Dus, wat die goeie nuus is, wat dit beteken om gelukkig te wees … My bedoeling is om (in elke rubriek) te vra waar die flourishing is.”

Dana Snyman lag wanneer hy vertel dat hy weet sommige mense in literêre kringe mag hulle oë rol omdat hy deesdae vir Kerkbode skryf. Soos ’n mu­si­kant wie se loopbaan dalk ’n bietjie in die sand geloop het en nou bring hy skielik ’n gospelalbum uit, skerts Dana. “Maar ek steur my nie daaraan nie, want dit is nie die waarheid nie. Ek wil eintlik maar net stories vertel. Stories is groter as mense … Jesus het stories vertel.”

Die boek verskyn middel-November.

  • Kliek HIER om nou te koop.